“Groen argitek” Etienne Bruwer skryf:
Soos vir elke ander identifiseerbare subgroep, hetsy taalgemeenskap, gemeente of werkgilde, is die wêreld van Afrikaanssprekendes ‘n uitkringende diaspora; ons is almal in die millennium-drumpel. Aan die een kant, binne Suid Afrika word “ons” bewussyn “verower” deur die dawerende aanslag van die wêreldmedia wat ons in ons binnekamers innooi, en aan die ander kant, wyd gesaai in die buiteland, word ons meegesleur in die strominge van ‘n nuwe globale opset, in die smeltkroes van ‘n eerste ware wêreldkultuur-in-wording.
Van die evolusie en uitwaartse migrasie van die sewe oer-rasse uit Atlantis tot en met die industriële rewolusie / empaaier, was ons besig met veroweringskultuur, grense maak en grense oorsteek. Maar nou dat vliegmasjiene maan toe en terug kan pendel, kan ons slegs grense transendeer; en is die kern-dinamo van drewes en strewes eenwording; versmelting tot ‘n super-allooi van alle eienskappe van die mensdom, wêreldburgers wat ter selfbehoud van die geheel nou moet leer om saam te werk. Lourens Van der Post het per geleentheid gesê:
“Al hoe meer loop ek die soort mens raak wat reeds behoort aan ‘n nuwe nasie, ‘n nasie wat op sigself nog nie bestaan nie”. Hierdie “eerste wêreldkultuur” lei ook noodwendig tot indringende soeke na passende, sinvolle definisies – hoe ons onsself sien (ons “plek in die boek” vind), “tuis wees” ondervind (ons plek in die wêreld vind), ons deug vind (werk ek vir of teen die behoud van die geheel?). Die enkeling staan nou in die eerste plek in verhouding tot die wêreld as geheel. Hoe meer en hoe verder ons sprei, onder anderstaliges introu en “elders” ingeburger word, (hoe “verder” ons dus van mekaar af en van die Wortels af is), hoe kleiner word die tussenafstande, …en kleiner die wêreld self…… maar net vir die wie hulself bereid is om “groter” te word! Of ons hierdie omwenteling as identiteits-”bate-of-verlies” gaan ervaar en meemaak, gaan afhang van hoe goed ons kan aanpas, inpas, en indink. Dis ‘n wêreld waarin die aksies van die enkeling / groep / korporasie in een streek, gebied of stad nie meer ongemerk of afgeslote van die geheel plaasvind nie.
Al die kunste en wetenskappe tas na nuwe weë en wyses, nuwe intervalle en verhoudinge, ‘n soeke na die bindweefsel en brûe tussen die eilande waartussen ons swerf, sleutels tot die info-kultuur-in-wording. Hierdie nieu-nomadiese wandelaar-mens, trekker agter werk aan in die globale mark, vir wie “my kinders” ‘n e-posverhouding met iemand in Perth of Toronto mag beteken, wie ewe tuis voel agter die komperskerm as met die graaf in die hand, reis per lug of op land, in die kombuis op die plaas of in ‘n sagteware-laboratorium, het nuwe balanse en perspektiewe nodig. Hoe vinniger en meer gesofistikeerd ons tegnologie, hoe meer is die teenpool van aardse eenvoud ook nodig – as Afrikamense, bly (die beter?) deel van ons ‘n kaalvoetklonkie, ‘n kleilatgooier, ‘n grootwildjagter, kampeerder, storieverteller, gemaak-en-laat-staan; hoe meer dus ons deelname aan die globale (so “abstrakheid” as wat dit nog mag voel ), hoe groter die hunkering na die reële. Mielies!
Vir alle instellinge gaan oorlewing/”relevansiesoeke” nou gepaard met enorme omwenteling. Van Albie Sachs se skrywes oor die Blou (staat) Rooi (mense / gemeenskaps) en Groen (ongeborenes / kinders / bejaardes / omgewing) regte, tot veranderinge in akademiese sillabusse en universiteitsopsette (die groeiende natuurwetenskappe en die krimpende kunste), tot aanspreeklikheid in die besigheidswêreld (regstellende aksie, oopboek-verslaggewing, omgewings-impakstudies by nuwe aanlegte, ens.) is almal besig met nuwe waardebepalinge, en herdefinisie. Ook “die professies” stoei met kernvrae oor die blywende waarde van die ou indeling van “werk” tussen dokters, prokureurs, argitekte en landboukundiges, groeiende super-spesialisering, ens. En dit is in hierdie milieu van veranderings-versnelling waar vrae oor omgewingsbou, die verhouding tussen wat mensgemaak en natuurlik is, sentraal staan. Hoe, in die wyse waarop agitekte en beplanners as sieners / kunstenaars hul tolk- en tussengangerwerk doen, dra die professie van argitektuur / die boukuns by tot die wyere debat? Ons weet die boubedryf is ‘n sensitiewe barometer van die ekonomie – maar is dit egter ook vindingryk, ‘n wegwyser vir die toekoms?
