Die Noodsaak vir ‘n Skikking Tussen Afrikane en Afrikaners

Geskryf deur Anton Raath | Taalpolitiek | Donderdag 18 April 2002 1:29 pm

‘n Lesing gehou deur Koos Malan van die Groep van 63, as deel van ‘n debat tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) oor die Afrikaanse gemeenskap en die opposisiepolitiek, Oudtshoorn, 31 Maart 2002.

1. Inleiding

‘n Debat oor die Afrikaanse gemeenskap en die opposisiepolitiek is beide gewigtig en netelig. Dit is gewigtig omdat dit inderwaarheid die wesensaard van die politiek asook die basiese eienskappe van die Suid-Afrikaanse politiek by die debat betrek. Dit is vanselfsprekend netelig, omdat die debat nouliks denkbaar is sonder dat daar in die proses ook op gevoelige partypolitieke tone getrap sal word. Met dien verstande dat die debat saaklike gevoer word, kan ons egter veel daarmee bereik.

Maar benewens sy gewigtigheid en neteligheid is daar oor een saak ongetwyfeld volkome klarigheid. Dit is dat die debat uiters, selfs lewensnoodsaaklik is. Die aangetekende graad van wantroue onder Afrikaners in die huidige Suid-Afrikaanse politieke orde lewer afdoende bewys hiervan.

2. Politiek

Die onderwerp, die Afrikaanse gemeenskap en die opposisiepolitiek gaan in die eerste plek oor die politiek.

Die verskynsel politiek kan gesien word as kontinue belange-reëlings en magsverhoudings tussen groepe, dit wil sê aanhoudend opeenvolgende skikkings van die belange van groepe.

Politiek is hierdie aanhoudende proses van belangeskikkings tussen groepe, ongeag of die groepe georganiseer is in state soos in die afgelope paar eeue, of in beskawings soos gedurende die lang historiese tydspan gedurende die Middeleeue, waartydens die Westerse Christendom en die Islam in ‘n gespanne wisselwerking met mekaar verkeer het, of tussen groepe binne ‘n staat.

3. Belangereëlings en magsverhoudings tussen groepe

Die belange-reëlings tussen groepe binne state, ofskoon dit lank reeds belangrik is, is juis in ons tyd besig om tot die sentrale kompleks van politieke vraagstukke te ontwikkel. Die kontemporêre politiek lewer al hoe meer voorbeelde te dien effekte op.

Nog belangriker is dat eietydse politieke (en militêre) konflik in toenemende mate juis die verhaal van skewe belange-reëlings en magsverhoudings tussen groepe binne state is. Tsjetsene, Palestyne, Tamils, Kashmiri’s, Ierse nasionaliste in Noord-Ierland, geviktimiseerde blanke boere in Zimbabwe, burgeroorlog in die Soedan, geviktimiseerde Koerde in Irak en Turkye ens. spel telkens onopgeloste belange-reëlings tussen groepe binne state.

Skotte, Vlaminge, Baske, Kroate, Kosovare, Oos-Timorese, Hutu’s, Tutsi’s is begrippe wat op hulle beurt die verhaal vertel van belange-reëlings en magsverhoudings wat wel getref is, soms vreedsaam, maar ander kere slegs na uiterste gruwels en massa-bloedvergieting.

In baie ander state gee die aandrang op die herdefiniëring van groepsbelange ook in ‘n mindere of meerdere mate die toon in die politiek aan. Dit gebeur ook in die Verenigde State en in Frankryk, waar die amptelike staatsideologie van slegs een amptelike staatdsidentiteit en geen openbare erkenning van groepe, uiteindelik nie opgewasse teen die druk vir die verrekening van groepsbelange is nie.

Die een faktor wat die hantering van groepsbelange potensieel plofbaar maak, is dat groepsbelange regstreeks verbind is met die diepliggender kwessie van identiteit. Mense definieer hulle individuele identiteit in terme van hulle vereenselwiging met ‘n groep, wat beteken dat afwysing van groepsbelange beleef word as ‘n ingryp in, en miskenning van identiteit. Miskenning van identiteit as een van die mees krenkende optredes denkbaar lei uiteraard ook tot die ekstreme reaksies. Vandaar die uiterste gevare wat gepaard gaan met die verkeerde hantering van groepsbelange en terselfdertyd die noodsaak dat die hoogste voorkeur aan die hantering van groepsbelange en intergroepsverhoudinge gegee moet word. Word dit nie gedoen nie, word ‘n hoë – en soos ook uit die jongste geskiedenis blyk, dikwels bloedige prys daarvoor betaal.

