Moedertale en Vreemde Tale

Geskryf deur Anton Raath | Kultuur | Donderdag 23 Augustus 2007 12:29 pm

Mens sou dink dis vanselfsprekend dat mense in ‘n multikulturele land soos Suid-Afrika meertalig moet wees, maar soms klink dit of so ‘n gedagte ‘n reuse deurbraak is:

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se taaltransformasieplan wat ses jaar van moedertaalgebaseerde, tweetalige onderrig aanmoedig, is gister deur kenners geprys. Dié plan stel voor dat die moedertaal vir die eerste ses jaar as onderrigmedium gebruik word en ’n tweede taal geleidelik bygevoeg word tot op die punt waar dit ná die ses jaar as onderrigmedium gebruik kan word.

Ook die waarde van moedertaalonderwys word herontdek:

Mnr. Theuns Horne, ‘n onafhanklike geletterdheidskenner, het ook die plan verwelkom en gesê dit is belangrik dat ouers opgevoed word oor die waarde van moedertaalonderrig. “Daar is soveel kinders wat gr.?1 instap en dan in Engels onderrig word. Ek is nie daarteen dat ‘n kind ‘n wêreldtaal ook moet aanleer nie, maar ouers weet nie altyd dat hulle die kinders ‘n onreg aandoen deur hulle nie in hul moedertaal te laat onderrig nie.” Hy het gesê die hoë uitsaksyfer kan deels daaraan toegeskryf word dat leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie.

Het ons nie ‘n eeu gelede ook deur hierdie selfde proses gegaan nie? Moedertaalonderwys is nodig vir die individu, en meertaligheid is nodig vir die gemeenskap.

Brief Uit Boksburg

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Woensdag 1 Augustus 2007 4:01 pm

Dis ‘n ou grap hierdie, en miskien net snaaks as jy bietjie dronk of bietjie eenvoudig is.

Liewe Daantjie

Ek skryf die briefie maar stadig omdat ek weet jy kan nie vinnig lees nie.

Ons bly nie meer op dieselfde plek as toe jy weg is nie. Jou pa het in die koerant gelees dat die meeste ongelukke binne 20 kilometer van die huis af gebeur, toe besluit ons om te trek. Ek kan ongelukkig nie vir jou die adres gee nie want die vorige familie het die nommers saam gevat, seker sodat hulle nie hulle adres hoef te verander nie.

Hierdie plekkie is regtig oulik. Hier is selfs ‘n wasmasjien, ek is nog net nie heeltemal seker hoe hy werk nie. Laas week het ek ‘n bondel klere ingesit en die ketting getrek. Ons het nog nie weer die klere opgespoor nie.

Die weer hierso is ook glad nie sleg nie. Dit het net twee keer gereën laas week; die eerste keer vir drie dae en die tweede keer vir vier dae.

Omtrent daai jas wat jy gevra het ons moet vir jou stuur; oom Frikkie het gese dit sal te swaar wees in die pos, toe sny ons maar die knope af. Hulle is in die linker boonste sak van die jas.

Pietie het gister sy sleutels in sy kar toegesluit. Ons het rerig bekommerd geraak want dit het hom twee ure gevat om my en jou pa uit te kry.

Jou suster het vanoggend ‘n baba gehad, maar ek het nog nie uitgevind wat dit is nie, so ek weet nie of jy ‘n oom of ‘n tannie is nie. Die baba lyk net soos jou boetie.

Oom Wessels het laas week in ‘n vat brandewyn geval. ‘n Paar manne het hom probeer uithaal maar hy het hulle afbaklei en verdrink. Ons het hom laat veras. Hy het vir drie dae gebrand.

Drie van jou vriende het met ‘n bakkie van die brug afgery. Koos het bestuur, hy het sy venster afgedraai en na veiligheid geswem. Jou ander twee vriende het agter op gesit. Hulle het verdrink omdat hulle nie die bak se klap kon oopkry nie.

Daar is nie meer nuus nie. Niks anders as die normale het gebeur nie.

Liefdetjies,

Jou gunsteling tannie Betsie.

NS: Ek wou nog vir jou R25 insit maar ek het al klaar die koevert toegeplak.