‘n Huldeblyk aan Jan Rabie
Die volgende stuk word herdruk met vriendelike toestemming van Fanie Olivier.
Oor ‘n eiland waar ons Westerse beskawing se klipwieg in die see tussen Europa en Afrika gestaan het, het hy in Afrikaans vertel. En lank voor Robbeneiland hoogmode geword het, het hy die wortels van hierdie eiland voor Afrika oopgeskryf.
Jan Rabie het gewéét van eilande, en van die kraaiende konings wat so maklik van hulle mishope maak. Of tronke.
Dis waarom hy, toe almal benoude kniebuigings voor die keiser gemaak het, regop bly staan én boonop in die pragtigste Afrikaans gesê het: jy’s kaal, man.
Of, anders, in die profetiese verhaal “Droogte” uit die bundel Een-en- twintig: “Jy is die see, dink die witman, sonder om verder te praat. Hulle lê die dak. Hulle spyker die laaste plank, die laaste sinkplaat, die swartman buite en die witman binne.”
Toe die volk gedweep het met die nasionalisme, het hy klinies die ewolusie daarvan bekyk en dit daarom na waarde geskat. Toe kritiek van die bestel as onlojaal beskou is, het hy die deugdelikheid van so ‘n kritiese lewenshouding in helder en óóp kort sinne verdedig. Toe materialisme begin het om die afgod te word, het hy sy rug daarop gekeer: sy oë opgeslaan na die berge, skrefie getrek in die soutwind langs die see.
As gevolg van hierdie oortuigings, en die bereidwilligheid om die gevolge daarvan te aanvaar, het Jan min [maar suiwer] vriende gehad. As hy sy eie trompet geblaas het, was dit op ‘n stuk bamboes op Onrus se strand waar niemand anders dit gehoor het nie. [Maar dié wat ore gehad het, sou kon geluister het...]
Omdat hy hy was, en skaamteloos hy was, is hy nooit genooi om aan te sit by tafels kreunend onder byvoordele nie, nooit gevra om geloofwaardigheid en betekenis te verleen aan ‘n geleentheid deur geparadeer te word nie. Saamhurk in die donker het hy verfoei..
“Want infantilisme volg altyd wanneer die intellek oorgee ten einde emosionele sekuriteit te verkry,” skryf Rabie veertig jaar gelede; in die Afrikaans-sprekende gemeenskap “word konformisme nog boonop van owerheidsweë as ‘volksplig’ ingehamer.”
Hoe goed ken ons dit nie vandag in ‘n ander gestalte nie: kritiek is anti-transformasie; anti-transformasie word verraad.
Jan Rabie het konformisme in sy baie gedaantes geminag, konsensus gewantrou; opportunisme van enige aard het hy gehaat, en geweet dat dit altyd sonder beginsels gespel word. Hoe wáár was dit toe nie, en hoe wáár het dit nou weer geword. Laat die wat ore het om te luister, hoor.
Waarskynlik het geen ander skrywer van die laaste vyftig jaar Afrikaans hartstogteliker liefgehad as Jan Rabie nie Sonder dwepery, sonder pretensie, sonder vrees. Ten opsigte van Afrikaans was hy kompromisloos: aardse en eerlike Afrikaans was nooit lui of slaprug- Afrikaans nie. Ook ten opsigte hiervan het hy kiertsregop bly loop in ons taalwêreld.
En verder het hy vir Marjorie Wallace hierheen gebring, van haar Jorie gemaak en ‘n integrale deel van die Suid-Afrikaanse skilderskat.
Wat maak ‘n skrywer ‘n groot skrywer? kan ‘n mens in die lig van baie van die faktore waarna hierbo verwys is, vra. En hoe word ‘n goeie skrywer ‘n groot een?
En waaraan onthou ons dan iemand soos Rabie: Een-en-twintig? Twee standlopers? Polemika? ‘n Haan vir Eloúnda? Ons, die afgod ? Bolandia as ‘n reeks, die gebreke ten spyt? Elkeen van hierdie tekste [uit 'n veel groter oeuvre] het beduidend saamgesels, en verdien om te bly saamgesels.
Afrikaans het verstommend baie goeie skrywers vir ‘n kleinerige taalgemeenskap, en enkele grotes. Juis oor Afrikaans is ook die grotes nie eers altyd internasionaal bekend nie, en juis oor die hartseer aard van ons verkleurde taalgemeenskap word hulle ook nie plaaslik eers na waarde geskat nie.
Dit was Jan Rabie se lot.
Aan die eerste gebrek aan erkenning kan ons nie veel doen nie, maar ten opsigte van die tweede, baie. Iets in die koerante is reeds ‘n begin. Die radio en TV sal help. Die skrywersorganisasies, biblioteke en universiteite het ‘n rol.
Maar dis ons wat vir Jan in ons harte en, veral, ons koppe, moet bêre.
Dankie, ou maat, vir wat jy so onselfsugtig vir ons gegee het. Ek weet daar is berge en branders en Afrikaans waar jy nou met jou astrante kuif in die wind loop.