4. Die posisie in Suid-Afrika

Suid-Afrika is ook nie immuun teen die dinamika van intergroepspolitiek en die noodsaak vir die ewewigtige hantering van groepsbelange en die definiëring van magsverhoudings tussen groepe nie. Trouens, bykans die totaliteit van die Suid-Afrikaanse geskiedenis staan in die teken van intergroepsdinamika. Afrikaners het drie jaar daarvoor oorlog gemaak en daarna ‘n stryd van dekades lank gevoer vir wat beleef is as die noodsaak vir die erkenning van die Afrikaners as ‘n groep. En swart mense het onder die aanvoering van die ANC vir die grootste gedeelte van die twintigste eeu vir erkenning geywer.

Gedurende die wonderwerkjare van die negentigs – en trouens nog steeds – het ‘n wêreldvreeemde vrolike stemming in die Suid-Afrikaanse politiek geheers. Baie van ons het geglo dat die politiek as’t ware opgehef is, minstens dat groepe vir die doeleindes van die politiek irrelevant geraak het, of dat die hantering van groepsbelange dermate ewewigtig hanteer is dat dit geen plek meer op die politieke agenda verdien nie.

Dié wanopvatting is internasionaal aangehelp deur Francis Fukuyama se End of History and the Last Man, waarin die skrywer ons te verstane gee dat met die oorwinning van die liberale kapitalisme die wêreldgeskiedenis ‘n einde bereik het. Wat Fukuyama nie ingesien het nie is dat die politiek nie wentel rondom ideologie nie en dat die oorwinning van een politieke / ekonomiese denkpatroon derhalwe nie die politiek as sodanig beëindig nie.

In Suid-Afrika is daar egter ook geglo dat ons voor ‘n bykans politieklose paradys van spanningsloosheid staan. In die opgeruimdheid van die wonderwerk-stemming na 1994 het ons onsself die vraag afgevra waaroor die politiek in die nuwe orde nou eintlik gaan. As dit dan nie meer handel om die hantering van groepsbelange nie, gaan dit dalk oor ekonomiese politiek? Die vraag is gevra na aanleiding van die ANC se lang verbintenis tot sosialisme. Weens die val van die sosialisme en die seevierende mark en die beperkte ruimte wat globalisering met betrekking tot die keuses rakende ekonomiese beleid bied, was daar vir die ANC spoedig geen keuse nie as om die mark-ideologie ook sy eie te maak.

Gevolglik kon die politieke breuklyne ook nie langs die grense van uiteenlopende sienings oor ekonomiese politiek loop nie.

Die slotsom waartoe baie gekom het, is dat die politiek voortaan beperk sou wees tot ‘n blote kwessie van goeie administrasie, optimale besteding van fondse, goeie dienslewering en die stryd teen korrupsie.

In Suid-Afrika, waar ons met skrikwekkende misdaad worstel, waar HIV / Vigs vernietigingswerk aanrig en waar swart armoede wyd loop, het dié drie probleme hulself ook as nuwe probleme van die politiek aangemeld.

As die nadele van swak administrasie en ‘n kultuur van korrupsie in streke soos Sentraal-Amerika in ag geneem word, kan niemand ontken dat die bekamping van korrupsie inderdaad ‘n belangrike ook politieke kwessie is. Dieselfde geld ook vir HIV / Vigs, armoede en misdaad.

5. Afrikane en Afrikaners

Hoe belangrik hierdie strydvrae ook al is – en hulle is – kan dit nooit daarin slaag om die groeiende politieke kwessie – naamlik die uitwerk van ‘n belange- en magsreëling tussen Afrikane en Afrikaners opsy te skuif nie. Dié kwessie is vir lank geïgnoreer of as irrelevant afgemaak, maar is nou so stewig in die openbare diskoers gevestig dat ignorering onmoontlik geword het.

5.1. Die Afrikanistiese emansipasie-politiek

Wanneer ons onder meer president Thabo Mbeki aan die woord stel en die essensiële kenmerke van die ANC se politiek program ontleed, tree die wesensaard van die Afrikane / Afrikaner strydvraag op die voorgrond.

