‘n Historiese Woordeboek van Afrikaans

Geskryf deur Anton Raath | Taalkunde | Woensdag 8 Maart 2006 3:42 pm

Deur Jeremy Bergerson, University of Minnesota-Twin Cities

Al vanaf die laat neëntiende en die vroeë twintigste eeu al beskik ons oor bronne vir die bestudering van die Afrikaanse woordeskat in historiese verband. J.L.M. Franken, deeglike navorser van Suid-Afrikaanse geskiedenis en gedeë taalkundige, se Gentse proefskrif “Over de Oorsprong van het Afrikaans” (1914) staan bekend as een van die eerste versamelings boustowwe vir ‘n historiese woordeboek van Afrikaans1. Alleen staan hy seker nie; verdere geleerdes wat ons kan noem is G.S. Nienaber, S.P.E. Boshoff, F.J. Snijman, L.C. Eksteen, en boonal J. du P. Scholtz, wat alombekend is vir sy talle waardevolle leksikologiese aantekeninge2. Van hom het ook twee boeke oor die herkoms van Afrikaanse plant- en diername3 verskyn. Hulle dien as onontbeerlik vir die leksikoloog. Scholtz was een van die gesaghebbendste voorstaanders van ‘n historiese woordeboek van Afrikaans, dog laat hy hom só uit (1972:107): “Die tyd het nog nie gekom dat ons ‘n woordeboek van Afrikaans op historiese grondslag kan aanpak nie. Daar sal nog enorm baie materiaal versamel en voorstudies geskrywe moet word.” Dit was in 1972, en dit lyk my daar het sedertdien nie baie verandering aan die beskrewe situasie aangekom nie.

Wat betref die hedendaagse leksikologiese toestand van Afrikaans, is daar baie waaroor ‘n mens hom te danke het. Die Buro van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) werk voortdurig aan die res van die alfabet (N-Z), en vergeleke met die slakkepas wat dit in die tagtigerjare gevat het, loop sake nou op die oomblik maar vinnig-vinnig. En die kwaliteit bly steeds van die hoogste rang – selfs die boeke se konstruksie is fantasties. Verder bestaan daar só baie vertalende woordeboeke (oor o.a. borduurwerkterme, militêre terme, regsterme, mediese terme, mynterme, ens. [die lys gaan waarlik aan en aan]) dat Afrikaans in oorvloed daarvoor versorg is, en die HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) vervul die N-Z kloof wat die WAT nog moet bebrug, behandelende die Afrikaanse woordeskat in sy geheel. Van ‘n egter teoretiese/wetenskaplike aard het ons vir Prof Rufus Gouws en sy leksikografieprogramma op Stellenbosch, wat een van die belangrikste sentra vir leksikologie in heel Afrika is.

Die geskiedenis van die historiese leksikografie in Suid-Afrika word volledig bespreek in Gouws & Ponelis (1992:83-6), dog dit lyk wenslik om ‘n ietsie hieromtrent te sê. Neëntiende-eeuse woordelyste van Changuion (1848), Pannevis (1880), Kern (1890), en Du Toit (1908) maak belangrike bydraes uit oor die dae toe Afrikaans ietwat vryer gebruik was4. ‘n Deurbraak is gemaak toe Mansvelt (1884) verskyn, ‘n waardevolle bron inderdaad. Dis die eerste poging om ‘n woordeboek van Afrikaans saam te stel, met besonder baie interessante vorme en hul vermoedlike herkomste. Soms mistas Mansvelt, maar dikwels is sy siening korrek.

