Parkeerplek In Kaapstad

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Donderdag 8 November 2007 4:27 pm

Koos ry op en af in die strate van Kaapstad, op soek na parkeerplek. Uiteindelik kyk hy radeloos op, bo-oor Tafelberg, en begin bid. “Here, stuur asseblief vir my ‘n parkeerplek, dan gaan ek van nou af elke Sondag kerk toe en twee keer op Kersdag.” Net toe, nie tien meter van Koos af nie, trek ‘n stasiewa met ‘n karavaan uit en los ‘n enorme parkeerplek oop. Koos kyk weer op oor Tafelberg, en sê: “Dis OK dankie, los maar die parkeerplek, ek het sommer self een gekry.”

Taxi Vat Sy Kans

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Donderdag 25 Oktober 2007 2:27 pm

Wat kan ‘n mens sê? Net dat Afrika nie vir sissies is nie?

Taxi Vat Sy Kans

Sien jy vir Jesus?

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Vrydag 7 September 2007 12:55 pm

Na ‘n lang nag in die Akker stap ‘n Stellenboschse student huis toe langs die Eersterivier. Dis Sondagoggend, en ‘n groepie kerkgangers staan in ‘n ry en sing. Die student val instinktief agter in die ry in.

Vooraan staan ‘n lekeprediker halflyf in die water, en doop die mense soos hulle verbykom. Een vir een druk hy hulle koppe agteroor in die water, lig hulle weer op, en vra: “Sien jy vir Jesus?” Die mense se oë blink in ekstase, en elke “ja” word met ‘n koor van “halleluja” begroet. Uiteindelik kom die student ook aan die beurt, en na al die ure in die Akker is dit nie moeilik om sy kop onder die water te kry nie.

“Sien jy vir Jesus?” roep die prediker.

“Nee,” antwoord die student.

Weer druk die prediker sy kop onder die water, hierdie keer met meer oortuiging, lig hom regop, en vra: “Sien jy vir Jesus?”

“Nee,” antwoord die student weer.

Vir die derde keer verdwyn sy kop onder die water, en die prediker wik en weeg duidelik voor hy die bedremmelde student weer ophelp.

“Sien jy vir Jesus?” roep die prediker, hard genoeg om dit duidelik te maak dat hier ‘n regte en ‘n verkeerde antwoord is.

“Verdomp nee, ek sien hom nie!” skree die student terug. “Is jy seker dis hier waar hy ingeval het?”

Brief Uit Boksburg

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Woensdag 1 Augustus 2007 4:01 pm

Dis ‘n ou grap hierdie, en miskien net snaaks as jy bietjie dronk of bietjie eenvoudig is.

Liewe Daantjie

Ek skryf die briefie maar stadig omdat ek weet jy kan nie vinnig lees nie.

Ons bly nie meer op dieselfde plek as toe jy weg is nie. Jou pa het in die koerant gelees dat die meeste ongelukke binne 20 kilometer van die huis af gebeur, toe besluit ons om te trek. Ek kan ongelukkig nie vir jou die adres gee nie want die vorige familie het die nommers saam gevat, seker sodat hulle nie hulle adres hoef te verander nie.

Hierdie plekkie is regtig oulik. Hier is selfs ‘n wasmasjien, ek is nog net nie heeltemal seker hoe hy werk nie. Laas week het ek ‘n bondel klere ingesit en die ketting getrek. Ons het nog nie weer die klere opgespoor nie.

Die weer hierso is ook glad nie sleg nie. Dit het net twee keer gereën laas week; die eerste keer vir drie dae en die tweede keer vir vier dae.

Omtrent daai jas wat jy gevra het ons moet vir jou stuur; oom Frikkie het gese dit sal te swaar wees in die pos, toe sny ons maar die knope af. Hulle is in die linker boonste sak van die jas.

Pietie het gister sy sleutels in sy kar toegesluit. Ons het rerig bekommerd geraak want dit het hom twee ure gevat om my en jou pa uit te kry.

