Chris & Ingrid op ‘n Europese voetpad…
Werner Coombe gesels met Chris Chameleon oor sy eerste solo album, Ek herhaal jou, ‘n toonsetting van die gedigte van Ingrid Jonker.

Chris Chameleon tree op Sondag 6 Augustus 2006 op by Folk Dranouter in België.
Werner Coombe gesels met Chris Chameleon oor sy eerste solo album, Ek herhaal jou, ‘n toonsetting van die gedigte van Ingrid Jonker.
Ek dink daar is drie eienskappe wat Chris Chameleon werklik uitsonderlik maak: eerstens sy ongelooflike range – sekerlik een van Suid Afrika se sangers wat die mees oortuigend ‘n lae basnoot kan afwissel met falsetto. Tweedens is dit sy toewyding en harde werk. En laastens is dit sy vermoë om die siel van ‘n lied te ontmoet. Die bekende sangeres Tori Amos verwys na die konsep as vorm-verandering (shape-shifting)- waar sekere mense die voorreg het om die universele kreatiewe vors te ontmoet, en dit dan van vorm te laat verander deur jou spesifieke talent. Vir Chris se eerste solo album, Ek herhaal jou, was die uitdaging egter uniek. Die lirieke en siel van die liedjies was reeds geskep en lewend gemaak deur Ingrid Jonker. Chris moes hulle gaan ontmoet, en ‘n uiteindelike ontmoeting met Ingrid se hart self, was onafwendbaar.
‘n Vraag wat ek al lank mee worstel is waarom sekere kunstenaars die vermoë het om diep binne my hart en siel te klim, en ander my totaal onaangeraak laat. En miskien lê die antwoord in die vermoë van die kunstenaar om oortuigend oor te kom – om na die werk te luister en die emosie te voel en te beleef, in dieselfde rouheid en eerlikheid as die kunstenaar self. Min mense besef hoeveel ure iemand soos Laurika Rauch alleen in ‘n kamer sit voor sy die verhoog opstap. Hoe belangrik dit is om die diepste deel van jou wese te gaan soek en elke liedjie te gaan ontmoet, omhels en een te word met hulle geluk, seer en verwerping.
En dit is dan in Amsterdam, Nederland, wat ek die voorreg het om vir die eerste keer Chris Chameleon op die verhoog te sien en te beleef. Dit is die laaste vertoning van sy Europese toer – en die rokerige saal is gepak met ‘n grotendeels Nederlandse gehoor. Sy 70’s bankrower snor, nou hemp en nonchalante houding gee weer dat hyself maar ‘n bysaak is – en in daardie tyd word net een ding na waarde geag: die musiek. ‘n Reis begin met ‘n stereo-agtige gebrom deur die mikrofoon – gevolg deur ‘n Freddy Mercury falsetto – en as Chris sy oë sluit verlaat hy die verhoog en neem hy die meeste mee om hulle te gaan ontmoet – Die onverkrygbare, Bitterbessie dagbreek, Ontvlugting…
Ek ontmoet Chris aan die einde van die vertoning – en miskien is dit te verwagte dat hy beide diep in ons gesprek betrokke kan raak – en tog met nederigheid en ‘n byna terloopsheid kan verwys na die “werk” en die komplimente van die gehoor kan omhels.
Vele mense het al probeer om Ingrid Jonker se gedigte te toonset – met gemengde sukses. Wat dink jy is die resep vir jou oorweldigende sukses met veertien van haar gedigte?
Wel, dis eintlik16 gedigte in 14 liede. Ek dink die geheim was eerlikheid teenoor myself en getrouheid aan Ingrid se teks. By die toonsetting van gedigte moet die komponis sy eie ego opsyskuif en nie homself nie, maar die digter, dien. En dan is daar seker maar die geluk-faktor. Byna elke uitvoerende kunstenaar se ambisie is om iets te maak wat die publiek meesleur en betower, wat hulle hul laat vergryp aan sy werk. Dis tog hoekom ons dit uitvoer en nie in die binnekamer hou nie. Ek het dit reggekry, en ja, ek weet nie regtig hoe nie…
In die CD skryf jy ‘n nota aan Ingrid – wat is die belangrikste eienskap wat jy van haar geleer het tydens die toonsetting en belewing van haar gedigte?
