Kerriepotjie

Geskryf deur Anton Raath | Kos & Wyn | Maandag 26 Desember 2005 11:38 am

Vir enigiemand op soek na ‘n goeie resep vir potjiekos, hier is een (gevind op e.Soek — op die oomblik nie bereikbaar nie):

1 kg skaap- of lamsvleis in blokkies gesny
kookolie
1 knoffelhuisie geskil en gekap
5 ml koljander
6 heel naeltjies
1 klein blikkie tamatiepasta
10 ml bruin asyn
25 ml blatjang
sout na smaak
2 uie geskil en in ringe gesny
5 ml borrie
15 ml kerriepoeier
1 stukkie heel pypkaneel
5 ml fyn jeera (komein)
250 ml appelkooskonfyt
25 ml suiker
1 groen rissie pitjies verwyder en skil gekap
250 g gedroogde appelkose in ‘n bietjie water geweek
5 ml fyngedrukte groen gemmer
1 groen soetrissie (green pepper) pitte verwyder en gekap
250 ml karringmelk of Bulgaarse jogurt

Gebruik ‘n nr. 3-pot

Braai die vleis in die olie. Voeg sout by, voeg dan uie en knoffel by, laat
effens bruin word, en voeg dan al die ander bestanddele, behalwe konfyt, blatjang en karringmelk of jugurt by.

Prut stadig vir 2.5 ure of tot die vleis sag is. Voeg dan ander bestanddele
by. Voeg nog sout by indien jy sou verkies.

Bedien met gekookte rys of net so met gekapte tamatie en uie.

 

This is Potjiekos, Potjiekos from Huisgenoot, Annette Human Se Raakvat-resepte, Kos vir die kenner: ‘n kookboek met meer as duisend goeie resepte, Huffel En Suffel: Resepte Vir Vingers Aflek

Vlieg Blind

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Maandag 26 Desember 2005 11:06 am

Die passasiers op ‘n SAL vlug van Bloemfontein na George sit al reg om te vertrek as die kapein en tweede kaptein aan boord kom. Albei het donkerbrille aan, die een stap met ‘n gidshond en die ander gebruik ‘n wit stok om sy pad te vind. Sommige van die passasiers giggel senuagtig, want dis sekerlik ‘n grap.

Die motore word aangesit, die vliegtuig kom in beweging, begin spoed optel op die aanloopbaan, maar styg nie op nie. Intussen kom die einde van die aanloopbaan al hoe nader en nader, en die passasiers begin ongerus rond te kyk. Die vliegtuig beweeg vinniger en vinniger, amper aan die einde van die aanloopbaan, en ‘n handvol passasiers begin gil en skree en huil, tot die vliegtuig se neus lig en ‘n paar meter voor die einde van die aanloopbaan begin opstyg.

‘n Paar passasiers sug van verligting, ‘n paar ander lyk skaam oor hoe hulle op die skrikwekkende grappie gereageer het, en wanneer die eerste drankies bedien word vergeet almal van die insident.

In die vlugkajuit voel-voel die kaptein sy pad na die knoppie gemerk “Automatic Pilot”, druk dit, en sit terug in sy stoel. “Weet jy,” sê hy aan die tweede kaptein. “Eendag gaan die bliksems te laat begin gil, en dan bars ons!”

Mike en die Bul

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Maandag 26 Desember 2005 10:53 am

Mike en sy vrou besoek ‘n landbouskou in die verre Noord-Transvaal.

In ‘n kampie staan ‘n bul, met ‘n bordjie wat die bul se prestasies verkondig: “Het laasjaar 50 keer gepaar.”

“Vyftig keer,” wys Mike se vrou aan hom uit, en gee hom ‘n vuil kyk.

‘n Paar meter verder staan ‘n tweede bul in ‘n kampie, met ‘n bordjie wat sê: “Het laasjaar 100 keer gepaar.”

“‘n Honderd keer,” sê Mike se vrou verwytend, en gee hom ‘n nog vuiler kyk.

Die volgende bul se kampie het ook ‘n kennisgewing: “Het laasjaar 300 keer gepaar.”

“Drie honderd keer!” sê Mike se vrou, en gee hom die vuilste kyk denkbaar. “Jy kan iets leer by hierdie bul!”

“Wel,” antwoord Mike. “Gaan vra hom of dit elke keer met dieselfde ou koei was…”

Nederlands Bedreig?

Geskryf deur Anton Raath | Taalpolitiek | Maandag 26 Desember 2005 8:39 am

Nederlands is volgens sy kampvegters in ‘n toenemend benarde positie ten opsigte van Engels. Soos baie ander “kleiner” tale (want met ongeveer 20 miljoen sprekers is Nederlands sekerlik nie ‘n minderheidstaal nie) voel Nederlands die warm asem van globariserende Engels in sy nek.

Afrikaanse Linux User Group (aflug)

Geskryf deur Anton Raath | Algemeen | Dinsdag 6 Desember 2005 1:35 pm

Oopbron kampvegter Charl van Niekerk skryf dat die Afrikaanse Linux User Group (aflug) sopas gestig is. LUGs is ‘n trotse tradisie van Linux en die oopbron wêreld. Die meeste gebruikersgroepe het ‘n geografiese basis, en aflug is een van die min (die enigste?) met ‘n taal as basis. Op die oomblik is daar nog minder as tien lede ingeskryf, so as jy die gebruik van oopbron sagteware ondersteun (of meer daarvan wil leer) en die gebruik van Afrikaans in die tegnologiewêreld wil bevorder, maak gou en skryf in.

 

A Practical Guide to Linux(R) Commands, Editors, and Shell Programming Linux Administration Handbook (2nd Edition) Ubuntu 6.10 (PC Edition)

Twee Vryers

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Vrydag 2 Desember 2005 1:47 pm

‘n Polisieman op patrollie sien een aand ‘n kar in ‘n verlate straatjie geparkeer. By nadere ondersoek blyk dit dat daar twee tieners in die kar sit, ‘n jong man voor besig om ‘n rekenaartydskrif te lees, en ‘n jong meisie agterin besig om te hekel.

Die polisieman klop aan die venster, en die jong man maak dit ook. “Ja, konstabel?”

“Wat doen jy?”

“Ek lees ‘n rekenaartydskrif, konstabel.”

“En wat doen die meisie?”

“Sy hekel, konstabel.”

“Seun, hoe oud is jy?”

“Ek is negentien, konstabel,” antwoord die jong man.

“En hoe oud is die meisie wat daar agter sit en hekel?”

Die jong man kyk op sy horlosie en sê: “Wel, konstabel, oor vyftien minute sal sy sestien wees.”

Woordenboek van de Brabantse Dialecten

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Vrydag 2 Desember 2005 1:15 pm

Na meer as 40 jaar werk is die Woordenboek van de Brabantse Dialecten uiteindelik klaar. Professor Toon Weijnen van die Nijmeegs Centrum voor Dialect- en Naamkunde het in 1961 begin met hierdie projek om die streekstaal van Vlaams-Brabant en Antwerpen in Vlaanderen en Noord-Brabant in Nederland behoorlik op te teken.

 

Ansichten Vom Niederrhein, von Brabant, Flandern, Holland, England und Frankreich, in Aptil, Mai und Junius 1790