Na Mansvelt kom Boshoff se nuttige Volk en Taal van Suid-Afrika (1923), wat die etimoloog baiekeer moet raadpleeg. Boshoff (1936), wat gevolglik verwytend-versoenend deur J. du P. Scholtz geresenseer is , het nie die impak van sy ander boek gehad nie. J.L.M. Franken (1953a, 1953b) is twee van die interessantste werke oor die geskiedenis van Afrikaanse woorde, wat, afgesien van die gebrek in Taalhistoriese bydraes (1953b) aan ‘n ordentlike bibliografie en goed gerangskikte woordelys, deel van die fondament van die Afrikaanse etimologie is. Boshoff het saam met G.S. Nienaber gewerk om Afrikaanse etimologieë op die been te bring, wat dan in 1967 verskyn het. Die boek se konstruksie is besonder goed, moet ek byvoeg, en wat die inhoud betref kan ons Gouws & Ponelis (84) raadpleeg, wat die moeite werd is om in sy geheel weer te gee: “Boshoff/Nienaber (1967) is comprehensive, but difficult to consult: it is an index to research on Afrikaans historical lexicography rather than an independent historical dictionary. The work runs to 741 pages, of which 625 consist of the dictionary proper, the rest comprising an extensive introduction (by Boshoff, the principal author) and a list of references. The introduction is an excellent treatise on the state of the discipline. The entries, excluding a considerable number of cross-references, number over 5,000.” In 2003 het die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) verskyn. Dit het ditself tot taak gestel om deur die “breë intellektuele gemeenskap” gebruik te word, waarin dit seker geslaag het. Bemoedigend is dit ook dat die projek behartig word deur ‘n groot befondsing uit Nederland, deur die Instituut voor Nederlandse Lexicologie. Die gebruikmaking van pas beskikbaar gemaakte bronnemateriaal oor ganna, makeer, en malkop, byvoorbeeld, is ‘n groot voordeel, tog het ek sulke essensiële woorde as bry, kontrei, en watter hierby gemis.

Scholtz het gelyk waar hy sê dat nog enorm baie materiaal en studies versamel moet word – ingeval ons ‘n eg omvattende historiese woordeboek sou wou skryf, vermoedelik iets soos die Woordenboek der Nederlandse Taal. Dit lyk my nie baie realisties nie. Daar bestaan nòg die kapitaal nòg die belangstelling om so ‘n reusagtige projek in die lewe te roep. Dit sou ‘n geweldige jammerte wees as dit ons enigste keuse was. Gelukkig is dit nie. Daar is maar ‘n ander gestalt wat so ‘n woordeboek darem kon aanneem, naamlik as ons net gaan kyk vir die Dictionnaire Historique du Français Québécois, 1998, St. Pierre, Les Presses de l’Université Laval. Heel omvattend van die hele Québécoise woordvoorraad is hy gladnie, dog is dit ‘n uiters deeglike studie van die ruim duisend woorde wat daarin wel opgeneem is. Esteties gesien is die bladplan/ontwerp baie tevredestellend, wat dan te sê van die noukeurige studies van amper al die woorde.

Soos Boshoff & Nienaber (1967) verklaar, is dit nie nodig om woorde wat basies dieselfde in Nederlands is, in ‘n Afrikaanse woordeboek op te neem nie. Die Nederlandse woordeskat is ongelooflik goed beskryf, deur twee waardevolle etimologiese woordeboeke , talryke artikels in tydskrifte soos Tijdschrift voor Nederlandse Taal- en Letterkunde, Taal en Letteren, Onze Taaltuin, De Nieuwe Taalgids, en Taal en Tongval (onder andere), en natuurlik die WNT. Dis gewoon nie die moeite werd om dit als te herdoen nie. Maar as ‘n mens so om en by die duisend inskrywings het, sou dit sekerlik ‘n mooi woordeboekie uitmaak.

Wat betref die bronnemateriaal wat geput kan word, moet ons eers melding maak van die uiters waardevolle transkriberingwerk wat tans aangaan by die TANAP. Hulle webwerf bevat op die oomblik die Resolusies van die Politieke Raad, en hulle gaan met hul onbegonne taak voort. Die tekste wat hulle bewerk, is dié van die VOC, en word dus in die amptelike Nederlands van die tyd geskryf. Maar die invloed van amptelike Nederlands op Afrikaans is nie te ontkenne nie. In der waarheid was dié se invloed nie baie groot nie, maar aangesien dat ons oor hierdie bronne beskik, lyk dit wenslik om van hulle gebruik te maak.