Die effek van kolonialisme in Afrika was om die identiteitsbelewenis, die sin vir eie waarde en die menswaardigheid van swart Afrikane bykans noodlottig te knou en om denk- en gedragspatrone van minderwaardigheid en onderhorigheid te vestig en te internaliseer. Selfs nadat swart politieke heerskappy agt jaar gelede gevestig is en lank nadat politieke kolonialisme die wyk geneem het, bly kulturele en psigiese kolonialisme steeds behoue. Dit manifesteer in individuele gedragspatrone en blyk duidelik uit die politieke optrede van senior swart politici, insluitende die president.

Wanneer die regering, soms heeltemal geregverdig gekritiseer word, is die reaksie van (swart) regeringslui dikwels dat die kritiek rasgebaseerd is en bloot voortspruit uit die blanke-oortuiging dat swart mense nie in staat en bevoeg is om ‘n land te regeer nie.

Die gevolg hiervan is ‘n uiters gevaarlike politieke kommunikasie-kortsluiting: aan die een kant sê swartmense dat blankes hulle uit hoofde van blinde rassisme kritiseer, en aan die ander kant sê blankes dat die afmaak van hulle verdienstelike kritiek as rassisme ‘n diep gesetelde swart rassisme verraai. Die gevaar van die konflikpotensiaal wat hierin opgesluit lê, en wat ‘n integrale deel van Suid-Afrika se politieke werklikheid is, is voor die hand liggend.

Talle swart intellektuele se geestesarbeid is primêr daarop toegespits om die diep gewortelde kolonialisme-geïnspireerde minderwaardigheid onder swart Afrikane te oorkom, om gelyke respek en agting vir swart Afrikane te genereer en om gelykwaardig met alle ander mense ‘n sin vir ‘n swart Afrika eie-waarde te ontwikkel.

Ook die president laat geen geleentheid verby gaan om hieraan deel te neem nie. Thabo Mbeki gryp bykans alle hoë profiel-geleenthede aan om die swart Afrika-identiteit te koester en te genereer en om swart mense se gevoel van eie-waarde te bevorder.

Ongelukkig word dit dikwels gedoen op ‘n manier wat die res van die bevolking aanstoot gee. Bowendien is dit natuurlik polities onwys vir ‘n staatshoof om primêr die belange en behoeftes van een segment van die bevolking vir konsekwente voorkeur-aandag uit te sonder.

5.2. Afrikanistiese uniformiteit en Anglo-Afrikanisme

Die politieke program wat die ANC loods sluit aan by hierdie intellektuele projek. Die program is gemik op die skep van ‘n breë Suid-Afrikaanse uniformiteit aan die hand van wat getipeer kan word as ‘n Anglo-Afrikanistiese maatstaf en oogmerk.

Die program is daarop toegespits om alle aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse bevolkingsamestelling te maak.

In die lig van die feit dat meer as 80 persent van die bevolking swart is, impliseer dit derhalwe ‘n eis vir swart beheer oor alle instellings en lewenssfere en ‘n ooreenstemmende beëindiging van onder meer alle vorme van Afrikaanse beheer oor alles behalwe die mees private en invloedlose lewensterreine. In die praktyk beteken die eis vir verteenwoordigendheid (representavity) dus die algehele vestiging van swart beheer en ooreenstemmende algehele ontmagtiging van minderhede. Representavity beoog swart bemagtiging op alle terreine en ooreenstemmende minderheidsontmagtiging.

Engelstaligheid is die tweede bestanddeel van Anglo-Afrikanisme. Die bestaande taalverskeidenheid word beleef as ‘n bedreiging vir die gekoesterde uniforme Afrika-identiteit. Die openbare gebruik van ‘n verskeidenheid van tale word gesien as ‘n middelpuntvliedende risiko vir die uniformiteitsdrang. Derhalwe word daar selde meer as lippediens aan veeltaligheid betuig. Tegelyk word nougeset daarteen gewaak om tale vir openbare- en hoër taalfunksies aan te wend en te ontwikkel. Die effek is dat die grondwetlike taalbepalings al hoe meer uit pas met die gepraktiseerde werklikheid raak. In plaas van veeltaligheid word Engels aangewend as die linguistieke instrument wat taal-uniformiteit moet smee. Alle instellings en openbaar georganiseerde lewenssfere moet derhalwe deur uitsluitlik Engels te wees, die gekoesterde uniformiteit verder bevorder.

