Windows XP in Fries

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Woensdag 24 Augustus 2005 12:44 pm

Microsoft het aangekondig dat hul Windows XP bedryfstelsel nou ook in Fries beskikbaar is. Natuurlik weet ingewydes dat die Linux werkblad-omgewing KDE al lankal nie net in Fries beskikbaar is nie, maar ook Afrikaans. Asof sekuriteit en stabiliteit nie genoeg rede was om na Linux oor te skakel nie, kan jy nou die eg Suid-Afrikaanse Ubuntu Linux gebruik, met jou werksomgewing in Afrikaans. Of Fries, as jy regtig wil.

Casper de Vries

Geskryf deur Anton Raath | Kultuur | Saterdag 20 Augustus 2005 10:54 am

Casper de Vries bring op 27 Augustus sy vertoning My wêreld na Theater aan de Parade in ’s-Hertogenbosch in Nederland. Meer inligting is ook beskikbaar op www.casperdevries.nl.

‘n Nuwe Horison

Geskryf deur Anton Raath | Algemeen | Woensdag 17 Augustus 2005 10:32 am

Afrikaans.be is terug in ‘n nuwe gedaante, meer gerig op die gees van die tyd en die voordele wat die nuutste tegnologie inhou. Minder hiërargies, eerder ‘n aantal vervlegde temas en storielyne.

Die nuwe stelsel hou ‘n aantal voordele in, onder andere meer kategorieë wat maklik aangepas kan word, dis meer oorsigtelik, dis moontlik om kommentaar te lewer op artikels, en daar is ‘n soekfunksie wat alle inhoud dek.

Vir die eerste paar weke sal daar sekerlik ook probleme kan voorkom. Die stelsel waarop ons nou werk — Movable Type — is Amerikaans, en alhoewel daar ‘n Nederlandse vertaling voor bestaan moes ons die Afrikaans hier self bybou. Daar sit nog heelwat Nederlands en Engels in die stelsel, maar mettertyd sal dit alles Afrikaans word.

Hier en daar kan daar probleme wees met style (CSS), maar hopelik is dit ook iets wat ons gou kan opspoor en oplos!

Mike en sy Pikkewyne

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Woensdag 17 Augustus 2005 9:51 am

Die polisie stop vir Mike met ‘n kombi vol pikkewyne.

“En waar dink jy gaan jy met hierdie pikkewyne?” wil die konstabel weet.

“Hierdie pikkewyne is almal my vriende,” antwoord Mike. “Ons ry maar net ‘n bietjie rond.”

“Nee, nee, dit mag nie,” sê die konstabel, en beveel Mike om die pikkewyne dadelik dieretuin toe te vat.

Die volgende dag stop dieselfde konstabel vir Mike op dieselfde plek, weer met die kombi vol pikkewyne. Hierdie keer het die pikkewyne egter almal sonbrille op.

“Ek dog ek het jou gister gesê om die pikkewyne dieretuin toe te vat?” vra die konstabel kwaad.

“Maar ek het,” antwoord Mike. “En vandag gaan ons strand toe.”

Chinese

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Donderdag 11 Augustus 2005 2:23 pm

Volgens statistici is 1 in elke 5 mense in die wêreld Chinees. Ons is 5 mense in my familie, dus moet een van my familielede ook Chinees wees. Miskien is dit my ma of my pa. Of my ouer broer Frikkie. Of my jonger broer Lee Wong. Maar ek dink dis Frikkie.

Vier Vissers

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Dinsdag 9 Augustus 2005 1:09 pm

Vier vriende vang vis by die Rietvleidam. “Julle manne sal nie glo wat moes deurmaak om toestemming te kry om te kom visvang nie,” kla die eerste. “Ek moes die vrou belowe dat ek volgende naweek elke kamer in die huis gaan uitverf.”

“Dis nog niks,” kla die tweede. “Ek moes my vrou beloof dat ek by die huis ‘n jacuzzi gaan laat insit.”

“Julle het lig daarvan afgekom,” sê die derde visserman. “Voor ek kon kom visvang moes ek eers belowe om die hele kombuis te laat herdoen met my Kersfeesbonus.”

Vir ‘n paar minute sit die vier in stilte en visvang, tot hulle besef dat die vierde niks gesê het nie.

“En jy, het jy nie probleme gehad om weg te kom nie?”

“Glad nie.” Sê die ou. “Ek het my wekker gestel vir half-vyf, en toe dit afgaan rol ek om en vra: visvang of seks? Toe sê sy ek moenie my sonbrandroom vergeet nie.”

U of jy?

Geskryf deur Anton Raath | Algemeen | Vrydag 5 Augustus 2005 1:29 pm

‘n Pynlike kwessie vir Afrikaanstaliges in Nederlands is die subtiele gebruik van “jy” en “u”. Nes in Suid-Afrika het die riglyne wat hierdie twee anspreekvorme in Nederland en Vlaandere reguleer stadigaan verander oor die jare. Veral in Vlaandere, waar ouers ook vir kinders “u” kan sê, kan Afrikaanstaliges hulself sleg vasloop. In ‘n artikel “Steeds minder mensen zeggen ‘u’” in Taalschrift skryf Hanny Vermaas:

Voor mijn promotieonderzoek bracht ik het u- en jij-gebruik van 1500 personen verdeeld over drie generaties in kaart. Al vlug stelde ik vast dat je het gebruik van beide aanspreekvormen niet afdoende kan verklaren met criteria (of: dimensies) als beleefdheid en vertrouwelijkheid. Hier spelen andere factoren mee.

Die belangrikste faktore blyk “status, solidariteit en formaliteit” te wees, en die tyd en plek (en konteks) bepaal watter aanspreekvorm gebruik word.