Die bronne vir die opstel van ‘n historiese woordeboek is van ses soorte: a) reisverhale (Sparrman 1772, 1776; Thunberg 1772; le Vaillant 1780-85; di Capelli 1803; Thompson 1821-24) wat enkele leksikale items verskaf, b) dagregisters (Van Riebeeck 1652-57; Bergh 1682-83; Haupt 1752; Wikar 1779) wat ook enkele leksikale items bevat, c) tekste in gebroke Nederlands, òf deur Khoi-Khoin òf deur Franse, wat van minder belang is as enige andere tekste, maar waar tog bewyse van vroeë gebruik van Afrikaanse woorde insit, d) Kaaps gekleurde geskrifte (Die Kaapse Taalargief, die Van Oordt-versameling, ongepubliseerde stukke wat nog in die Kaapse Argiewe gehuisves is; die Kas- en Dagboek van Johanna Duminy-Nöthling, die Dagboek van Louis Trigardt), e) die eerste Afrikaanse tekste (almal opgeneem in G.S. Nienaber 1971; Arabies-Afrikaanse geskrifte), f) amptelike tekste (Memoriën en instuctiën; Kaapse plakkaatboek; Kaapse taalarchief; Resolusies van die politieke raad). Natuurlik sal die Dagregister van Jan van Riebeeck as uitgangspunt dien. Sy taal is gladnie Afrikaans nie, maar die simboliese betekenis daarvan, saam met die leksikale elemente daarin maak dit ‘n vanselfsprekende keuse. Is hierdie duisende bladsye materiaal nie genoeënd vir die voorgenome doeleindes nie?

Ek gee hier ter ondersteuning ‘n paar bylaes by. Die eerste is ‘n nog onuitgegewe woordstudie wat m.i. korrek is. Omdat die eerste bylae in ‘n spesiale formaat (dié gebaseerd op Dictionnaire historique du français québécois) is, word dit as pdf-file bygegee. Die tweede is ‘n lys van moontlike woorde vir só ‘n woordeboek. Die woorde kan in ‘n paar kategrorieë onderdeel word: 1) Woorde met sterk ooreenkomste in Nederlandse dialekte; 2) Historiese woorde; 3) Woorde wat ook Nederlands is maar wat in Afrikaans ‘n afwykende betekenis het; 4) Streekwoorde (Bolands, Visserstaal, ens.), 5) 17de eeuse seemanstaal, 6) Maleise en Portugese woorde. Die naamgewing aan plante en diere in Afrikaans maak miskien een van die belangrikste dele van die Afrikaanse woordeskat uit. Die probleem rondom die opneem en behandeling van die name vir flora en fauna in Afrikaans is juis dat die woordvoorraad só erg groot is, dat dit bes as aparte studie benader moet word, wat eintlik ons nie nadeel nie, omdat Scholtz vir ons reeds daarvoor gesorg het. Trouens, sy studies is nou ‘n bietjie ouerig, en daar het sedertdien nogal ‘n paar artikels daaroor verskyn. Maar voorlopig kan ons ons ‘n woordeboek sonder plant- en diername voorstel. Verder, woorde soos agterossambok, boekspieël en droëntyd en heelwat ander samestellings kan na willekeur vermeerder word (veral plant- en diername), en sal dus ook hier nie ‘n plek kan kry nie.

Hierdie bydrae is grootliks ‘n reïterasie van die bewerings in Eksteen (1976), met die hoop om dalk ‘n groter leserskring te kan betrek. Hy wei hom uitvoeriger uit as wat ons nou hier doen, dus ‘n deurlesing daarvan kan heel bevorderlik wees.

Om ‘n beginsel te maak, sal nou op afrikaans.be ‘n maandelike vraelys van Afrikaanse woorde verskyn. Dit dien as opgaarplek vir allerlei mededelings oor die betrokke woorde: verwysings na enige tydskrif- of koerantartikels, assosiasies daarmee (wie besig die woorde?, waar bly hulle?, is hulle meesal opgevoed of nie?, klink die woordjie ouerig?), en enige andere inligting.