Die feit dat ‘n nie-Afrika-taal gebruik word as ‘n instrument vir Afrikanisering kan vanuit ‘n Westerse ervaringswêreld natuurlik as ‘n onverklaarbare teenstrydigheid beleef word. Feit is egter dat Afrika-nasionalismes, anders as Europese nasionalismes gewoonlik nie taal gebasseerd is nie. Die kunsmatig afgebakende staatsgrense van Afrika se territoriale state – ‘n nalatenskap van die Europese kolonialisme – word sonder meer geneem as die basis vir die skep van Afrika-nasionalismes en in die afwesigheid van ‘n Afrikataal wat kan dien as die gom vir vestiging van Afrika-nasionalismes binne die kunsmatige geskepte state.

Dit uniformiteitsprojek word totalitêr toegepas. Dit beteken dat alle instellings en lewenssfere tot ‘n aardsverandering verplig word ten einde aan die uniforme voorskrifte van transformasie te voldoen. Geen terrein word onaangetas gelaat nie.

Dit sluit die staatsektor, die ekonomie en arbeid in maar ook sport, waar representativity beide op sportliggame en op die samestelling van sportspanne afgedwing word. Ook die media voel toenemend die druk van die representavity-eis beide met betrekking tot eienaarskap sowel as joernalistieke beheer. Wetgewing is reeds aanvaar om uniformiteit op alle instellings wat mense in diens het, insluitende private instellings soos maatskappye, vennootskappe en privaat klubs en dergelike georganiserde sfere af te forseer. Die onderwysterrein – eers tersiêre onderwys en mettertyd ook skole, is eweneens onderworpe aan dieselfde uniformiteitsdruk.

5.3. Die effek op Afrikaanse lewenssfere

Afrikaanse lewenssfere en -instellings kan onmoontlik aan die regering se uniformiteitspolitiek beantwoord. Die wesenskenmerk van sulke instellings is juis dat dit Afrikaanstalig is. Wanneer Afrikaanse instellings en lewenssfere aan die eise van uniformiteitspolitiek onderwerp word, kom die eis derhalwe nie daarop neer dat dié instellings matige verstellings moet maak nie, maar dat hulle hulself moet likwideer. Dit beteken dat wanneer die regering sy uniformiteitseis aan Afrikaners opdwing, hy die Afrikaanse gemeenskap sy bestaan volkome ontsê. Daarmee maak die regering die Afrikaners tot fundamentele struikelblok en antagonis van sy uniformiteitspolitiek.

Vir sover daar Afrikaanse lewenssfere toegelaat word, is dit slegs binne ‘n baie beperkte private en terselfdertyd invloedlose private terrein.

Langs die weg representavity en Engelstaligheid kry die Suid-Afrikaanse staat derhalwe ‘n uniforme Afrikanistiese karakter, wat binne die openbare terrein geen plek maak vir enigiets anders as die Afrika-identiteit wat so sorgsaam deur die president gekoester word nie. Die (liberale) plurale staatskonsep, waarvolgens ‘n aantal identiteite binne ‘n enkele staat op gelyke vlak toegelaat word, het geen plek binne hierdie raamwerk nie. Ander identiteite word tot die engtes van die private sfeer gerelegeer en die staat kry ‘n eksklusiewe segmentele karakter, met een staatstaal, een Afrikanistiese staatskultuur en slegs een konsep van menslike waardigheid.

Namate die program vorm aanneem, word mense wat nie behoort tot die Afrikanistiese identiteit of daarby aanklank vind nie toenemend van die nuwe staatsopset vervreem. Vandaar die patologiese graad van vervreemding onder Afrikaners, onttrekking uit openbare aangeleenthede en die, vir ‘n klein gemeenskap onbekostigbare getalle-verlies weens emmigrasie.

5.4. Laat Afrikanistiese Suid-Afrika ruimte vir meerdere identiteite?

Die kardinale vraag wat sigself nou aan ons opdring en as een van die sentrale vraagstukke van die Suid-Afrikaanse politiek ‘n antwoord eis, is of daar naas die Afrikanistiese identiteit ook ruimte vir ander identiteite is. Die vraag is, bied Suid-Afrika ook ruimte vir Afrikaners, maar nie net vir Afrikaners as losstaande individue nie, maar vir Afrikaners as ‘n bemagtigde gemeenskap met instellings en met die bevoegdheid om oor sake te beslis wat die basiese welstand van dié gemeenskap raak. As sulke instellings ontbreek en as daar nie sulke beslissingsbevoegdhede bestaan vir Afrikaners oor sleutel-aangeleenthede vir Afrikaners nie, dan het Afrikaners bloot losstaande individuele setlaars geword, in plaas van ‘n inheemse komponent van die burgery.

