Antwoorde op die A-woord

Geskryf deur Anton Raath | Algemeen | Maandag 10 September 2007 11:47 am

Johan Swarts vra ‘n goeie vraag op sy blog:

Daarom, liefste leser, en slegs daarom, wil ek graag drie dinge by jou weet:

  1. Beskou jy jouself as ‘n Suid-Afrikaner?
  2. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaner?
  3. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaan?

Gee jou antwoord in ‘n self-geadresseerde koevert hier.

My eie antwoorde hierop:

1. Beskou jy jouself as ‘n Suid-Afrikaner?

My paspoort sê ja, my hart sê nee. Jy ondersteun ‘n sekere rugbyspan oor waar jy gebore is, en net so is my Suid-Afrikaanse paspoort die gevolg daarvan dat ek in Pretoria gebore is. Is landsgrense nie net ‘n stuitigheid van mense wat teen hoekpale pie om hulle grond af te baken nie?

2. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaner?

Ja. Nie alle Afrikaners hou van my nie, en ek hou nie van alle Afrikaners nie, maar soos familie is dit nie altyd ‘n keuse nie. Londen is vol Afrikaners wat probeer om nie Afrikaans te wees nie, maar maak dit hulle nie net ‘n subgroep van Afrikaners nie? Hulle kinders sal die kinders van Afrikaners wees, maar waarskynlik self nie Afrikaners nie. Dit vat miskien ‘n geslag of twee om in of uit die klub te wees. My familie is al te lank in, ek sal nie (en wil nie) nou uitklim nie. My kinders sal ook deels Afrikaans wees: Afrikaans praat (met ‘n aksent, neem ek aan), Afrikaans lees, Afrikaans vloek.

3. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaan?

Nee. ‘n Westerling in Japan bly ‘n Westerling solank sy gene dit toelaat. Waarom sou my lus om in Afrika aanvaar te word my oornag ‘n Afrikaan maak? ‘n Kontinent is te groot om ‘n koherente groep te vorm, en vir alle praktiese doeleindes is dit op nasionale vlak wat besluite geneem word. Die mans in duur pakke by vergaderings van die Afrika-unie verteenwoordig hul onderskeie lande, en nie Afrika as ‘n geheel nie.

Wie ek wetlik is besluit mense met meer mag as ek. Maar wie ek is as individu, dit besluit net ek.

Sien jy vir Jesus?

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Vrydag 7 September 2007 12:55 pm

Na ‘n lang nag in die Akker stap ‘n Stellenboschse student huis toe langs die Eersterivier. Dis Sondagoggend, en ‘n groepie kerkgangers staan in ‘n ry en sing. Die student val instinktief agter in die ry in.

Vooraan staan ‘n lekeprediker halflyf in die water, en doop die mense soos hulle verbykom. Een vir een druk hy hulle koppe agteroor in die water, lig hulle weer op, en vra: “Sien jy vir Jesus?” Die mense se oë blink in ekstase, en elke “ja” word met ‘n koor van “halleluja” begroet. Uiteindelik kom die student ook aan die beurt, en na al die ure in die Akker is dit nie moeilik om sy kop onder die water te kry nie.

“Sien jy vir Jesus?” roep die prediker.

“Nee,” antwoord die student.

Weer druk die prediker sy kop onder die water, hierdie keer met meer oortuiging, lig hom regop, en vra: “Sien jy vir Jesus?”

“Nee,” antwoord die student weer.

Vir die derde keer verdwyn sy kop onder die water, en die prediker wik en weeg duidelik voor hy die bedremmelde student weer ophelp.

“Sien jy vir Jesus?” roep die prediker, hard genoeg om dit duidelik te maak dat hier ‘n regte en ‘n verkeerde antwoord is.

“Verdomp nee, ek sien hom nie!” skree die student terug. “Is jy seker dis hier waar hy ingeval het?”