Moontlik behandelde woorde in ‘n historiese woordeboek van Afrikaans

-a suffiks
aangeklam ‘dronk’
aanpresenteer ‘aanbied’
aans ‘miskien, binnekort’
aapskeloeder ’skelm’
aardig Afr ‘vreemd, raar’ Ned ‘aangenaam’
abba ‘kind op die rug dra’
abjater ’snuiter’
afdraand ‘helling’
affêring ‘affêre’
afhaar ‘afhalen (hoed van kop)’
afjak ‘pak slae’
Afrikaner ‘Afrikaanssprekende blanke’
afrokkel ‘op slinkse wyse van iemand verkry’
aia ‘kinderoppaster’
akka kindertaal vir ’skyt’
akkerboom ‘eikeboom’
akkordeer ‘ooreenkom’
aksionabel ’strafbaar’
aljimmers ‘altyd’
alla uitr
allenig ‘alleen’
alte ‘baie’
amper ‘bijna’
ander Afr ‘tweede’ Ned ‘niet dezelfde’
anderkant ‘oorkant’
asem ‘ademen’
aspris ‘expres’
atrappeer ‘vang’
baadjie ‘jas’
baar ‘ongeleerd’
baas ‘voorman’
baba ‘baby’
baie ’seer, veel’
balie ‘ton’
(tjank)balie ‘kind wat baie huil’
baljaar ‘luidrugtig speel’
baken ‘grensmerk van ‘n plaas’
baklei ‘rusie maak’
bakleislag ‘geveg’
bandiet ‘gevangene’
bartel(ing) ‘gedoente’
beginsel ‘begin’
begos ‘het begin’
beker ‘kan’
ben ‘is’
besigheid ’sake’
beslommernis ‘beslommering’
bewerasie ‘bibberatie’
biebies ‘ongedierte op die kop’
bietjie ‘beetje, even’
biltong ‘gedroogde vleis’
blaasbalk ‘blaasbalg’
blatjang ‘chutney’
bloeisel ‘bloesem’
bo ‘boven’ ‘Kaaptoe’
bobotie ‘Maleise gereg’
bodder ‘bother’
boeglam ‘uitgeput’
boepens ‘pens’
Boesman ‘Bushmen’
boet ‘broer’
bohaai ‘geroesemoes’
Boland ’suid-westerlike deel van die Kaap’
bolmakiesie ‘duikel’
booi ‘jong gekleurde manlike bediende’
borsspeld ‘broche’
bos ‘gewas’
bottel ‘fles’
bra(af) ‘nogal’
bredie ‘Maleise gereg’
brei ’sag maak’
bry ‘keel-r uitspreek’
bult ‘heuvel’
bywoner ’sharecropper’
daardie ‘that, those’
dalk ‘miskien’
dam ‘opgedamde waterplek’
darem ‘te minste’
dè, dê ‘daar’s hy!’
deedlik ‘deugdelik’
die ‘de’
dié aanwysende voornaamwoord
different ‘verskil’
disnis ‘kapot’
dit aanwysende voornaamwoord
doer ‘dáár’
dogter ‘meisie’
doodleuters ‘ongeërg’
dop ’sopie van sterk drank’
drif Afr ‘deurgaan plek in ‘n spruit of rivier’ Ned ’steeg, weg’
dros ’skelm uit die leër, uit ‘n tehuis wegloop’
dubbejoe ‘moeilikheid’
Duis, Duusman ‘benaming vir Blanke deur Gekleurdes’
dusketyd ‘hierdie tyd’
duskant ‘daardie kant’
effens ‘even’ ”n bietjie’
eenspaaierig ‘asosiaal’
eers ‘eens’
eider (yder) ‘ieder’
eina ‘ouch!’
eksie-perfeksie ‘in die beste orde’
element ‘nar’
els ‘priem’
ens ‘hou van’
es ‘vuurherd’
ewe modale betekenis in Afr
faikonta ‘kamma’
feillap ‘lap vir skoonmaak’
fieterjasies ‘tierlantyntjies’
fipatoi uitr
flennie ‘kombers’
fliek ‘film’ ‘film kyk’
flus(sies) ‘netnou’
fontein ‘plek of bron waar natuurlike water uit die aard uitloop’
gaip ‘ghwar, tor’
gansegaar ‘heeltemal’
gasie ‘loon’
gedaan Afr ‘afgemat’ Ned p.p. van doen
gekempera ‘van gemengde rasse’
genant ‘naamgenoot’
genieps(ig) ‘afknouerig’
gesels ‘chat’
gevreet Afr ‘gesig’ Ned ‘gevreten’
ghantang ‘vryer’
ghoen ‘groot albaster’
glad ‘geheel’
glo ‘oënskynlik’
gops ‘minderwaardige buurt’
gus ‘onvrugbaar’
gy ‘u’
haar ‘regs’
haikôna uitr