Namate die Afrikanistiese stroming stoom optel, kom dit al duideliker aan die lig dat die verhouding tussen Afrikane en Afrikaners onuitgeklaar is. Soos die Afrikanistiese stroming sy houvas op die Suid-Afrikaanse politieke toneel verstewig, raak die vraag na die posisie van Afrikaners al hoe dringender en raak dit toenemend noodsaaklik dat die ongedefinieerde verhouding tussen Afrikane en Afrikaners op ‘n ewewigtige grondslag uitgeklaar word – ‘n grondslag wat in Suid-Afrika vir beide Afrikane en Afrikaners voorsiening moet maak.

6. Die grondslae vir ‘n skikking

6.1. Die legitieme grondslag van Afrikanistiese emansipasie

Swart Afrikane se strewe na die oorkom van die nalatenskap van kolonialisme en die vestiging van eie Afrika-integriteit is ‘n legitieme aspirasie. Op die keper beskou is die strewe na die skep van ‘n eie Afrika-identiteit, waardigheid en sin vir eie waarde ‘n emansipasie-beweging.

Niemand kan van Afrikane verwag om die selfvernederende onderhorigheid aan Westerse kulturele en politieke prestasie en Westerse maatstawwe vir voortreflikheid sondermeer te aanvaar nie. Dis gewoon mensonwaardig om van Afrikane te verwag om voort te gaan om hulleself as’t ware aksessories of in terme van die Weste te definieer en sodoende ‘n ongemaklike en minderwaardige appendiks van ‘n breë Westerse identiteit te bly.

Die emansipasie-beweging wat Afrikane onderneem en wat al hoe sterker in Suid-Afrikaanse politiek en samelewing konkretiseer, moet daarom verwelkom word. Afrikaners, wat hulleself aan die hand van Afrikaner-nasionalisme sedert die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners en daarna onder die politieke leiding van Hertzog van Brits-Engelse politieke en kulturele imperialisme moes emansipeer, behoort trouens volle begrip en simpatie vir die Afrikanistiese projek te hê.

6.2. Die totalitêre- en eksklusiwiteitskortsluiting

Die knoop lê egter daarby dat Afrikanistiese projek totalitêr en eksklusief is. Die Afrikanistiese projek poog om aan die Suid-Afrikaanse staat ‘n eksklusiewe Afrikanistiese karakter te gee, om dus die Suid-Afrikaanse staat volkome aan die hand van ‘n Afrikanistiese bloudruk te herorganiseer. Dit laat nie ruimte vir ander gemeenskappe nie en die strategie van representavity is juis daarop gemik om ander gemeenskappe te likwideer en dié se aanspraak op erkenning as deel van die breë Suid-Afrikaanse openbare werklikheid te ontwrig.

6.3. Afrikaners se aanspraak

Afrikaners is egter ook inheems van Afrika. Ofskoon baie van die wortels terug gaan na Wes-Europa en daardie wortels trouens gekoester moet word, is die idee van Afrikaner-wees ondenkbaar sonder die verbintenis met die Afrika-bodem. Net soos wat Afro-Amerikaners inheems van Amerika geword het en nie denkbaar is sonder gebondenheid aan die Amerikaanse bodem nie, net so is Afrikaners in die Afrika-bodem geanker. Daarom impliseer die Afrikaner-idee ‘n aanspraak op vrye kulturele ruimtes en proporsionele politieke magsaansprake in Suid-Afrika. Hierdie aanspraak is ongekwalifiseerd, omdat om Afrikaner te wees nie moontlik is anders dan in verbondenheid aan die Afrika-bodem nie.

