Jan van Riebeeck en Rip van Winkle, Taalgenote

Geskryf deur Anton Raath | Taalkunde | Dinsdag 25 April 2006 4:16 pm

Deur Jeremy Bergerson, University of Minnesota-Twin Cities

Die Burger het, in sy Taalskatkis seksie, op die vyftiende Oktober 2002 ‘n artikeltjie laat verskyn wat op moontlike raakpunte tussen Afrikaans en Amerikaans probeer wys het. Ek wil die konneksie tussen Amerikaans en Afrikaans kortliks bespreek, sowel as ‘n omvattende bibliografie van werke daaroor verskaf. Die skrywer van bogenoemde artikel het die aandag op sekere Afrikaanse en Amerikaanse woorde gevestig en daarvoor afleidings geopper. Sommige van hulle is foutief; byvoorbeeld die kamma-verband tussen dié twee sinnetjies: Jy lieg, man en You’re lying, man. As ‘n mens net ‘n Deen hoor praat, of iemand uit Berlyn, dan word jy getref deur daardie oorgehaalde woordjie man, wat hulle so liefhet. Wil ons dan probeer betuig dat daar ‘n verband bestaan tussen Deens en Afrikaans, of Amerikaans en Berlyns? Seker nie. Dis wel interessant dat Afrikaans en Amerikaans die woord man so dikwels gebruik, maar die feit dat die woord gedeel word onder die twee tale sê niks oor die moontlike oordrag van die een na die ander nie.

Die Burger het, in sy Taalskatkis seksie, op die vyftiende Oktober 2002 ‘n artikeltjie laat verskyn wat op moontlike raakpunte tussen Afrikaans en Amerikaans probeer wys het. Ek wil die konneksie tussen Amerikaans en Afrikaans kortliks bespreek, sowel as ‘n omvattende bibliografie van werke daaroor verskaf. Die skrywer van bogenoemde artikel het die aandag op sekere Afrikaanse en Amerikaanse woorde gevestig en daarvoor afleidings geopper. Sommige van hulle is foutief; byvoorbeeld die kamma-verband tussen dié twee sinnetjies: Jy lieg, man en You’re lying, man. As ‘n mens net ‘n Deen hoor praat, of iemand uit Berlyn, dan word jy getref deur daardie oorgehaalde woordjie man, wat hulle so liefhet. Wil ons dan probeer betuig dat daar ‘n verband bestaan tussen Deens en Afrikaans, of Amerikaans en Berlyns? Seker nie. Dis wel interessant dat Afrikaans en Amerikaans die woord man so dikwels gebruik, maar die feit dat die woord gedeel word onder die twee tale sê niks oor die moontlike oordrag van die een na die ander nie.

Maar elders het die skrywer gelyk, soos by sy opmerkings rondom die bekende woord Yankee1, wat nog omstrede is, dat dit waarskynlik sy wortels het in die denegreerende gebruik van die alledaagse Nederlandse naam Jan (verklein tot Jantje); vgl. Janraap en sy maat, bangjan, maljan, en so aan. Dat die suffiks -tje as -kie uitgespreek kan word, word deur talle Nederlandse en Vlaamse dialekte sowel as Afrikaans bevestig.

(Ek het al baie van die vroeë Afrikaanse taalstudies gelees, meesal vanuit die jare 1900-1940, en dit word baiekeer opgemerk dat die Transvalers die verkleiningsuitgang met ‘n k uitspreek, gesê omdat daardie geleerdes grotendeels Kapenare was. Dit laat dan vermoed dat die destyds algemeen aangenome uitspraak ‘n [ç] was, nes die Kleurlinge of die Nederlanders dit uitspreek. Nou wat interessant is, is of die ç-uitspraak nie ‘n latere affektasie was nie, ingevoer vanuit Nederland, terwyl die ou, eg Afrikaanse k-uitspraak uitgevoer is na die noordelike randgebiede, wat dan op sy eie beurt posgevat het toe die Transvaal al hoe ryker in invloed en geld geword het. Ek haal Von Wielligh 1922:67 aan: “Bietjie, biekie. Bietjie het verreweg die voorkeur en word gebruik as volg: “Wag ‘n bietjie“; “Dis bietjie baie erg”; “Die bietjie wat ek ontvang het, is vir my genoeg, of help nie”; “‘n Bietjie slae sal jou nie kwaad doen nie”; ens. Biekie is glad nie algemeen nie en word in noue kringe gebruik2.”)