haiwie ‘lawaai’
hakskeen ‘hiel’
halfaam ‘inhoudsmaat’
hang Afr ‘(berg)helling’ Ned ‘een voorwerp waaraan of waar iets hangt’
hartbeeshuisie ‘tipe huis’
hê/het ‘hebben, heeft’
heb ‘het’
hekel ‘haak’
hemp ‘hemd’
hierdie ‘deze’
hoeka ‘lang gelede’
hoekom ‘waarom’
hom ‘hem’
hot ‘links’
hulle ‘zij, hun’
-hulle ‘en hulle’
iewerig ‘ywerig’
hes ’swaap’
heslik ‘lelik’
jaaif ‘omswaai (van boot)’
jags ‘met geslagsdrang’
janrappa “Jan Raap en sy maat”
japsnoet ’snuiter’
jilletjie ‘grap’
jislaaik uitr.
jol ‘feesten’
jong ‘Afr ‘Swart- of Kleurling bediende’ Ned ‘jonge man’
juistement uitr
julle ‘jullie’
Kaap ‘Kaapstad, -skiereiland’
kabaai ‘vroulike bokleed’
kaduks ‘kapot’
kaiings ‘kaantjes’
kalant ’skelm’
kamma ‘kwansuis’
kanis ‘vuil vent’
kap ‘hakken’
kapater ‘gesnyde bok’
kapok ’sneeu’
kapot Afr ‘vermoeid (diere)’ Ned ‘uit orde’
karba ‘groot fles’
kardoes ‘cartouche’
karet ‘bagasierak’
karkatjie ’seertjie aan ooglid’
karnallie Afr ’skelm’ Ned kanalje ‘gemene persoon’
karos ‘velkombers’
kasueel ’sonder meer’
katel ‘ledekant’
katools ‘gek’
kaveer ‘moeite doen, stry’
keil ‘tipe hoed’
kennetjie ‘kinderspeletjie’
keps ‘hoed’
kês ’stremsel’
kielie ‘kietelen’
kiepersol ’sonsambreel’
kierie ‘wandelstok’
kleintongetjie ‘huig’
kleingoed ‘kinders’
klip ‘rots’
klomp ‘groep’
klong ’swarte seun’
kloof Afr ‘groot ruimte, ‘n vallei tussen berge of berghange’ Ned ‘diepe gaping met zeer steile wanden in een berg’
klops ‘trop Kleurlingmusikante’
kneg ‘opsigter op ‘n boereplaas’ Ned ‘bediende’
kniehalter ‘manier van perdery’
koeël ‘kogel’
koggel ‘naboots’
kombers ‘deken’
kombuis ‘keuken’
komplot ‘aantal’
konsensie ‘gewete’
kontrei ’streek’
kooi(goed) ‘bed(degoed)’
kop Afr ‘hoof (van mens)’ Ned ‘hoofd (van dier)’
kopbeen ’skedel’
koort ‘hof’
kortendag ‘binnekort’
kos ‘eten’
kraal ‘omheinde ruimte’
kuier ‘besoek aflê’
kuken ‘kombuis’
kul ‘verneuk’
lat ’sodat, dat, laat’
lawaai ‘geraas maak’
lekker ‘aangenaam’
lelik ‘onbeleefd’
liefêr ‘geneig wees’
loesing ‘pak slae’
los ‘loslaten’
maai ‘moer’
makeer ‘mankeren’
manewales ’streken’
manier ‘gewoonte’
mankoliek ’sieklik’
maskie ‘almaskie’ ‘miskien’
meid Afr ‘Swart- of Kleurlingvrou, -bediende’ Ned ‘meisje, jonge vrouw’
mekaar ‘elkaar’
mêmme ‘motjie’
menteneer ‘bestuur, behartig’
mied ‘mijd’
mielies ‘koring’
mieta ‘genant’
min ‘weinig’
moeg ‘moe’
moer ‘moeder’ ’slaan’
moestas ’snorbaard’
mos ‘immers’
motjie ‘ou Kleurlingvrou’
motor ‘kar’
moveer ‘pla’
myselwers nadruklike ‘myself’
naweek ‘weekend’
‘is dit nie so nie?’
neef aanspreekvorm tussen manne
nek Afr ‘inkeping of pas in ‘n berg’ Ned ‘achterste deel van de hals’
nes ‘net soos’
net ‘presies’
neuk Afr ’slaan, lol’ Ned ‘geslachtsgemeenschap hebben’
niks ‘niets’
nimlik ‘einste’
nôi ‘meisie’
norring ‘enorm’
nuut ‘nieuw’
oes ’sleg’
omgee Afr ‘op iets let
hou van’ Ned ‘zich eromheen bevinden’
okkasie ‘geleentheid’
olik ’siekerig’
onder ‘beneden’ ‘Kaap toe’
onderduims ‘achterbaks’
ongans ’siek’
onklaar ‘in die moeilikheid kom’
ons ‘wij’
ontwil ‘onthalwe’
oom formele aanspreekvorm vir ouer man