In haar dokumentêre program “Bloudruk”, oor die biografieë van Afrikaansspekendes soos Antjie Krog, Max Du Preez, Wilhelm Verwoerd en andere, reeds etlike kere op publieke aanvraag gedurende die jaar 2000 gebeeldsaai (op KYKNET, DSTV), noem die filmmaker Katinka Heyns die Kaapse argitek Etienne Bruwer “die Groen Argitek met die blou oë”.
Na gewone witboetie-beginjare in die selfvoldane suburbs van Stellenbosch, voorgraadse rondloper studiejare in Amerika (Iowa en Princeton NJ), studies aan die Universiteit van Kaapstad (“begonne in onbegonne 1976″), en daarna etlike jare as ontwerpsateljee-dosent by die UK argitektuurskool (“die Kreetjare van Greenee Nongrata”), het Bruwer hom ‘n dekade gelede in die Ekologieleer begewe. Tussen konsep-modelle (van klei natuurlik) en stapels “groen bybels” wat handel oor alles van Permalkultuur tot kleikonstruksie-tegnieke, ontvang Bruwer sy kliënte informeel in sy selfgeboude kafbaal-en-klei kantoor in Constantia; “‘n kartonafdak op ‘n eerlike werf” (die dakke is van papierpulp en teer, plafonne uit karton herwonne uit die plaaslike supermark se agterplaas).
Hy sê: “Tien jaar terug was dit ‘trant voor tyd’, omtrent soos om aan tafel by Thomas onergerlik aan te kondig; ‘Ek gaan kweekskool toe’. Met eerbiedige eerbiedloosheid wens almal jou geluk, om dan na ‘n besonder ongemaklike drie sekondes, voort te vaar met gewigtige aktuele sake soos Die Haglike Toedrag van SA(ke) of Die Weersvoorspelling Vir Môre ……! Daarbenewens was dit boonop nie net ‘te vroeg’ nie, maar ook ‘te laat’, want as die Groen Gogga eers gebyt het, is daar geen omkeer nie – beide die onbetwisbare logika en die argiketoniese geleenthede is verleidend. Boonop is die drempelwaarde van nuwe konvensionele geboue nou so hoog, dat indien ons nie self betrokke raak en uit dit wat ‘verniet’ onder die voet beskikbaar is gebruik maak nie, gaan die meeste Suid Afrikaners nooit ‘n eie tuiste besit nie, maar woonstelboere word”.
Hy het oor twee dekades van studie in Rudolf Steiner se filosofie, en uit wye kontak met eweknieë wêreldwyd, ander argitekte wat hulle ook op die “organiese boustyl van die komkoms” toespits, meer te wete gekom oor die dieperliggende bronne van argitektuur, en ervaring opgebou deur klein projekte te bou . “Terselfdertyd, het ek besef dat alhoewel my ‘geboue vir die toekomsmens’ begin anders lyk, hul nog steeds uit konvensionele stene en beton gebou word, en dus uiteindelik ook fisies aangepas moes word – ‘genees in die vlees en dus genesend.”
Professionele en persoonlike aanspreeklikheid word nou veel breër gefundeer, in terme van die gebruik van hernieubare bronne, wederkeerbare prosesse, en onderhoudendheid (sustainability). Die argitek bou dus nie meer monumente ter bevrediging van die verewigingsdrang van ‘n kliënt (of ter verhewing van hom- / haarself!) nie, maar uit die wete dat sy werk deur die mense van môre getakseer sal word in terme van die aanpasbaarheid daarvan tot gebruiksveranderinge, heraanwendbaarheid van die boustowwe, die maklike afboubaarheid daarvan, die energie (boukostes) wat beide die oprigtingsproses en lopende verbruik (kliënt se onderhoudskostes) geverg het, en hoe gou elke geslag “hul stad” kan inrig en aanpas tot die behoeftes van die dag.
