Is Multikulturele Nederland Dood?

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande,Politiek | Dinsdag 20 September 2011 1:52 pm

Onlangs kry ek ‘n (pynlik ongrammatikale en grensend aan rassistiese) herskywing van hierdie artikel per-email. Nederland gee op waar dit die multikulturele samelewing aangaan, sê die artikel, en integrasie is die nuwe fokus. Eggo’s van “adapt or die“?

Wie dit herskryf het kan ek nie sê nie, maar die oorspronklike artikel kom van die Hudson Institute, een van daai tipiese Amerikaanse “think tanks” wat veg vir private eiendomsregte, vryheid van spraak, demokrasie en ‘n vrye mark. Dis nooit heeltemal duidelik wat die eintlike doel van hierdie organisasies is nie, of wie vir hulle geld gee nie, want dis gewoonlik Amerikaners wat vir ‘n Amerikaanse gehoor preek. Dis nie asof private eiendomsregte, vryheid van spraak, demokrasie en ‘n vrye mark bedreig word in Amerika nie.

Die basiese feite van die oorspronklike artikel klink wel akkuraat. Die sentrum-regse Nederlandse Minister van Binnelandse Sake het gesê die regering dink dat hulle moet wegbeweeg van multikulturalisme en meer klem lê op integrasie. Angela Merkel het ook ‘n paar maande gelede grotendeels dieselfde gesê oor Duitsland. Gebrek aan integrasie is ‘n groot probleem in Wes-Europa, en dis inderdaad iets waaraan die meeste lande hier probeer werk. Vlaamse dorpe nooi vroulike immigrante vir tee, waar hulle vermoedelik heerlik gesels en melktert en koesisters eet.

Dis moeilik om presies te sê wat mense spesifiek bedoel met “multikulturalisme”, en of almal dieselfde bedoel. Die meeste bedoel waarskynlik dat ek vry is om my jembe met ‘n passie te speel, maar dat ek weet ek moet ophou na tienuur saans. Of dat ek vry is om ‘n kerrie van bokvleis en afval te maak op feesdae, maar dat ek weet ek moenie die bok in die straat voor my huis slag nie. Elke ou is vry om sy eie ding te doen, binne die reëls.

Die probleem kom natuurlik wanneer mense nie weet wat hierdie reëls is nie. Wat veral in Nederland gebeur is dat immigrante begin om ghettos te vorm, en dat hulle nooit self buite daardie ghettos kom nie. Omdat hulle die taal nie praat nie, kry hulle nie werk nie. En omdat hulle nooit buite die ghetto kom nie, leer immigrante nooit die gasland se eie kultuur ken nie.

Uiteindelik is multikulturalisme ‘n goeie ding, want dit beteken byna dieselfde as dat mense nie in mekaar se sake lol nie. Maar dit kan net werk as dit wederkerig is, en dit kan net wederkerig wees as almal mekaar se eienaardighede aanvaar. En dis wat die meeste mense in Nederland (hopelik) onder “integrasie” verstaan, dat almal hierdie kultuur van wederkerige aanvaarding deel. Een glo vrouens is nie te vertrou met delikate sake soos om ‘n motorkar te bestuur of in die publiek te verskyn nie, die ander glo daar is niks soos ‘n gram of twee Nederwiet om die week mee af te sluit nie. En die kans dat dit ooit gaan gebeur is vermoedelik redelik skraal.


Parse error: syntax error, unexpected T_ENDIF in /home/fugue/afrikaans.be/wp-content/themes/HabitatForHumanity/comments.php on line 3