oond ‘oven’
oorkrawwetjie ‘oorbel’
oorlams ‘bedrewe’
opdraand ’steilte’
operd ‘aanaarden’
otjie ‘varkie’
ou(ens) ‘vent’
oulik ‘bekoorlik’
ousanna ‘outydse geweer’
paai eerbiedige aanspreekvorm vir man
pad ‘enige begaanbare weg (motors inklusief)’ ‘ruimte om verby te loop’
padda ’springende amfibie’
pamperlang ‘vlei’
pampier ‘papier’
pareer ‘afwend’
parmantig ‘brutaal’
party ‘enige’
pasella ‘present’
passabel ‘draaglik’
‘moeg’
pelloe ‘kapel’
petaal ‘betaal’
piering ‘klein skotteltjie’
plaas ‘boerdery’
plek ‘plaats’
pluiings ‘vodde’
poena ‘tipe geweer’ ‘dier sonder horings’
poerbasledan ‘tot tydverdryf’
poes ‘vulva’ ‘gooi’
poespas ‘deurmekaar’
pokkel ’sukkel’
portfesie(deur) ‘porte-brisée deur’
rabbedoe ‘wildebras’
ramkie ‘instrument’
rand ‘klipperige hoogte
smal berghelling’
rapat ‘vinnig’
rêrig ‘regtig’
resnawel ‘regtig’
rif ‘mineraalhoudende rotsbank’
rondawel ‘tipe huis’
runnik ’steier’
ruspe ‘rupsen’
sa uitr.
sambok ‘tipe slaanding’
sambreel ‘paraplu’
sampioen ‘paddastoel’
se possessiewe artikel
sens ‘zeis’
serp ’sjerp’
seties ”n dans’
seun ‘jongetje’
seur hoflike aanspreekvorm teenoor ‘n baas
siejy ‘gemene vent’
sies uitr.
siks ‘by my siks!’
skappeer ‘ontsnap’
skelm ’skurk’
skepsel ‘Kleurling’
skinner ‘gossip’
skof ‘tyd of afstand wat sonder onderbreking gemarsjeer word’
skoor ‘moeilikheid’
skoppelmaai ‘hangende swaaitoestel’
slegmaak ‘zwartmaken’
smous ‘rondreisende handelaar’
snaaks ‘vreemd’
snees ‘rower’ ‘Hottentot’
soel ‘van gemengde bloed’
sommer ’somaar’
sooibrand ‘brand in die maag’
spaander ‘hardloop’
spens ‘kas in kombuis’
spioen ’spion’
spog ‘pochen’
spruit ‘Afr ’sytak van ‘n rivier, ‘n klein riviertjie’ Ned ‘aftakking van een touw of buis’
stadig ‘langsaam’
steeks ‘koppig’
stiebeuel ’stijgbeugel’
stiksiende ‘bijziende’
strawasie ‘afmattende werk’
stukkend ’stukken’
sulle ‘hulle’
swernoot ’skurk’
swetrioel ‘rommel’
sypaadjie ’sidewalk’
tamaai ‘enorm’
tante formele aanspreekvorm vir ouer vrou
teewater ‘tee’
tet ‘bors’
tjalie ’sjaal’
tjank ‘huil’
-(e)tjie verkleiningsuitgang
tjoek ‘albster’
toe ‘toen, toe’
toebroodjie ’sandwich’
toeka ‘lank gelede’
toiings ‘fraiings’
toon ‘teen’
torring ‘terg’
trek ‘inlands gaan’
tronk ‘gevangenis’
trop ‘troep’
twak ‘tabak’
uitwiks ‘pak slae gee’
vaak Afr ‘moeg’ Ned ‘dikwels’
vabond ’skurk’
vaderlands ‘met betrekking tot Nederland’
van ‘familienaam’
vanmelewe ‘vroeër’
vantevore ‘vroeger’
vark ‘zwijn’
vat ‘nemen’
veld spesiale toepassing in Afrika
venster ‘raam’
verbrou Afr ‘bederf
verknoei‘ Ned ‘brouwend verbruiken’
verfoes ‘verniel’
vergange ‘onlangs’
verloor ‘verliezen’
verrinneweer ‘ruïneren’
verskoon Afr ‘pardon’ Ned ’schoon maken’
vies ‘geïrriteerd’
vinnig ’snel’
vir met dativum
vlei ‘moerassige laagte’
voetsek uitr.
vrank ‘wrang’
vrek ‘doodgaan’
vrieg ‘het gevra’
vroegstuk ‘ontbyt’
vroetel ‘wroeten’
watter ‘welke’
wenakker ‘deel van ploegland’
werda uitr
wêreld Afr ‘gedeelte van die aardoppervlakte, ‘n streek’ Ned ‘wereld’
werskaf ‘besig wees’
wy ‘ons’
ystervark ‘egel’