Hy skoei die lees op die stellinge van denkers en doeners wie se “pulsus alterans”, die wisselende polsslag hy kan voel, denkers soos Soros (“kyk bo-oor die kleine”), en plaaslik, die Enthovens van Spier by Stellenbosch, waar onder andere die rioolsisteem totaal onafhanklik van die stad of septiese sisteme fungeer en minimum water gebruik, ‘n Waldorf Organic Market produkte en gewasse bemark wat sonder chemiese toedoenings geproduseer / gekweek is, ‘n nuwe genesingssentrum wat alle mediese modaliteite kombineer gaan verrys (die Amerikaners bestee reeds oor die 6 biljoen dollar per jaar aan “gesonde medisyne”) en waar die skool vir plaaslike kinders uit geperste grondstene sonder enige sement gebou word.
“Vir die globale wêreld sal daar uiteindelik ook net ‘n enkel stel aanspreeklikheidsreëls ten opsigte van die omgewing van toepassing wees – rasionalisering vind reeds internasionaal plaas, en volgende jaar vind die RIO PLUS TIEN WÊRELDKONGRES in Suid-Afrika plaas. Dus verkondig ek dieselfde sakrament aan almal; hetsy township-kliënte (die Alliance Française se Franse taalskool in Mitchell’s Plain is uit klei / sand gebou), of jong egpare wat smag na hul eie plekkie (in die Kaap op nuwe erwe oortrek met Port Jasckson bome op sand en klei daaronder, en klip teen die naaste helling), middelklasmense of die Parkeraad wat kusplekke wil oprig (skulpgruis, klip), opvoedkundiges wat in die arm hinterland klaskamers moet oprig “met niks” (die baie werklose geleentheidsoekers), die korporatiewe sektor wie vir hul werkers gesonde en goedkoop werksplek of huise wil aanskaf. Ons moet gebruik wat ons het, nie net altyd dink aan koop nie, dink aan selfbemagtiging deur selfdoen, aan eenvoud en gesonde tydbeproefde plaasmetodes, boererate vir die beton-oerwoud. Elke Rand wat wyselik aan mense-arbeid bestee word eerder as aan fabrieksproduksie is skeppend, en ‘n oorwinning.”
Op studietoere in Skandinawië en in Noord-Europa in 2000 (“by die Greens in Berlyn se Reichstag”), het hy besef hoe ver agter ons steeds kortsigtige boumetodiek is. In Holland dien die argitekte skynbaar nie net planne in vir oprigting nie, maar sertifiseer ook waar / hoe rommel verwerk / geberg gaan word aan die einde van die gebou se lewenssiklus. Die Amerikaners genereer 1,5 kubieke meter rommel per kapita per jaar; hier wen die boumateriaal-herwinningsindustrie reeds veld, veral in Florida en Kalifornië, byvoorbeeld met die heraanwending van ouer (dikwels beter kwaliteit ) bou-elemente soos Oregon Den houtvensterrame. Ook in Denemarke is die hervervaardigingsindustrie aan die posvat, soos goeie hout duurder en skaarser word en mense net eenvoudig nie meer Burmese kiaat of ander hardehout koop as dit nie gesertifiseer is as gekontroleerde plantasiehout nie. By Flintenbreite in Lübeck, Noord-Duitsland, is die dakke van ‘n nuwe woondorp met Noorweegse aluminiumplaat oordek – want die wenkontrakteur het uitgewys dat die vervaardiging van die aluminium in Noorweë gedoen is met meer aanvaarbare “skoon” elektrisiteit (hidro-elektrisiteit) as elders.
“Die Skandinawiërs is leiers op die gebied van energiesake, (hul voer windkragopwekkers grootskaals uit) die Noord-Europeërs weet alles van bouprosesse en boumateriale, maar in Afrika leer ‘n mens van mense en sosiale prosesse – dis in die werkswinkels, met die tolke en klei in die hand, wanneer ons saam dinge doen en beplan waar “energiesake” en “mensword” byeenkom . Ons het ‘n ou woord, “Volksboukunde” daarvoor – boukennis wat voorkom uit omgewingskennis – wat ons sedert 1850 “vergeet het” soos fabrieksproduksie algaande (ten alle kostes van die mens en omgewing) die norm geword het. Nou is ons weer daar, vol sirkel – waar “suskes” nie net gemeet word aan hoe “onderhoudsvry” (dood) en “vermummie” (ou style wat weer ingekleur word maar nou van plastiek en glasvesel “onder die dop” gemaak is) die bielie is nie, maar ook aan die heraanwendbaarheid van die gebou, hoe goed dit werk, mense verbly en in gesonde werksomstandighede huisves (siek-gebou sindroom), hoe goed die onderhandelingsprosesse met die eindverbruiker plaasgevind het, hoe werkskeppend die bouproses was, ens.”
