Diesel uit ‘n klip vir Zim
Ex africa semper aliquid novi. Of nie. ‘n Magistraat in Zimbabwe het die medium Rotina Mavhunga skuldig bevind aan bedrog, na sy senior lede van Robert Mugabe se regering oortuig het sy kan diesel uit ‘n klip laat verskyn. Die geeste van hulle voorvaders sou die mense van Zimbabwe jammer gekry het oor Zimbabwe se tekort aan brandstof, en daarom diesel uit ‘n spesifieke klip in Chinhoyi laat kom. Mavhunga het twee beeste en drie buffels as betaling van die regering gekry, volgens Mugabe. Senior lede van die regering het haar ook ‘n kar, ‘n stuk grond en ‘n reuse bedrag geld gegee.
Polisie wat gevra is om haar te arresteer vir bedrog het aanvanklik geweier, bang vir die bonatuurlike kragte wat sy teen hulle sou kon gebruik. Die Registrateur Generaal van Zimbabwe was waarskynlik betrokke by die bedrog, maar nie een van die ander mamparras betrokke in die saak het ‘n verskoning vir hulle liggelowigheid nie.

