Jan Rabie Oorlede op 81
Die Vlaamse letterkundige Luc Renders skryf: “Met Rabie breek ‘n tematiese en strukturele revolusie aan wat die Afrikaanse literêre wêreld tot op sy fondamente sal skud”. Rabie se debuutbundel 21 was ‘n waterskeiding in Afrikaans, iets wat in die woorde van sy tydgenoot, vriend en mede-Sestiger André Brink “die loop van die Afrikaanse letterkunde verlê” het.
Jan Sebastian Rabie is op 14 November 1920 op Rondevlei, George gebore, een van vyf seuns. Hy word groot op Stellenbosch, Drakenstein en uiteindelik Riethuiskraal in die Kafferkuilsriviervallei. In 1943 verskyn sy eerste roman, Nog skyn die sterre, ‘n verhaal oor die Groot Trek.
In Maart 1948 vertrek hy op 27-jarige ouderdom na Europa. Vir amper sewe jaar lank is Parys sy basis, waar hy aan die lewe bly deur los werkies doen: hy help die moltreine uitvee na middernag, plak plakkate van middernag tot vyfuur, en poseer selfs vir ‘n nudistetydskrif.
In Parys ontmoet hy ‘n Skotse skilderes met die naam Marjorie Wallace, en word deel van die Boheemse kultuur van Montparnasse. Vakansies verken hy Spanje, Korsika, Italië en Oostenryk. Saam met vriende trotseer hy sneeu en ys en bereik die kruin van Mont Blanc, wat die Franse pers aanspoor om te skryf: “La Boer a le mieux resisté.”
In Parys bevriend hy ook wat hy ‘n “Hollandse kolonie” noem: Corneille, Karel Appel, Hugo Claus, Bert Schierbeek, Lucebert, Simon Vinkenoog, Rudy Kousbroeck. Uys Krige kom kuier vir ‘n naweek en bly vier maande.
Die Franse regering bied hom ‘n beurs om sy doktorale studies aan die Sorbonne te doen, en hy werk aan sy tesis getiteld “Georges Bernanos, écrivain malgré lui”. Maar, “as skrywer Jan Rabie was ek bang vir dr. prof. Rabie”, en die tesis word nooit voltooi nie. Kort voor sy vertrek terug na Suid-Afrika trou Jan Rabie en Marjorie Wallace voor die Britse konsul in Parys. Hy sou vooruit reis, sy volg hom ‘n paar maande later.
Uit sy Europese ervaring kry sy werk Latynse ironie en bondigheid, voel hy. Terug in Suid-Afrika ontwikkel hy ‘n “hartstogtelike Afrikaans-wees, my-taal-wees; as korreksie op Afrikaner-wees, witman-wees.” Hy sê verder: “Al eerbare verdeling wat die wêreld erken, is taal waarvolgens die meeste landsgrense getrek is – nie ras of velkleur nie.”
Die manuskrip vir sy bundel 21 bring hy uit Europa in Engels saam (“sodat my Paryse vriende en natuurlik ook Jorie dit kan lees”). In 1956 verskyn die bundel by Balkema, en “toon al klaar die langsame oorskakeling van surrealistiese mens en wêreld, na Suid-Afrika, na Afrikaner, na realistiese verantwoordelikheid, hier en nou”.
In 1958 verskyn Ons, die afgod, want hy “brand van roepingsbewustheid om alle Afrikaners, ongeag velkleur, bymekaar te sien”. Sy liberale sieninge het hom gou tot persona non grata verdoem in konserwatiewe Afrikaanse kringe, en hy en Marjorie sou leer om te leef van sy skryfwerk en haar skilderkuns.
As een van die Sestiger prosaïste (saam met onder andere Etienne Leroux en André P. Brink) help Rabie om die Afrikaanse literêre landskap revolusionêr te verander. Jan en Marjorie se huis in Onrus word ‘n spilpunt vir ‘n gemeenskap van skrywers en digters: Uys Krige, Etienne Leroux, André P. Brink, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Elsa Joubert, Jack Cope. Die lys is lank en uitgebreid, en die impak op Afrikaans en die Afrikaanse kultuurlewe kan nie hoog genoeg geskat word nie.
Rabie se nalatenskap vir Afrikaans kan saamgevat word in sy eie woorde: “die dringende sosio-politieke krisis in my land het my teen wil en dank gedwing om met minder styl en meer boodskap te probeer skryf. Probeer. Om nie slim literêr, simbolies-algemeen nie, maar duidelik oor die hier-en-nou werklikheid te skryf. En ook, om teen die magtige Engelse mededinger met sy derduisende leesbare boeke ook leesbare boeke in Afrikaans daar te stel.”
Die laaste woorde behoort aan André P. Brink: “As rustelose, wonderende, wonderlike mens het Jan Rabie oor die afgelope halfeeu ‘n profetiese blik en ‘n alledaagse werklikheid versoen. [...] Dankie, Jan. Jou lewe het baie ánder lewens die moeite werd gemaak. Die volle omvang daarvan kan nooit gesê word nie.
Inligting en foto’s grotendeels uit Sestigers in Woord en Beeld: Jan Rabie, © 1986 Perskor.

