Sluipmoordenaars

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Sondag 6 Augustus 2006 2:11 pm

Die direkteur van die nasionale intelligensiediens besluit dis tyd om ‘n sluipmoordenaar aan te stel, en na ‘n lang administratiewe proses word drie kandidate gekies. Koos, Kallie en Mike dui aan dat hulle wel in die werk sou belangstel, en op ‘n dag moet al drie by hoofkantoor aanmeld. “Daar is een laaste toets,” verduidelik die direkteur.

Koos is eerste aan die beurt. “Koos, jou vrou is in hierdie kamertjie opgesluit. Hier is ‘n pistool, jy moet ingaan en haar doodskiet.” Onmiddelik bars Koos in trane uit. “Ek sou dit nooit kon doen nie,” grens hy. “Ek is gans te lief vir my vrou.”

“Dan is jy nie die geskikte kandidaat vir die werk nie,” besluit die direkteur, en stuur Koos weg.

Kallie is volgende. “Kallie, hier is die pistool. Jou vrou is in die tweede kamertjie opgesluit. Jy weet wat jy moet doen.” Kallie verwyn in die kamertjie, maar na ‘n minuut kom hy weer uit. “Ek kon dit nie doen nie,” erken hy.

“Dan is jy ook nie die geskikte kandidaat vir die werk nie,” antwoord die direkteur, en stuur Kallie weg. Net Mike bly oor.

“Goed dan Mike, jy is ons laaste kandidaat. Jou vrou is in die derde kamertjie hier toegesluit. Vat hierdie pistool en skiet haar.”

Mike verdwyn in die kamertjie, ‘n skoot klap, en dan bars ‘n afskuwelike lawaai los. Twee minute later kom Mike weer tevoorskyn, sy klere is geskeur en bloed stroom uit ‘n sny in sy voorkop.

“Mike, wat het gebeur?” wil die direkteur weet.

“Nee hel,” kla Mike. “Hierdie bleddie pistool van jou is met blanks gelaai. Ek moes die ouvrou met ‘n stoel doodslaan!”

Nuwe Spelling In Nederlands

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande, Taalkunde | Donderdag 3 Augustus 2006 8:45 am

Op 1 Augustus 2006 het die mees onlangse veranderinge in Nederlandse spelling amptelik geword. Die “Groene Boekje“, soos die Woordenlijst Nederlandse Taal informeel bekend staan, is die bybel van Nederlandse spelling en taalreëls.

Die nuwe spelreëls is nie oral ewe gewild nie, en ‘n aantal Nederlandse koerante, tydskrifte en minstens een publieke omroep het beloof om die nuwe reëls nie te gebruik nie. Die praktiese probleme met so ‘n aanpassing van die spelling van algemene woorde is duidelik: alle taalwerkers (joernaliste, redakteurs, kopieskrywers) moet om klokslag middernag oorskakel, en wat gister nog op die skoolbanke as heilig verkondig is word vandag kettery.

‘n Taal sonder vasgelegde taal- en spelreëls is nie meer ‘n regte taal nie, maar die proses sou andersom as dié van die Nederlandse Taalunie moet werk. Mense praat ‘n taal, en dis die taak van die akademici en taalkundiges om die werklik vas te lê, te standardiseer en te omskryf. ‘n Proses waarby die minderheid van akademici en taalkundiges die taal domineer en aan die sprekers voorskryf kan net sleg afloop.

 

Vir die beste Nederlandse verwysing, skaf die Van Dale Concise English to Dutch Dictionary / Van Dale Handwoordenboek Engels / Nederlands aan.