Die invloed van Nederlands op Engels is al grondig bestudeer. Daar bestaan etlike woordeboeke wat presies daaroor gaan, wat aangevul kan word met ‘n handjievol artikels3. Die bekendste boek is dié van J.F. Bense, A Dictionary of the Low-Dutch Element in the English Vocabulary, 1939. Die naam is misleidend. Low-Dutch bestaan nie. Bense het hierdie woord gemunt, en ‘n paar mense het dit agterna gebruik, maar gelukkig het dit uitgesterf, want wat sou Low-Dutch nou rêrig wees? Een woord wat maar ongelúkkig uitgesterf het is Diets. Nederlandssprekendes is nie bra lief vir dit nie, omdat dit te na aan Duits klink. Diets is maar nuttig as ‘n mens oor Afrikaans, Nederlands, en Vlaams in een asem wil praat. En juis daarom sal ek van hom gebruik maak in hierdie bydrae tot Afrikaans.be. Dus, Dietse woorde in Amerikaans is talryk.

Hierdie woorde kan in drie klasse verdeel word. Die eerste klas bevat woorde wat eers aan Engels ontleen is en toe later met die eerste Engelse koloniste na Amerika ingeloods is. Hulle is alledaagse woords soos boss4, frolic, school, en baie andere. Hierdie woorde het stadigaan ingesyfer weens verbreide handel tussen die twee lande én weens die talle Nederlanders wat hulle in Engeland gaan vestig het. Die meeste Nederlandse leenwoorde word in die 16de en die 17de eeu opgeneem.

Die tweede klas is woorde wat Afrikaans is, en wat meesal ingesyfer het tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Onder dié woorde is daar aardvark, commandeer, trek en veld. Baie woorde stammende uit die oorlog soos inlander, inspan, kopye, en laager het nie bly voortlewe nie, en was boonop waarskynlik nooit gebruiklik in Amerika buite koerantberigte oor die oorlog ‘n honderd jaar gelede nie.

Woorde soos coleslaw, cookie en Yankee vorm die derde klas Dietse woorde in Amerikaans. Hulle is almal woorde wat direk in Amerikaans gekom het weens die Nederlandse setlaars wat hier kom aanland het in die eerste helfte van die sewentiende eeu. Ons sal nou hierdie deel van die Amerikaanse woordvoorraad nader gaan bekyk.

Om Afrikaans en Amerikaans met mekaar te situeer, moet rekening met die historiese feite gehou word. Die eerste permanente Europese vestiging op Amerikaanse bodem was Jamestown, Virginia, 1607. Nie lank daarna nie was Québec in 1612. Die Nederlanders het al in 1609 die kontrei van huidige New York verken, maar die eerste ernstige poging om die land te koloniseer was in lente 1623 toe die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie se skip “Nieuw Nederland” daar geland het. Nieu-Amsterdam was die stadjie wat hulle gestig het, en nou ken ons vir hom as New York. Die name van die “boroughs” van New York verraai dié stad se Nederlandse herkoms: Bronx (genaamd na Jonas Bronck, ‘n Nederlander wat grond gekoop het in 1641), Brooklyn (Breukelyn), Staten Island (genaamd na die Staten-generaal van Nederland); Harlem is geen “borough” nie, maar sy naam is dié van Haarlem in Nederland. Manhattan is Algonquins, en Queens is Engels. Die kolonie het betreklik stadig gegroei, en nadat Goewerneur Stuyvesant die klein kolonie agtermekaar gekry het, is dit toe in 1664 oorhandig aan die Duke of York. Daar was toe so om en by 10,000 Nieu-Nederlanders, wat nie ekslusief Nederlanders was nie. Daar was al toe baie Engelse onder hulle, wat dan nog te sê van Swede, Duitsers, of Franse. Die Nederlandse kolonie in Amerika het dus alleen vyftig jaar geduur, al sou sy spore tot op hede toe herkenbaar wees. Die Nederlandse taal is tot ongeveer die middel van die neëntiende eeu gepraat in die meer afgeleë plekke van New York en New Jersey.