Hierdie twee strewes – die van Afrikane en van Afrikaners – staan toenemend in ongemaklike spanning met mekaar. Afrikane en Afrikaners het nog nie ‘n verstandhouding met mekaar oor die saak bereik nie. Trouens, daar is nog nie eens met mekaar in gesprek getree sodat die eerste tree gegee kan word om ‘n verhouding met mekaar te ontwikkel nie. Dis veral belangrik om te begryp dat die grondwetlike skikking van die negentigerjare allermins ‘n reëling tussen Afrikane en Afrikaners getref het. Die destydse onderhandelings het gefokus op die beëindiging van apartheid en die invoer van ‘n meerderheidsbewind. Trouens, by die destydse grondwetlike onderhandelings was die uitwerk van ‘n reëling tussen Afrikane en Afrikaners nie eens ter sprake nie.

6.4. Vertrekpunte vir die skikking tussen Afrikane en Afrikaners

Wat nou van belang is, is dat ons onsself daaraan moet herinner dat die politiek inderdaad aanhoudende opeenvolgende skikkings tussen groepe veronderstel. Die skikkingsproses bereik nooit ‘n finale eindpunt nie. Nuwe vraagstukke – in hierdie geval die groeiende vraagstuk tussen Afrikane en Afrikaners – vereis ‘n nuwe belange-reëlings, nuwe magsverhoudings – nuwe skikkings.

Afrikaners se primêre verantwoordelikheid is om nou, ter wille van hulleself, hulle land, maar ook ter wille van Afrikane wie se Afrikanistiese strewe ‘n legitieme grondslag het, met Afrikane te skik op so ‘n manier dat die ruimte vir beide die aansprake van Afrikane en Afrikaners regverdig afgebaken word.

Hierdie skikkingsnoodsaak is besig om ‘n primêre posisie op Suid-Afrika se politiek agenda te verwerf en politiek partye wat op die steun van Afrikaners (en natuurlik ook van Afrikane) aanspraak maak kan nie anders as om dit te verreken nie.

Vir die doel van die bereik van ‘n regverdige reëling tussen Afrikane en Afrikaners is dit noodsaaklik dat Afrikaners onderling oor die volgende sake moet ooreen kom:

* dat Afrikaners hulle moet versoen met hulle minderheidstatus en as ‘n minderheidsgemeenskap ‘n regverdige belange-reëling en magsverhouding met Afrikane moet bereik. Vir Afrikaners moet met die Afrikane ‘n ewewigtige magsposisie beding word. Die uitgangspunt moet wees dat beide oormag en onmag onaanvaarbaar is. ‘n Ewewig moet tussen dié twee uiterstes bereik word. Politieke oormag is onregverdigbaar en onverdedigbaar, maar politieke onmag is weens die mensonwaardigheid daarvan ewe onverdedigbaar.

* dat die Afrikane op sterkte van hulle meerderheidspoisie die aanspraak het om oor die Suid-Afrikaanse staat te regeer;

* dat Afrikaners, as synde ‘n minderheid, nie party moet wees in politieke projekte om Afrikane uit die regering te ontsetel nie, maar daarenteen meer beperkter kulturele ruimtes moet beset en ‘n beperkter politieke magsposisie moet beklee, naamlik een wat pas by hulle minderheidstatus.

* dat die kultuur/politieke bestendiging en beveiliging van die Afrikaner-minderheid die gesonde grondslag lê vir die beëindiging van die Afrikaner-vervreemding, die herverankering van Afrikaners aan Suid-Afrika en vir ‘n bondgenootskaplike verhouding tussen Afrikaners en Afrikane vir die aanspreek van die breër vraagstukke van die land en die subkontinent

7. Die opposisie politieke partye

Wanneer ons die posisie van politieke partye teen hierdie agtergrond oorweeg lyk die posisie soos volg:

7.1. Die Demokratiese Alliansie

In die 1999-verkiesing het die DP tydelik groot getalle Afrikaanse fight back stemme opgeraap. Die DA wil egter die meerderheidsparty word en is dus verplig om maksimale swart steun te probeer werf. Dit verplig die party om noodwendig Afrikaner-belange te onderspeel.

Die DA wil nie die Afrikaner-voertuig wees nie omdat hy die regering wil oorneem en kan nie die Afrikaner-voertuig wees nie anders kan hy nie die swart steun werf waarvan hy afhanklik is om Tony Leon se strewe om die regering oor te neem te verwesenlik nie.

7.2. Die Nuwe Nasionale Party

Die Nuwe Nasionale Party is verplig om so na as moontlik en so vriendelik as moontlik teenoor die ANC wees. Die party het per slot van sake geen bedingingsmag nie. Die ANC het hom nie nodig nie en as die party sy voet verkeerd sit, wag nog ‘n onaangenamer wildernis as die een waarin hy reeds verkeer. Bowendien is die NNP net soos die DA ook daarop ingestel om maksimale steun uit alle gemeenskappe te werf en wil hy dus nie die politieke voertuig van die Afrikaner-minderheid wees nie.

