Gesien op Twitter
“Die radikale aanslag binne die groep is net so sterk as die radikale aanslag van buite. Miskien sterker en dodeliker.” Etienne Leroux op Twitter.
“Die radikale aanslag binne die groep is net so sterk as die radikale aanslag van buite. Miskien sterker en dodeliker.” Etienne Leroux op Twitter.
Die sosiale nuus website Reddit het nou ook ‘n kategorie vir Afrikaans. Artikels oor en in Afrikaans kan hier gedeel word. Die voordeel van Reddit bo soortgelyke websites is dat Reddit se gemeenskap werklik besluit watter artikels na bo dryf en watter artikels sink. Anders as hulle mededingers kan enkele Reddit gebruikers met te veel tyd op hul hande nie die status van artikels maklik manipuleer nie.
Natuurlik, ‘n kategorie soos Reddit Afrikaans kan net werk as mense aktief artikels toevoeg en op- of afstem. So hoekom nie ‘n paar goeie artikels toevoeg nie?
Ex africa semper aliquid novi. Of nie. ‘n Magistraat in Zimbabwe het die medium Rotina Mavhunga skuldig bevind aan bedrog, na sy senior lede van Robert Mugabe se regering oortuig het sy kan diesel uit ‘n klip laat verskyn. Die geeste van hulle voorvaders sou die mense van Zimbabwe jammer gekry het oor Zimbabwe se tekort aan brandstof, en daarom diesel uit ‘n spesifieke klip in Chinhoyi laat kom. Mavhunga het twee beeste en drie buffels as betaling van die regering gekry, volgens Mugabe. Senior lede van die regering het haar ook ‘n kar, ‘n stuk grond en ‘n reuse bedrag geld gegee.
Polisie wat gevra is om haar te arresteer vir bedrog het aanvanklik geweier, bang vir die bonatuurlike kragte wat sy teen hulle sou kon gebruik. Die Registrateur Generaal van Zimbabwe was waarskynlik betrokke by die bedrog, maar nie een van die ander mamparras betrokke in die saak het ‘n verskoning vir hulle liggelowigheid nie.
Die Afrikaanse weergawe van Firefox 3.5 is hier beskikbaar. As jou ouma online is, is dit die browser wat sy behoort te gebruik. Veilig, stabiel, vinnig, verniet. En as dit goed genoeg is vir jou ouma, is dit sekerlik goed genoeg vir die hele familie.
St. Gallen in Switserland het besluit om ‘n straat wat na oud-President Paul Krüger vernoem is, te hernoem na die Switserse skrywer en dramaturg Friedrich Dürrenmatt. Volgens ‘n artikel in Beeld:
Mnr. Theo Buff van die dorp se beplanningsafdeling het gesê die naam is verander “as gevolg van ’n verbintenis met rassisme”. “Binne die destydse konteks kan ’n mens verstaan dat ’n straat na Kruger genoem is, maar dit kan nie meer geregverdig word nie.”
Vreemd hoe die rassisme nie so erg was tydens apartheid nie, maar juis nou ‘n probleem geword het!
Alles is nie net slegte nuus vir Afrikaans nie: die Nieu-Seelandse Christchurch stadsbiblioteek begin ‘n Afrikaanse afdeling. Aanvanklik sal daar maar 250 boeke in die Afrikaanse versameling wees, maar as die belangstelling dit regverdig sal die biblioteek sekerlik die afdeling uitbrei.
[Vir liefhebbers van slegte nuus is daar darem ook altyd 'n toegif: Ook swart mense gee moed op in Sake24 en Jong Afrikaners 'trots én keelvol' in Beeld.]
‘n Ongelooflike nuwe onderskeiding vir Suid-Afrika: weens die hoë vlakke van diefstal deur werknemers van die Poskantoor, het Internet handelaar Amazon besluit om nie meer bestellings per pos na Suid-Afrika te stuur nie. Bestellings uit Suid-Afrika moet nou per koerierdiens afgelewer word, wat volgens Business Day ongeveer R420 by die prys van ‘n DVD las. Suid-Afrika is die enigste land in Afrika waar Amazon so ‘n stap nodig gevind het.
Nou te koop by ons CafePress negosiewinkel, “Ruiter In Die Nag” t-hemde:
Daar hang donker wolke oor die toekoms van Suid-Afrika, en vir een keer is dit nie die gevolg van stygende misdaad en vallende standaarde nie. Volgens die Progress in International Reading Literacy Study van Boston College is Suid-Afrikaanse kinders van 9 tot 10 jaar oud van die slegste lesers in die wêreld. Die studie toets skoliere in die vierde skooljaar se vermoë om verskillende tekste te lees en te verstaan.
Ten-year-olds in Russia, China’s Hong Kong and Singapore show the greatest reading ability among their peers, according to a global literacy study released on Wednesday.
Rounding out the top 10 were Luxembourg, Italy, Hungary, Sweden, Germany, Netherlands and Flemish-speaking parts of Belgium.
The worst performances came from South Africa, Morocco, Kuwait, Qatar, Indonesia, Iran, Trinidad and Tobago, Macedonia, Georgia and Romania.
Nie regtig die soort skoolrapport wat jy wil huis toe vat nie…
Johan Swarts vra ‘n goeie vraag op sy blog:
Daarom, liefste leser, en slegs daarom, wil ek graag drie dinge by jou weet:
- Beskou jy jouself as ‘n Suid-Afrikaner?
- Beskou jy jouself as ‘n Afrikaner?
- Beskou jy jouself as ‘n Afrikaan?
Gee jou antwoord in ‘n self-geadresseerde koevert hier.
My eie antwoorde hierop:
1. Beskou jy jouself as ‘n Suid-Afrikaner?
My paspoort sê ja, my hart sê nee. Jy ondersteun ‘n sekere rugbyspan oor waar jy gebore is, en net so is my Suid-Afrikaanse paspoort die gevolg daarvan dat ek in Pretoria gebore is. Is landsgrense nie net ‘n stuitigheid van mense wat teen hoekpale pie om hulle grond af te baken nie?
2. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaner?
Ja. Nie alle Afrikaners hou van my nie, en ek hou nie van alle Afrikaners nie, maar soos familie is dit nie altyd ‘n keuse nie. Londen is vol Afrikaners wat probeer om nie Afrikaans te wees nie, maar maak dit hulle nie net ‘n subgroep van Afrikaners nie? Hulle kinders sal die kinders van Afrikaners wees, maar waarskynlik self nie Afrikaners nie. Dit vat miskien ‘n geslag of twee om in of uit die klub te wees. My familie is al te lank in, ek sal nie (en wil nie) nou uitklim nie. My kinders sal ook deels Afrikaans wees: Afrikaans praat (met ‘n aksent, neem ek aan), Afrikaans lees, Afrikaans vloek.
3. Beskou jy jouself as ‘n Afrikaan?
Nee. ‘n Westerling in Japan bly ‘n Westerling solank sy gene dit toelaat. Waarom sou my lus om in Afrika aanvaar te word my oornag ‘n Afrikaan maak? ‘n Kontinent is te groot om ‘n koherente groep te vorm, en vir alle praktiese doeleindes is dit op nasionale vlak wat besluite geneem word. Die mans in duur pakke by vergaderings van die Afrika-unie verteenwoordig hul onderskeie lande, en nie Afrika as ‘n geheel nie.
Wie ek wetlik is besluit mense met meer mag as ek. Maar wie ek is as individu, dit besluit net ek.