Dit was dan eers in 1652 toe Jan van Riebeeck Kaap toe is om ‘n verversingspos te stig. Dus, min of meer gelyktydig met die Amerikaanse eksperiment. Hierdie onderneming was finansieel ondersteun deur die Oos-Indiese Kompanjie, dus die ander deel van die Nederlandse handelsmonopolie van die tyd. Altwee organisasies se hoofkwartiere was in Amsterdam, en baie van die werkers in elke maatskappy was Amsterdammers of ander Hollanders en Seeuse. J. du P. Scholtz het keer op keer aangetoon dat Afrikaans voortgegroei het uit ‘n soort Hollandse stedelike bo-dialek, wat ‘n mense af en toe kan raaksien in die gedigte van Bredero.

Anthony Buccini by die University of Chicago het oortuigend geargumenteer dat die Nederlands van Amerika uit hierdie selfde bo-dialek stem. Dis nie die plek vir ‘n uitvoerige bespreking van die uiteenlopende teorieë oor die ontstaan van Afrikaans nie, maar ek glo dat Scholtz se redenering en kwaliteit van denke nog steeds die indrukwekkendste bly onder ‘n nimmereindigende stroom nieubakke verklarings. Ons sal dan aanneem dat enige woorde wat Afrikaans en Amerikaans gemeen het maar wat in Nederlands slegs dialekties te krye is, waarskynlike oorblyfsels van die bo-dialek is.

I. Woorde wat spesiaal Afrikaans en Amerikaans is.

blummachie, blummey: ‘a flower, blossom’ Nederlands ken die vorm met ‘n lang klinker bloem, maar variante soos blom en blum is in die Nederlandse dialekte volop.

boss: hierdie woordjie word ook in Brits gebruik, maar nes talle ander Amerikaanse woorde, is hy ‘n laat inkomer wat vroeër as tipies Amerikaans gesien was.

clip: adj. ’stony’ Klip is een van die woorde wat meermaals aangehaal word as mense op die verskille tussen Nederlands en Afrikaans probeer wys. In Afrikaans het hierdie woord ‘n betekenisuitbreiding ondergaan, en die woord steen uitgestoot.

fease: ‘disgusting’ gebruik só ‘I am fease of it’, vgl. Afr ‘Ek is vies vir dit.’

fly: ‘a swamp, marsh, shallow pond’ Dat hierdie woord in Amerikaans bestaan is ‘n klein godswonder. Vlei word orals behandel asof hy nét Afrikaans is. Ek dink ons staan hier voor ‘n woord wat deel van die bo-dialek was. Fly lyk my om waarskynlik òf verouderd te wees òf dialekties. In Tentatiewe etimologieë, bespreek J.L.M. Franken hierdie woord uitvoerig.