Ek het van haar geleer dat n mens nie doekies moet omdraai nie. Dat jy niemand (nie eens jouself) moet ontsien om jou hart te verwoord nie. Anders sal dit geveinsd voorkom.
Is daar een van die gedigte wat jou meer besonders geraak het?
Die liedjies word soos kinders vir jou as jy hul eens geskape het, en soos enige goeie ouer kan ek nie n enkele kind uitsonder nie. Maar ek word om een of ander rede nooit so kwaad vir “op die voetpad” as sy verbrou nie…
Wat was die reaksie van die Europese gehore tydens jou vertonings en was dit vreemd om dan meestal in Afrikaans te sing?
Ek het doelbewus nie die lande soos Duitsland, Italië, Kroatië en ‘n paar ander wat gereeld deur Boo! bedien is, gespeel nie, omdat ek besef het die taaluitdaging sal kan ontaard in so ‘n mate dat dit die aandag van die musiek sou kon aflei. Daarom het ek op Nederland en België gefokus. Die reaksie was n plesier om waar te neem: ‘n mengsel van fassinasie, genot en belangstelling.
Ek weet dat jy die album wil vertaal – is dit moontlik om Ingrid Jonker in enige ander taal reg te laat geskiet?
Gerrit Komrij het voortreflike vertalings van haar werk gedoen en ek het hulle intussen reeds in Nederlands vertaal. Sy vertalings is besonder musikaal en ritmies getrou.
Selfs as jong akteur in Sonkring was dit duidelik dat jy as kunstenaar hard werk en alles gee – is dit ‘n eienskap van jou persoonlik ook?
Dankie! Ek gee makliker alles aan my kuns as op ‘n persoonlike vlak. Kuns verloën my nooit nie.
Wat is die volgende uitdaging?
Ek toonset tans nog ‘n Afrikaanse plaat wat ek in Mei sal opneem, en dan wil ek dit tegelykertyd vrystel met die Engelse plaat wat ek sopas voltooi het. Dis ‘n vreemde skuif, twee plate in verskillende tale terselfdertyd uitgee, maar ek hou van die unieke uitdaging wat dit bied.
Dit lyk asof jy ‘n maklike en gemaklike aanslag op die lewe het – sal jy jouself as werklik so rustig bestempel?
Nee – ek wroeg nogals baie, “betob” dinge. Ek verkies swaar geselskap bo ‘n ligsinnige gebabbel. Dit maak my sosiaal ‘n bietjie wanaangepas, maar in my werk ontmoet ek genoeg mense dat dit my nie tot eensaamheid dwing nie. Ek dink ek verstaan die kuns om in die regte sfeer op ‘n sekere gemaklike wyse oor te kom, dis deel van my werk, maar vrye tyd is ‘n ander saak.
Vind jy dit vreemd dat jou beeld oornag van “weird” rocker na gunsteling Afrikaanse seun verander het – alhoewel wat jy doen nie substansieel anders is nie?
Nee – ek waardeer dit. Op die lange duur sal dit hopelik bydra tot die ontwikkeling van ‘n bietjie meer begrip onder my eie mense – dat alles nie is wat dit skyn te wees nie en dat ‘n mens nie ‘n man op sy baadjie (en veral nie op sy rokkie!) moet takseer nie.
Ek stap die saal uit – diep geraak deur die vrou wat hierdie wesens kon skep – en die man wat hulle musikaal lewend kon maak.
Ingrid Jonker – Versamelde Werke, by Amazon.com


Dis ‘n baie insiggewende artikel. Ek het dit vreeslik baie geniet.
Ek is op soek na die joernalis, Werner Coombe, se epos-adres, of na inligting van bestaande feeste of venues in Nederland en Belgie waar Suid-Afrikaners sou optree.
Die een Belgiese festival waar daar amper elke jaar Suid-Afrikaners optree is Folk Dranouter: http://www.folkdranouter.be.
In Gent is daar ‘n teater waar baie Suid-Afrikaanse kunstenaars optree: http://www.tinnenpot.be.
En hierdie mag ook help, dis ‘n kalender met ‘n klomp Belgiese festivals: http://www.festivals.be.
En laastens is daar Loraine Basson, wat ‘n lys van optredes van Suid-Afrikaanse kunstenaars in Europa byhou: http://www.bassons.org.