Jou suster het vanoggend ‘n baba gehad, maar ek het nog nie uitgevind wat dit is nie, so ek weet nie of jy ‘n oom of ‘n tannie is nie. Die baba lyk net soos jou boetie.

Oom Wessels het laas week in ‘n vat brandewyn geval. ‘n Paar manne het hom probeer uithaal maar hy het hulle afbaklei en verdrink. Ons het hom laat veras. Hy het vir drie dae gebrand.

Drie van jou vriende het met ‘n bakkie van die brug afgery. Koos het bestuur, hy het sy venster afgedraai en na veiligheid geswem. Jou ander twee vriende het agter op gesit. Hulle het verdrink omdat hulle nie die bak se klap kon oopkry nie.

Daar is nie meer nuus nie. Niks anders as die normale het gebeur nie.

Liefdetjies,

Jou gunsteling tannie Betsie.

NS: Ek wou nog vir jou R25 insit maar ek het al klaar die koevert toegeplak.

Boerecomputer

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Woensdag 6 Desember 2006 3:44 pm

Die blyk dat baie van ons Afrikaanse lesers verward voel deur al die rekenaarterme wat rondwaai. Om dinge makliker te maak, hier is ‘n kort van lys van algemene terme en die Afrikaanse verduideliking:

Monitor – Wat jy doen wanneer jy ‘n oog op die braaivuur hou.
Download – Haal die brandhout van die bakkie af.
Hard drive – Die rit huistoe sonder koue bier.
Keyboard – Waar jy jou bakkie se sleutels hang.
Window – Wat jy toemaak wanneer dit koud is.
Screen – Wat jy toemaak wanneer die muskiete kom.
Byte – Wat die muskiete aan jou doen.
Bit – Wat die muskiete aan jou gedoen het.
Mega byte – Wat die muskiete rondom die Limpoporivier doen.
Chip – Wat jy eet wanneer jy televisie kyk.
Micro chip – Wat in die sak oorbly wanneer die chips klaar is.
Dot Matrix – Oom Jan Matrix se vrou.
Laptop – Waar die kat slaap.
Software – Plastiek messe en vurke van die KFC.
Hardware – Regte messe en vurke van Checkers.
Mouse – Wat die bokse in die tuinhuisie deurkou.
Mainframe – Wat die tuinhuisie regop hou.
Web – Wat spinnekoppe maak.
Website – Die tuinhuisie.
Cursor – Die ou ballie wat so vloek.
Search engine – Wat jy doen as jou bakkie nie wil vat nie.
Yahoo – Wat jy sê wanneer die bakkie uiteindelik vat.
Upgrade – ‘n Styl heuwel.
Server – Die meisie by die kroeg wat die slaai bring.
Mail server – Die ou by die kroeg wat die steaks en slapchips bring.
User – Die buurman wat aanhou om jou goed te leen.
Network – Wat jy doen wanneer jy jou visnet regmaak.
Internet – ‘n Meer ingewikkelde manier om jou visnet reg te maak.
Netscape – Wanneer visse die gat in die net vind na jy dit reggemaak het.
Online – Wanneer sy jou wasgoed uithang.
Offline – Wanneer sy alweer nie genoeg pennetjies gebruik het nie.

 

Teach Yourself Afrikaans Complete Course (book+ CD pack) (Teach Yourself Complete Language Courses) Colloquial Afrikaans Pack: The Complete Course for Beginners (Colloquial Series (Multimedia)) Afrikaans-English/English-Afrikaans Dictionary (Hippocrene Practical Dictionary) Talk Now! Learn Afrikaans - Beginning Level

Radio Sonder Grense

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Dinsdag 31 Oktober 2006 3:37 pm

Fantastiese advertensies van Radio Sonder Grense. Eerlik gesê kom van die beste reklame in die wêreld uit Suid-Afrika, en spesifiek in Afrikaans.