Soos die DA wil en kan die NNP nie die voertuig vir die Afrikaner-minderheid wees nie omdat hy op nie- Afrikaanse steun aangewese is, maar bowendien mag hy dit ook nie wees nie omdat hy nie die genade-lewenslyn wat die ANC verskaf in gevaar durf stel nie.

7.3. Die Vryheidsfront

Die Vryheidsfront wil die Afrikaner-voertuig wees, maar kon weens verskeie faktore mog nie daarin slaag om te kan wees nie. Die Vryheidsfront kan as deel van ‘n groter beweging, waaraan die party skynbaar wil meedoen egter bydra om die nuwe Afrikaner-politieke voertuig te help skep.

8. Die Nuwe Afrikaanse Beweging

Dit laat vanuit Afrikaners se oogpunt die al hoe dringender skikkingspolitiek wat met die swart meerderheid gevoer moet word, met ‘n ernstige probleem. Want hoe kan daar geskik word as jyself as een van die partye tot die gepoogde skikking nie polities behoorlik gekonstitueer is nie?

Hierdie probleem kom natuurlik al ‘n lang pad. Veral twee faktore het daartoe bygedra. Eerstens was die politieke bewegings waaraan Afrikaners tot in 1994 hulle steun toegesê het per definisie nie Afrikaanse bewegings nie. Hulle was òf partye wat die destydse orde wou handhaaf òf wat hulle uitdruklik as partye vir die witman voorgehou het. In die dekades tot 1994 het die politieke strydvrae per slot van sake gewentel rondom apartheid as ‘n rasgedefinieerde kwessie en dus nie primêr oor sake soos die belange van Afrikaners as ‘n kultuurgemeenskap nie. Daarom was daar na 1994, soos nou steeds nie politieke partye beskikbaar vir die Afrikaners nie en dus ook nie ‘n politieke beweging beskikbaar wat die Afrikaner-belange-perspektief kan artikuleer in die bereiking van ‘n skikking met die Afrikane nie.

Tweedens is die Afrikaanse debat wat enkele jare in die Afrikaanse media en die Internet ‘n aanvang geneem het, in sommige kringe heftig as irrelevant afgewys.

Wat egter intussen gebeur het, is dat die Afrikaner-debat nogtans gegroei het tot ‘n kultuur-politieke beweging waarna soms as die Nuwe Afrikaanse Beweging verwys word. Die beweging is inderdaad nog amorf en binne die beweging is daar diepliggende meningsverkille en ‘n linker en ‘n regterflank te bespeur.

Die beweging het egter rondom oorspronklike idees, nuwe intellektuele energie, tekens van energieke politieke beoefening gekenmerk deur ‘n selfvertoue wat vir lank nie onder Afrikaners vaardig was nie, rondom nuwe persoonlikhede en ‘n saaklike wyse van diskoersvoering anderkant die ou Afrikaner-gevegte van die verlede, ‘n momentum ontwikkel wat hoegenaamd nie voorsien is nie en wat moeilik gestuit sal word.

Een saak wat juis die Nuwe Afrikaanse Beweging kenmerk, is ‘n gesindheid om op die grondslag van wedersydse respek met Afrikane te skik, waarvolgens Afrikaners hulle gerelativeerde posisie in Suid-Afrika aanvaar, maar terselfdertyd as ‘n gemeenskap in Suid-Afrika haar plek vind in plaas daarvan om te ontbind in ‘n blote aantal ontwortelde pleklose swerwers.

Dis vanuit hierdie breë, tans nog amorfe beweging wat Afrikaners ‘n nuwe politieke stem ontwikkel wat weldra met Afrikane moet wisselwerk vir ‘n nuwe skikking en ‘n nuwe magsreëling, ‘n regverdige magstoedeling bevry van die ekstreme euwels van beide oormag en onmag.

Dr. Koos Malan is ‘n konstitusionele juris en ‘n lid van die Werkkomitee van die Groep van 63.


Parse error: syntax error, unexpected T_ENDIF in /home/fugue/afrikaans.be/wp-content/themes/HabitatForHumanity/comments.php on line 3