Antwoorde op die A-woord
Johan Swarts vra ‘n goeie vraag op sy blog:
Daarom, liefste leser, en slegs daarom, wil ek graag drie dinge by jou weet:
- Beskou jy jouself as ‘n Suid-Afrikaner?
- Beskou jy jouself as ‘n Afrikaner?
- Beskou jy jouself as ‘n Afrikaan?
Gee jou antwoord in ‘n self-geadresseerde koevert hier.
My eie antwoorde hierop:
1. Beskou jy jouself as ‘n Suid-Afrikaner?
My paspoort sê ja, my hart sê nee. Jy ondersteun ‘n sekere rugbyspan oor waar jy gebore is, en net so is my Suid-Afrikaanse paspoort die gevolg daarvan dat ek in Pretoria gebore is. Is landsgrense nie net ‘n stuitigheid van mense wat teen hoekpale pie om hulle grond af te baken nie?
2. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaner?
Ja. Nie alle Afrikaners hou van my nie, en ek hou nie van alle Afrikaners nie, maar soos familie is dit nie altyd ‘n keuse nie. Londen is vol Afrikaners wat probeer om nie Afrikaans te wees nie, maar maak dit hulle nie net ‘n subgroep van Afrikaners nie? Hulle kinders sal die kinders van Afrikaners wees, maar waarskynlik self nie Afrikaners nie. Dit vat miskien ‘n geslag of twee om in of uit die klub te wees. My familie is al te lank in, ek sal nie (en wil nie) nou uitklim nie. My kinders sal ook deels Afrikaans wees: Afrikaans praat (met ‘n aksent, neem ek aan), Afrikaans lees, Afrikaans vloek.
3. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaan?
Nee. ‘n Westerling in Japan bly ‘n Westerling solank sy gene dit toelaat. Waarom sou my lus om in Afrika aanvaar te word my oornag ‘n Afrikaan maak? ‘n Kontinent is te groot om ‘n koherente groep te vorm, en vir alle praktiese doeleindes is dit op nasionale vlak wat besluite geneem word. Die mans in duur pakke by vergaderings van die Afrika-unie verteenwoordig hul onderskeie lande, en nie Afrika as ‘n geheel nie.
Wie ek wetlik is besluit mense met meer mag as ek. Maar wie ek is as individu, dit besluit net ek.

