Die Brights, Helder Liggies in die Donker
Die Brights is ‘n internasionale, los georganiseerde beweging van vrydenkers, agnostici, atheïste, deïste en enigiemand met ‘n naturalistiese beskouing van die wêreld. Self definieer die beweging ‘n “bright” as:
- Iemand met ‘n naturalistiese beskouing van die wêreld.
- Iemand met ‘n beskouing van die wêreld waar bonatuurlike en mistiese elemente nie ‘n rol speel nie.
- Iemand wat sy of haar etiek en aksies op ‘n naturalistiese beskouing van die wêreld baseer.
Vir ‘n los georganiseerde beweging het die Brights gou ‘n klomp groot name aangetrek: Daniel Dennett, James Randi, Richard Dawkins.
Die beweging verdedig sy bestaansreg op basis van drie doelstellings:
- Bevorder ‘n algemene maatskaplike begrip van en erkenning vir die naturalistiese wêreldbeskouing, sonder bonatuurlike of mistiese elemente.
- Skep publieke erkenning dat mense met so ‘n beskouing van die wêreld ook beginselvas kan deelneem aan sake van publieke belang.
- Voed die gemeenskap op om die volle en gelyke publieke deelname van sulke individue te aanvaar.
Ek sou graag ‘n basiese opsomming van hul website in Afrikaans wil opsit, maar ‘n haakplek is die vertaling van die woord “Bright”. Die Nederlandse Brights het gekies om die naam net so te hou. Ek gril van die verafrikaansde “Braaits”. En ‘n nuutskepping mis miskien heeltemal die doel, om ‘n gemeenskap te skep onder ‘n naam wat dwarsdeur verskillende tale en kulture herkenbaar is. Enige idees oor hoe om dit aan te pak?