file(-cloth): ‘a mop’ J. du P. Scholtz, Afrikaans-Hollands in die agtiende eeu, p. 121 sê hieroor: “In teenstelling met dweil s.nw. en dweilen ww. (wat Kil[ian] as Fland. bestempel) was feil en feilen van die begin af ‘n dial[ek] of volkstaalwoord wat meer bepaald in N.-Holl[and] (veral Amsterdam) tuisgehoort het. Vgl. ook Winschooten, Seeman p. 55: “Dweil heeft in sommige Holl. steeden de naam van een Feil, waarvan op Amsterdams, de vloer feilen”. Vandag leef feil(en) voort in Zaans (Boekenoogen), Kampens (Gunnik), Deventers (Draaijer), Gelders-Overijssels (Gallée) en Gronings (Molema) – dus oral in noordeliker dele van Nederland. Dweil ken ek nie as woord wat leef in Afr. nie; dit is wel, soos baie ander onafrikaanse woorde, in die WAT opgeneem. Van huis uit ken ek feil as ww. in Afr., nie as s.nw. nie (so ook Mansv. en die Patriotwoordeboek); as s.nw. is in Afr., sover ek weet, net die samest. feillap in gebruik. Feil moes as s.nw. betreklik vroeg in Afr.-Holl. verouderd geraak het; dit staan ook sonder komentaar in die WAT.” Natuurlik is die Amerikaanse woord ‘n selfstandige voornaamwoord, presies dit wat Scholtz sê die Afrikaanse woord nie is nie. Dog die ooreenkoms is treffend.

niskeery: ‘curious’ in klankvorm amper identies met Afrikaans nuuskierig.

stoop: al bestaan hierdie woord ook in Nederlands, is dit wel opmerklik hoe algemeen verbreid dit is in sowel Afrikaans as Amerikaans.

II. Woorde wat ook in Brits bestaan maar wat in Amerika nuwe betekenisse bekom het a.g.v. die Nederlandse koloniste.

boor: ‘a Dutch colonist of the farming class’

bush: ‘a wood, grove, thicket, as in sugar-bush, Flatbush’ – al by Van Riebeeck in hierdie betekenis: “…ende in de drooge tijt is voor deselve meet te eeten als aen de Caep, soo van uytgedroogde groente als de bosjes die winter ende somer groen sijn,…” 1658, Jan van Riebeeck, II, 340.

knicker: ‘a clay marble’ Knikkerspel is baie bekend in Afrikaans, of wás voordat televisie geïntroduseer is in die sewentigerjare. Daar is baie, baie woorde in verband met die knikkerspel wat uiters duister is. Ek ken die woord knicker self nie. Ons het altyd marbles gesê.

span: ‘a pair of matched horses’

As ‘n mens hierdie woorde begin evalueer, moet daar altyd onthou word dat Afrikaanse woorde en uitdrukkings soms anglisismes is. Dis goed moontlik dat die bogenoemde gebruik van man ontleen is aan Engels. Maar dit kan ook ‘n inheemse ontwikkeling wees. ‘n Mens dink ook aan die gebruik van doen in sinne soos “Jy hou nie van vetkoek nie, nè?” – “Ja, ek doen!” Dié kon dalk ‘n eg Afrikaanse sêding wees, maar die kanse is, dis ‘n Anglisisme. Wat betref die gebruik van man, skat ek dis ‘n Anglisisme wat in baie tale posgevat het, nes die alombekende woordjie cool. Vir diegenes wat meer oor Engelse invloed op Afrikaans wil lees, sien H. Rousseau, Afrikaans en Engels, 1937 en B. Donaldson, The Influence of English on Afrikaans, 1989.

Afrikaans en Amerikaans is twee tale van verskillende herkoms; Afrikaans uit Hollands, en Amerikaans uit Engels (al besien ons Amerikaans nie as ‘n onafhanklike taal nie). Hulle het wel ‘n konneksie, maar nie diegene wat Die Burger sê hulle het nie. As beginsel het Afrikaans die Hollandse stedelike bo-dialek, wat enkele woorde wat ‘n mens normaalweg as spesifiek Afrikaans sou aansien, bygedra het tot die Engelse taal in Amerika.

Vir diegenes wat meer oor die geskiedenis van Nieu-Nederland wil weet, is die pas verskene The Island at the Center of the World deur Russell Shorto ‘n insiggewende nuwe bydrae wat gelyktydig onderhoudend en wetenskaplik betroubaar is.

