Pick ‘n Pay Reklame Sukkel in Afrikaans
Pick ‘n Pay bereik nuwe kreatiewe hoogtes met hulle Afrikaanse reklame. Wat van ‘n “natmaak blikkie” vir ‘n gieter?
Pick ‘n Pay bereik nuwe kreatiewe hoogtes met hulle Afrikaanse reklame. Wat van ‘n “natmaak blikkie” vir ‘n gieter?
Gert Vlok Nel se uitstekende Waarom ek roep na jou vanaand is op YouTube te vind. Die liedjie gaan oor Koos du Plessis, en die aand wat Du Plessis dood is.
Gevind danksy Kameraad Mhambi.
‘n Fees vir filoloë, leksikograwe en ander woordvreters: drie historiese Nederlandse woordeboeke is nou online beskikbaar, met ‘n vierde wat binnekort volg. Die drie wat reeds danksy die Instituut voor Nederlandse Lexicologie beskikbaar is, is:
Die Middelnederlands Woordenboek word volgens die INL in 2009 nog bygevoeg.
Op Google Books is daar ook ‘n paar interessante boeke vir liefhebbers van historiese Nederlands:
Schatkamer der Nederlandsche Oudheden, deur Ludolf Smids (1774)
Ernstighe Teghen-spraeck Aen de Maeght van Hollandt, Vincent van Drielenburch (1617)
Verhandeling over de vlaemsche spelkunst, Pieter Behaegel (1837)
Al drie boeke is ook as PDF beskikbaar.
Die dominee besoek Israel en kom op ‘n skare af.
“Wat gaan hier aan?” vra hy.
“Nee”, sê een ou. “Hier kom nou-nou ‘n trop kamele met kaal meisies op verby.”
“O”, sê die dominee, “Dan wag ek maar – ek het nog nooit ‘n regte kameel gesien nie…”
[Gesteel by Roekeloos.]
Wie sou dit kon dink, Boksburg as internasionale vakansiebestemming! Uit die Boston Openbare Biblioteek se versameling van plakkate wat eksotiese vakansies adverteer kom hierdie juweel, uitgereik deur die Boksburg Munisipaliteit en die SAS&H.
Een ding is seker: as jy nie hou van bloed nie, is Boksburg die verkeerde plek vir ‘n vakansie.
“Die radikale aanslag binne die groep is net so sterk as die radikale aanslag van buite. Miskien sterker en dodeliker.” Etienne Leroux op Twitter.
Die sosiale nuus website Reddit het nou ook ‘n kategorie vir Afrikaans. Artikels oor en in Afrikaans kan hier gedeel word. Die voordeel van Reddit bo soortgelyke websites is dat Reddit se gemeenskap werklik besluit watter artikels na bo dryf en watter artikels sink. Anders as hulle mededingers kan enkele Reddit gebruikers met te veel tyd op hul hande nie die status van artikels maklik manipuleer nie.
Natuurlik, ‘n kategorie soos Reddit Afrikaans kan net werk as mense aktief artikels toevoeg en op- of afstem. So hoekom nie ‘n paar goeie artikels toevoeg nie?
Oor minder as 5 maande is dit presies 20 jaar sedert die skrywer Etienne Leroux permanent na Welgevonden verhuis het. Hy was altyd “with it”, op hoogte van wat aangaan in die breër wêreld buite Koffiefontein. Ek dink graag hy sou vandag in sy studeerkamer agter ‘n rekenaar gesit het, sigaret in die hand en sy Hermes tikmasjien uit die pad geskuif, en sy wysheid met die wêreld gedeel het via Twitter. Volg hom hier.
Ex africa semper aliquid novi. Of nie. ‘n Magistraat in Zimbabwe het die medium Rotina Mavhunga skuldig bevind aan bedrog, na sy senior lede van Robert Mugabe se regering oortuig het sy kan diesel uit ‘n klip laat verskyn. Die geeste van hulle voorvaders sou die mense van Zimbabwe jammer gekry het oor Zimbabwe se tekort aan brandstof, en daarom diesel uit ‘n spesifieke klip in Chinhoyi laat kom. Mavhunga het twee beeste en drie buffels as betaling van die regering gekry, volgens Mugabe. Senior lede van die regering het haar ook ‘n kar, ‘n stuk grond en ‘n reuse bedrag geld gegee.
Polisie wat gevra is om haar te arresteer vir bedrog het aanvanklik geweier, bang vir die bonatuurlike kragte wat sy teen hulle sou kon gebruik. Die Registrateur Generaal van Zimbabwe was waarskynlik betrokke by die bedrog, maar nie een van die ander mamparras betrokke in die saak het ‘n verskoning vir hulle liggelowigheid nie.
Die Afrikaanse weergawe van Firefox 3.5 is hier beskikbaar. As jou ouma online is, is dit die browser wat sy behoort te gebruik. Veilig, stabiel, vinnig, verniet. En as dit goed genoeg is vir jou ouma, is dit sekerlik goed genoeg vir die hele familie.