Nederlands Bly Gewild

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Woensdag 21 September 2005 12:45 pm

Volgens ‘n ondersoek uitgevoer deur die Nederlandse Taalunie is nege uit elke tien Nederlanders en Vlaminge trots op Nederlands, en glo die meerderheid dat Engels nie ‘n direkte bedreiging vorm vir hul taal nie. Meertalige Nederlanders kies wel oorwegend (60%) vir Engels as tweede taal, teenoor ‘n minderheid (43%) Vlaminge.

Wat is politiek?

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Sondag 18 September 2005 12:57 pm

‘n Seuntjie vra aan sy pa: “Pa, wat is politiek?”

Die pa krap sy kop en dink ‘n rukkie. “Sien, eintlik is dit heel eenvoudig,” sê hy.

“Ek bring die geld huis toe, dus verteenwoordig ek KAPITALISME.”

“Jou ma beheer die geld, dus is sy die REGERING.”

“Oupa hou ‘n ogie dat alles in die gesin glad loop, dus is hy die OWERHEID.”

“Die bediende is die WERKERSKLAS.”

“Ons het almal maar net een doel in die lewe, naamlik jou welsyn. Dit maak van jou die VOLK.”

“Jou kleiner boetie in sy doeke is die TOEKOMS.”

Die seuntjie sê dis goed so, hy sal daaroor gaan dink.

Daardie nag word hy wakker van sy boetjie wat huil met ‘n vuil doek. Omdat hy nie weet wat om te doen nie, staan hy op en stap na sy ma-hulle se slaapkamer. Net sy ma is daar, en sy slaap so vas hy kan haar nie wakker kry nie.

Hy stap aan na die bediende se kamer toe, waar hy sien dat sy pa by haar in die bed lê en met vreemde dinge besig is. Hy merk ook op dat sy oupa skelm deur die venster loer. Almal is so druk besig en vasgevang in die situasie dat nie een van hulle hom opmerk nie. Die seuntjie besluit dus om maar te gaan slaap, daar is niks wat hy aan die saak kan doen nie.

Die volgende oggend vra sy pa of hy politiek nou verstaan, en dit in sy eie woorde kan uitlê.

“Ja,” sê die seuntjie. “KAPITALISME bevark die WERKERSKLAS terwyl die OWERHEID net kyk en die REGERING slaap. Die VOLK word heeltemal geïgnoreer en die TOEKOMS bring net kak.”

Varke Teel

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Sondag 11 September 2005 12:56 pm

‘n Boer uit die Suid-Kaap koop ‘n paar varke, met die hoop om produkte soos spek en ham te kan produseer. Na ‘n paar weke was nog nie een van die varke dragtig nie, en die boer raak bekommerd oor sy belegging. Die plaaslike veearts word geroep, en na ‘n deeglike ondersoek sê die spesialis daar is niks fout met die varke nie.

“Dalk moet jy kunsmatige inseminasie probeer,” stel die veearts voor.

Die boer het nie die flouste idee wat dit beteken nie, maar hy wil nie oningelig klink nie. “En hoe sal ek weet wanneer die varke dragtig is?” vra hy eerder.

“Sodra die varke dragtig is sal hulle nie meer so rondstaan nie, maar lê en in die modder rol,” antwoord die veearts.

Die boer het lank oor die voorstel van kunsmatige inseminasie gedink, en uiteindelik besluit dit beteken dat hy self die varke dragtig moet kry. Dus, eerste ding die volgende oggend laai hy die varke op sy lorrie en ry uit na ‘n verlate skuur. Daar gee hy elkeen van die varke ‘n beurt, en bring hulle weer terug na die plaas toe.

Die dag daarna gaan kyk hy angstig of die varke al lê, maar nee. Hulle staan nog net so rond, nie een is dragtig nie. Dus laai hy hulle maar weer op die lorrie, ry uit na die skuur toe, en — net om seker te maak — gee elkeen twee beurte. Hopelik sou dit die ding doen.

Maar die volgende oggend is die uitslag nog steeds negatief, nie ‘n enkele vark lyk dragtig nie. Dus, dieselfde prosedure. By die skuur gekom kry elke vark hierdie keer drie beurte, ‘n inspanning wat die boer die hele dag neem en hom uitgeput na sononder by die huis aanbring.

Die volgende oggend pyn elke spier in sy lyf, en hy kan skaars uit die bed opstaan. Hy vra toe maar sy vrou om te gaan kyk of die varke al in die modder rol.

“Nee, dis die vreemdste ding,” sê sy vrou toe sy terugkom. “Die varke staan almal agter op die lorrie en een blaas die toeter!”

Moeilike Plekname

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Saterdag 3 September 2005 12:55 pm

Twee Engelse toeriste is op reis deur Suid-Afrika. Op ‘n dag kom hulle by ‘n dorpie uit waarvan nie een van hulle die naam kan uitspreek nie. Op hul pad deur die dorp stry hulle een stryk deur. Vir middagete stop hulle by ‘n plaaslike wegneem restaurant. Toe die meisie agter die toonbank hul bestelling wil neem, vra hulle haar om hul geskil op te los. “Voor ons bestel, kan jy ons sê hoe spreek mens die naam van hierdie plek uit?”

“Ja seker,” sê die meisie. “Dis Wi-i-i-mpy Ba-a-a-r.”

‘n Eerbare Man

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Donderdag 1 September 2005 12:54 pm

Mike en sy verloofde se troudatum kom vinnig nader. Sy skoonma reël byna alles: kerk, musiek, fotograaf, blomme, spyskaart. Nie net is sy fluks nie, sy is ook nog verdomp sexy ook.

Op ‘n dag is Mike by sy skoonfamilie se huis, besig om saam met sy skoonma deur die gastelys te gaan. Sy aanstaande vrou was uit saam met ‘n paar vriendinne om haar trourok te laat pas, en sy aanstaande skoonpa was by die werk.

Enorm was sy verbasing toe sy skoonma nader skuif en fluister: “Mike, ek vind jou besonder sexy. Gespierd. Aantreklik. Ek is bly jy trou met my dogter. Maar wat sê jy ons gun onsself een middag van vleeslike plesier voor die troue?”

Sy staan op en stap sensueel die trappe op na haar slaapkamer. Bo-aan die trappe kyk sy een maal terug en sê: “Jy weet waar die slaapkamer is, en as jy te bang is weet jy waar die voordeur is…” Daarmee verdwyn sy om die hoek.

Vir ‘n volle minuut bly Mike sit, sy hart klop soos ‘n resiesperd, sy bene voel pap.

Skielik spring hy in aksie en hardloop soos ‘n wafferse atleet vir die voordeur. Buite gekom skrik hy hom lam: sy aanstaande skoonpa staan met ‘n glimlag by sy kar en wag.

“Seun,” sê hy vir Mike, “Ek sal nie toelaat dat sommer enige man met my dogter trou nie. Die regte man moet eerbaar wees, iemand van inbors. Jy het hierdie toets geslaag, en ons weet nou jy is die regte man. Welkom by die familie.”

Die les wat Mike hieruit geleer het: hou altyd, maar altyd, jou kondome in die kar eerder as jou broeksak.