“In Suid-Afrika is die laaste siklus van groot oprigtings, die blink casinos en megawinkel-sentrums, nou bykans voltooi, en as die stof gaan lê, en die gewaarwording dat energiemonsters onversadigbaar liewer dan ‘verniet’ is, en die gepaardgaande ekonomiese implikasies vir Jan Alleman (soos dalk sy pensioenfonds) duidelik word, gaan “omgewingsbewustheid” sy regmatige plek, as die Groot Besigheid van die nuwe millennium kan inneem. Om te werk, sal hierdie inspanning per definisie deelname en besitsreg deur almal moet hê. Werkskepping / sosiale ontwikkeling is sentraal tot ‘voortuitgang’ in Suid Afrika, en omgewings-aanspreelikheid gaan nou daarmee gepaard. Algaande word presedente daar gestel, en beding gemeenskappe, met die ondersteuning van ‘groen’ prokureurs en aktiviste, beter ‘wen-wen’ skikkings met ontwikkelaars wat in hulle gebiede wil ontwikkel. (Richard’s Baai, ook die aksies van die Restitusiehof, ens.). So baklei ‘n groeiende groepie bendelede in die professies reeds sedert die vroeë jare negentig om die drie sye van argitektuur / boukuns / omgewings-ontwikkeling te balanseer; mens (sosio-politiese aksie / gemeenskapsbou); geboue maak (tegnologie / tegniek / metodiek) en omgewing (die Groen agenda). Gegewe die algemene omwentelinge van transformasie-politiek, en die huidige memorialisering van ‘n nuwe stel ikone, maak alles vir opwindende tye!”
Vir Bruwer is dit wat blywend sal wees as argitek egter die sensuele poëtiese geleenthede wat grondbou en ‘n meer menslike, organiese, boustyl en boukuns mag inhou, die belofte van geboue wat meer beeldhoudend is as teenmiddel tot die doodse “produkte” waarin die “verbruiker” hom deesdae bevind. “Soos in Amerika, waar huiskopers die huis ‘volgens ‘n plan’ in die eiendomsagent se kantoor kies, en in ‘n straat afry en ‘n fasade ‘kies’ (hulle noem dit ‘kerb appeal’). Ek dink dis ‘n valse belofte, teen ‘n prys …. hoe armer Jan Alleman is, hoe groter is die behoefte aan self-ekspressie en identiteit, en dit hoef nie geld te kos nie. Ek het geweet dat ek net moes volhard, en nou is die gety besig om vinniger te draai as waarvan ek kon droom – die meerderheid van ons komissies is reeds ‘groen’ (ekologies gefundeer).”
Sy geboue / konsultasiewerk strek reeds deur SA: Houtbaai, Durbanville, Constantia, Tokai, Tulbagh, Plettenbergbaai, Oos-Londen, Rosendal, Ficksburg, langs die Weskus, Botrivier, Mcgregor, Murraysburg, Citrusdal, Clanwilliam, Paarl, Mpumalanga, en Hartbeespoort.
Meer oor sy huidige werk en biografie is te vinde in:
SA ARCHITECTURAL DIGEST 2000.
In die klein sakhandleiding van TINA MUWANGA; ‘ARCHITECTURE IN SA’, (amazon.com / Exclusive Books).
Op videoband van SONNEBLOM ALTELJEES in Randburg as deel van die Bloudruk reeks.
Hy het ook gekonsulteer op mede-lektor Paul Righini se boek THINKING ARCHITECTURALLY; UCT UNIVERSITY PRESS by Exclusive Books.
Oor die strooibaalgeboue is daar ‘n artikel in Earthyear Magazine, die pryswenner “groen” tydskrifte in Suid Afrika.
Sy referaat oor grondboukunde, gelewer by Strategies for Sustainability in the Built Environment (WNNR et al, Aug 2000) is verwerk en gepubliseer as ‘THE CASE FOR COB’ in ‘Architechnology’, die tegniese bladbylae tot Urban Green File in Johannesburg DES 2000.