Schaam je, Hendrik!

Geskryf deur Anton Raath | Geskiedenis | Woensdag 20 Februarie 2002 1:23 pm

‘n Artikel deur Otto Terblanche uit die Insig van September 2001 – besoek www.insig.com vir meer inligting.

Dit is vandeesmaand – op 8 September [2001] – net mooi honderd jaar ná die geboorte van Hendrik Frensch Verwoerd in Amsterdam waar sy pa ‘n vennoot in ‘n kruidenierswinkel was. Sy moeder, Anje Strik, was ‘n Fries – bekend vir hul standvastigheid en beginselvastheid.

Maar sy Nederlandse afstamming was vir dr. Verwoerd ‘n teer sakie wat hy liefs verswyg het en wat sommige as sy politieke Achilles-hiel gesien het.

Klein Hendrik was ‘n seuntjie van twee jaar en twee maande toe die gesin in November 1903 na Suid-Afrika geëmigreer het. Moontlik vanweë sy sensitiwiteit oor sy afkoms, moontlik bloot vanweë vergissing, het Verwoerd hom later jare konsekwent jonger geskat tydens die oorlog.

By een geleentheid het hy gemeld dat hy toe ‘n baba van omtrent ses maande oud was, en by ‘n ander geleentheid in die Senaat het hy verklaar hy was maar drie maande oud! Dat Verwoerd, wat bekend geword het as die grondlegger van apartheid, in Nederland gebore is, was vir die Nederlanders ‘n bitter pil om te sluk. Dis ‘n feit wat hulle op hul beurt liefs wou verswyg. Die blote feit dat apartheid internasionaal die mees bekende “Nederlandse” woord geword het, was vir die Nederlanders rede tot skaamte.

Dis ironies dat Verwoerd juis in Amsterdam gebore is, wat volgens oud-president Nelson Mandela later een van die belangrikste anti-apartheidstede van die wêreld was. In hoe ‘n mate Suid-Afrikaners destyds uit voeling was met wat in die res van die wêreld gebeur het, blyk uit ‘n voorstel van ‘n leser van Die Burger ná Verwoerd se dood in 1966 dat ‘n standbeeld vir hom in Amsterdam opgerig moes word. In sy geestesoog het hy gesien hoe Nederlandse kinders kransies by Verwoerd se standbeeld lê.

Dat Verwoerd in Nederland gebore is, was nie altyd ewe bekend in Suid-Afrika nie. Selfs koerante van Nasionale Pers het in 1950 nog verkeerdelik gemeld dat hy op Brandfort in die Vrystaat gebore is. Daar was selfs Parlementariërs wat gemeen het dat hy in Rhodesië gebore is. ‘n Artikel in Panorama, uitgegee deur die SA Inligtingsdiens, wat oor Verwoerd as Suid-Afrika se sesde premier gehandel het, het geen besonderhede van sy geboorte gegee nie.

Die eerste intieme koerantbeeld van Verwoerd het eers in 1957 verskyn toe Rykie van Reenen in Die Byvoegsel tot Die Burger ‘n skets van die mens Verwoerd gegee het. Dit was ook die eerste amptelike bevestiging in die Afrikaans-Nasionale pers van Verwoerd se Hollandse afkoms.

Koerantmanne wat soms swaarde met Verwoerd gekruis het, het graag sy afkoms opgehaal. Schalk Pienaar wat soms heftig met Verwoerd verskil het, het homself herinner aan iemand wat sou gesê het: “Suid-Afrika het nog net twee werklik gevaarlike manne gehad: die een Duits gebore en die ander een Nederlands gebore – lord Alfred Milner en dr. Hendrik Verwoerd.” Pienaar het self by geleentheid na Verwoerd verwys as “die verdomde Hollander”.

Volgens die Nederlandse historikus Bart de Graaff was Verwoerd se Hollandse afkoms sy politieke Achilles-hiel; Opposisielede het hom soms “verwyt” dat hy nie eens ‘n gebore Suid-Afrikaner is nie. In die Senaat het opposisiewoordvoerders Verwoerd soms getart deur dit op te haal dat daar nie Voortrekkerbloed in sy are vloei nie. Die bekende koerantman Jan J. van Rooyen meld dat Verwoerd voor die premiersverkiesing in 1958 maar bra teësinnig was dat vermeld word dat hy in Amsterdam gebore is. “Ag, nee wat, kan jy dit nie maar los nie?” het hy geprotesteer.

Volgens die koerantman Dirk Richard het Verwoerd se Nederlandse afstamming ‘n groot rol in sy politieke lewe gespeel, “veral in daardie aanloopjare tot Afrikaner-aanvaarding. Hy moes eers die Afrikaner se Germaanse agterdog vir vreemdelinge uitwis.” Van Verwoerd se tydgenote het ook gesê dat hy byna met die Afrikaanse instellings gedweep het en graag sy trou daaraan bewys het; ‘n geval van Roomser as die pous wees.

Wat die deurslag sou gee in Verwoerd se aanvaarding as Afrikaner-volksleier, was die mislukte sluipmoordaanslag op hom op 9 April 1960 toe David Pratt op kort afstand twee skote in sy gesig afgevuur het. Verwoerd het wonderbaarlik aan die dood ontkom en daarna getuig “ek glo dat ‘n Hoër hand beskermend oor my uitgestrek was…” Ná dié aanval was dit asof daar ‘n mistieke band tussen Verwoerd en die Afrikaner gesmee is.

Die Nederlandse koerante het by geleentheid gewag gemaak van karaktertrekke van Verwoerd wat hy moontlik van sy Hollandse voorouers geërf het: ‘n dogmatisme, ‘n gebrek aan soepelheid, koppigheid en onversetlikheid. Daarom het die Nederlanders ook skuldig gevoel oor wat in Suid-Afrika skeef geloop het.

In Verwoerd het hulle die slegte ewebeeld van hulself gesien.

[Otto Terblanche is senior lektor in geskiedenis aan die Universiteit van Port Elizabeth. Sy boek Nederland en die Afrikaner: gesprek oor apartheid, het in 1998 verskyn.]

Geen Kommentaar »

Nog geen kommentaar nie.

RSS voer vir kommentaar op hierdie bydrae.

Lewer kommentaar