Ek hoop een van hierdie help!
Dankie vir hierdie posstuk Werner. Dis ‘n eiesoortige lafenis om gesprekke van mense en bekendes soos Chris te lees, en dit oortref jou verwagtinge.
Mens plaas hierdie mense op ‘n ander planeet, en dan is mens arrogant genoeg om te dink jy het die label op die regte plek geplak. Net om uit te vind (na die leesstuk hierbo) dat jy “dank Vader” verkeerd was, of dalk net n bietjie grondpad geloop het.
Ek is mal oor Chris se musiek. Sal ure net die woorde lees, en sy siel daarin soek.
Veral mal oor “reis”. Dis so waar en raak-gese.
Ingrid Jonker was in haar hart – ‘n Digter, en verseker is Chris die uitverkorene om haar gedigte te laat lewe. Hulle siele het ontmoet, en niemand anders behalwe hy sou dit met soveel passie en opregtheid kon regkry nie.
Daar is ‘n verskil tussen Afrikaanse Sangers, en Afrikaanse Kunstenaars. Chris is ‘n kunstenaar – en in sy hart ook ‘n Digter.
Ek sluit ‘n paar gedigte in, vir die houtmens-hart:-
Waarheid is dit Jy?
Waarheid is dit jy
Wat aan my deur kom klop?
Wat aan sekelmaan se punt
Die voorgee van die lewe bind?
Reëls geskryf vir elke dag
Ritme, pionne, struktuur
Die waarheid staan voor die deur
Is dit ‘n belangrike gas wat ons ignoreer?
My lewe geleef, die einde van my boek
Geen ongekende drome
Geen waarhede opsoek
Geen ongewensde wense meer
My kop lê ek met liefde neer
Te Min Kompos
Die blou van ons siel
wanneer die woorde kniel
Die naakte waarheid
is ons beleid
Poorte oop, my hart rou
genadig sal wees ‘n druppel dou
Seer le naby, my hart vertel
of is ek sinies oor my beste pel?
Dan prop ek die sleutels in jou hand
en staan in die deur by my hart se rand
Neem oor die tuin, die blom se vou
trek dig toe die venster teen my siel se kou
Kyk mooi na die gesiggies, madeliefie blom
hulle koppies is gedraai na die son
Ek het te min water en kompos nie meer
om my vr die omsien van my hart te kwalifiseer
Opgewondenheid
Opgewondenheid – jou klawer-kind
Jy vind ‘n rusplek in my siel
Jy speel die note wat ‘n traan verslind
en nooit die gemoed verniel
Jou vingerafdrukke definieer
die dimpeltjies van jou lag
Jou oogknip konsolideer
die helder prenjies van vandag
Jou gedrag ‘n goue ster
wat jy in my boek kom plak
Jou giggel nie ‘n dagreis ver
net in die spens gepak
Alleenplek
Binneblad, eieblad, seerblad
Gedagte wereld jou alleenplek
Jou waarheidplek
Jou geheimeplek
Jou siel en jou dromerplek
Kommer en passie word hier verwek
Jou Hart se Bêreplek
Jou hart se bere-plek
is met liefde oorgetrek
in houtblad staan die naam
wie gedigte laat bestaan
Jy blaas lewe in die woorde
hulle staan op uit die graf
Jou boekrak word bederf
met gedigte uit hout gekerf
Blomtuin
‘n Stem fluister sag…
dis Vroegmore-dou se helder lag
Blinkdruppels stry teen gravitasie
en skitter tussen son se strale-spasies
In die delikate vou van die blom se mooi
is ‘n goudgeel verfpot omgegooi
Gogga-spoortjies tot by die bruin
van sonneblom se saadfontein
Die steel ‘n leertjie vir mier se loop
Die blomme in my tuin is nie te koop
dis vir jou met liefde in seisoen geplant
vir vroegmore koffie aan die noorde-kant
Jou Plek
Jou vrese, jou wense, jou woorde
Is dit ‘n grafkelder met sonskyn?
Hoop wat donker skadu’s
in die kristal-helder oggend gooi?
Of is dit jou horison sonder end?
daar waar drome waar word?
‘n Enigste plek
‘n Veilige plek
Jou plek
Vrede