Voetnotas

#1 Dis die moeite werd om op te merk dat daar twee betekenisse van hierdie woord is, een wat buite Amerika geld, d.i. ‘Amerikaner,’ en een binne Amerika ‘Nieu-Engelander.’ Dit word dus nie aanbeveel om iemand vanuit South Carolina ‘n Yank te benoem nie.

#2 Synde self nie ‘n Afrikaans moedertaalspreker nie, het ek nie so baie kontak met Afrikaanssprekendes uit verskillende en afgeleë streke nie, maar als wat ek teëgekom het is die -kie uitspraak.

#3 Sien bibliografie onder. Hierdie bibliografie sou nooit kon ontstaan het nie sonder om die argiewe van die Encyclopedic Dictionary of English Etymology by die University of Minnesota te kon benuttig.

#4 Boss word dikwels gestempel as iets tipies Amerikaans, maar dis ook goed Brits, en was alreeds in Brits aanwesig voordat Amerika gekoloniseer is. Hierdie feit tenspyt, is dit heel moontlik boss het ‘n verbreider gebruik geniet in sy nuwe half-Nederlandse omgewing in die Nuwe Wêreld.

Bibliografie van werke oor Nederlands en Engels

Bense, J.F. 1939. A Dictionary of the Low-Dutch Element in the English Vocabulary. Den Haag: Martinus Nijhoff.

Buccini, Anthony F. 1995. “The Dialectal Origins of New Netherland Dutch.” In Thomas F. Shannon & Johan P. Snapper (reds.) The Berkeley Conference on Dutch Linguistics 1993, 211-63. Lanham, MD: University Press of America.

Carpenter, Wm.H. 1908. “Dutch Contributions to the Vocabulary of English in America.” Modern Philology 6: 53-68.

De Vries, Jan W. 1989. “Dutch Influence on American English and Indonesian.” In: Thomas F. Shannon & Johan P. Snapper (reds.). 1991. The Berkeley Conference on Dutch Linguistics 1989, 85-96. Lanham, MD: University Press of America.

De Vries, T. 1916. Holland’s Influence on English Language and Literature. Chicago: C. Grentzebach.

Den Otter, A.G. 1990. “Lekker Scrabbling: Discovery and Exploration of Once-Dutch Words in the Online Oxford English Dictionary.” English Studies 71: 261-271.

Hoog, W.D. 1909. Studiën over de Nederlandsche en Engelsche Taal en Letterkunde en haar Wederzijdschen Invloed. Doordrecht: J.P. Revers.

Llewellyn, E.C. 1936. The Influence of Low Dutch on the English Vocabulary. London: Humphrey Milford.

Logeman, H. 1931. “Low Dutch Elements in English.” Neophilologus 26: 31-46, 103-116.

Neumann, J.H. 1945. “The Dutch Element in the Vocabulary of American English.” Journal of English and Germanic Philology 44: 274-280.

Toll, J.M. 1926. Niederländisches Lehngut im Mittelenglischen. Ein Beitrag zur englischen Wortgeschichte mit Benutzung einer von Dr. O. Zippel handschriftlich hinterlassenen Materialsammlung. Studien zur englischen Philologie 69. Halle (Saale): Max Niemeyer.

 

Faerie Tale Theatre: Rip Van Winkle Rabbit Ears Treasury of American Tall Tales: Volume 1: Davy Crockett, Rip Van Winkle, Johnny Appleseed, Paul Bunyan (Rabbit Ears)

Geen Kommentaar »

  1. Kommentaar deur rudy klaassen — Maart 19, 2006 @ 12:48 pm

    een fantastische site!! Ik kom vaak terug om afrikaans op t epakken voor mijn reis!!

    bedankt,

    rudy klaassen

RSS voer vir kommentaar op hierdie bydrae.

Lewer kommentaar