Voetnotas

#1 Word tans versorg deur die skrywer van hierdie artikel.

#2 Die eerste drie aflewerings het eers in Tydskrif vir Wetenskappe en Kuns as volg verskyn: Okt. 1935, ‘Bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse woordeskat.’ 14(1): 1-38; Julie 1936, ‘Verdere bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse woordeskat.’ 14(4): 184-196; Mei 1947, ‘Leksikologiese aantekeninge uit ou Kaapse bronne.’ Nuwe Reeks 7(1): 20-41 [gesamentlik opgeneem in Afrikaans uit die vroeë tyd, 1965.] Sy laaste bydrae tot dié reeks verskyn in sy opstellebundel Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu, ‘Boustowwe vir ‘n Historiese Woordeboek van Afrikaans.’

#3 Uit die geskiedenis van die naamgewing aan plante en diere in Afrikaans. 1941; en nuut-bewerk as Naamgewing aan plante en diere in Afrikaans. 1974.

#4 D.w.s. sy regionale skakeringe moes toe nog sterker gewees het; standardisering en daardeur kwasi-vertransvaalsering was ‘n twintigste-eeuse ontwikkeling. Bolands is toe wyer gepraat as dit nou is, synde deesdae besien as òf ‘plasie’ (het ek eenkeer gehoor) òf as die nog ‘n rukkie afwykender Kaaps.

Aangehaalde werke

AE = Boshoff, S.P.E. & G.S. Nienaber. 1967. Afrikaanse etimologieë. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Boshoff, S.P.E. 1936. Etimologiese woordeboek van Afrikaans. Kaapstad: Nasionale Pers.
Changuion, A.N.E. 1848. De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld. Rotterdam: van der Vliet. Opgeneem in Van der Merwe 1971:129-221.
De Klerk, W.J. & F.A. Ponelis. 1976. Gedenkbundel H.J.J.M. van der Merwe. Pretoria: Van Schaik.
Du Toit, S.J. 1908. Afrikaanse taalskat. In Van der Merwe 1971:223-262.
Eksteen, Louis C. 1976. “‘n Woordeboek van Afrikaans op historiese grondslag.” In: De Klerk & Ponelis 1976:67-75.
EWA = Van Wyk, G.J. (red.) en A.E. Cloete, A. Jordaan, H.C. Liebenberg, en H.J. Lubbe. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die WAT.
Gouws, Rufus & Frits Ponelis. 1992. “The Development of Afrikaans and the Lexicographical Tradition.” In: Zgusta, Ladislav (red.), History, Languages, and Lexicographers. bl. 77-104. Tübingen: Niemeyer.
Kern, H. 1890. Woordenlijst van het Transvaalsch Taaleigen. In Van der Merwe 1971:39-50.
Mansvelt, N. 1884. Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon. Kaapstad: Martin.
Pannevis, A. 1880. Afskrif van lys van Afrikaanse woorde en uitdrukkings. In Van der Merwe 1971:61-127.
Poirier, Claude. 1998. Dictionnaire historique du français qébécois. Sainte-Foy: Les Presses de l’Université Laval.
Raidt, Edith. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. 3de druk. Kaapstad: Nasou.
Scholtz, J. du P. 1965. Afrikaans uit die vroeë tyd. Kaapstad: Nasou.
Scholtz, J. du P. 1972. Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu. Kaapstad: Nasou.
Van der Merwe, H.J.J.M. 1971. Vroeë Afrikaanse woordelyste. Pretoria: Van Schaik.

Geen Kommentaar »

Nog geen kommentaar nie.

RSS voer vir kommentaar op hierdie bydrae.

Lewer kommentaar