OPGEDATEER: Die videos is almal van YouTube verwyder, vermoedelik omdat iemand gekla het. Die “iemand” kon seker net RSG of die SABC gewees het, want dis mense wat die regte hierop besit. Hoe eenvoudig en agterlik is dit nie? Materiaal wat in die eerste instansie ontwerp is om aan soveel mense moontlik gewys te word, en in die tweede instansie betaal is met die Suid-Afrikaanse belastingbetaler se geld, beland eenvoudig in die asblik van die Internet. As dit nie RSG of die SABC was wat dit laat verwyder het nie, vra ek nederig om verskoning. Maar wie dit ook was, het niemand ‘n guns gedoen nie.

Jannie Boks

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Vrydag 27 Oktober 2006 1:20 pm

Jannie is nege jaar oud, en vra vir sy ma: “Ma, hoe spel mens ‘boks’?”

Jannie se ma weet beter, en sê: “Nee, my kind, die woord ‘boks’ is nie goeie Afrikaans nie, mens sê eerder ‘doos’. Dis D – O – O – S.

Die volgende dag kom Jannie verskriklik suur van die skool af by die huis. Sy ma vra wat fout is.

“Wel, ons moes vir Afrikaans ‘n opstel skryf oor sport, toe skryf ek, ‘Ek hou meer van doos as van rugby’.”

Sluipmoordenaars

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Sondag 6 Augustus 2006 2:11 pm

Die direkteur van die nasionale intelligensiediens besluit dis tyd om ‘n sluipmoordenaar aan te stel, en na ‘n lang administratiewe proses word drie kandidate gekies. Koos, Kallie en Mike dui aan dat hulle wel in die werk sou belangstel, en op ‘n dag moet al drie by hoofkantoor aanmeld. “Daar is een laaste toets,” verduidelik die direkteur.

Koos is eerste aan die beurt. “Koos, jou vrou is in hierdie kamertjie opgesluit. Hier is ‘n pistool, jy moet ingaan en haar doodskiet.” Onmiddelik bars Koos in trane uit. “Ek sou dit nooit kon doen nie,” grens hy. “Ek is gans te lief vir my vrou.”

“Dan is jy nie die geskikte kandidaat vir die werk nie,” besluit die direkteur, en stuur Koos weg.

Kallie is volgende. “Kallie, hier is die pistool. Jou vrou is in die tweede kamertjie opgesluit. Jy weet wat jy moet doen.” Kallie verwyn in die kamertjie, maar na ‘n minuut kom hy weer uit. “Ek kon dit nie doen nie,” erken hy.

“Dan is jy ook nie die geskikte kandidaat vir die werk nie,” antwoord die direkteur, en stuur Kallie weg. Net Mike bly oor.

“Goed dan Mike, jy is ons laaste kandidaat. Jou vrou is in die derde kamertjie hier toegesluit. Vat hierdie pistool en skiet haar.”

Mike verdwyn in die kamertjie, ‘n skoot klap, en dan bars ‘n afskuwelike lawaai los. Twee minute later kom Mike weer tevoorskyn, sy klere is geskeur en bloed stroom uit ‘n sny in sy voorkop.

“Mike, wat het gebeur?” wil die direkteur weet.

“Nee hel,” kla Mike. “Hierdie bleddie pistool van jou is met blanks gelaai. Ek moes die ouvrou met ‘n stoel doodslaan!”

Bierbril

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Vrydag 12 Mei 2006 10:17 pm

Sy sê ek mag nie meer bier koop nie, dit kos te veel. Toe spandeer sy R300 op grimering. Ek vra toe hoekom moet ek bier opgee, maar sy gee geld uit aan grimering.

“Die grimering laat my mooi lyk vir jou,” sê sy.

“Dis waarvoor die bier was,” sê ek.

Ek dink nie sy kom terug nie.

Die Mediese Student

Geskryf deur Anton Raath | Humor | Woensdag 18 Januarie 2006 2:21 pm

‘n Dokter en ‘n groep mediese studente doen hul rondtes. “Soos julle kan sien,” verduidelik die dokter, “loop die pasiënt mank omdat sy linker fibula en tibia beseer is.” Die dokter draai na een van die studente en vra, “Wel, wat sou jy gedoen het?” Die student dink ‘n oomblik en sê, “Nee, seker maar ook mank geloop het.”

« Vorige BladsyVolgende Bladsy »