Historiese Nederlandse Taalkunde

Geskryf deur Anton Raath | Geskiedenis, Lage Lande, Taalkunde | Donderdag 29 Oktober 2009 11:24 am

‘n Fees vir filoloë, leksikograwe en ander woordvreters: drie historiese Nederlandse woordeboeke is nou online beskikbaar, met ‘n vierde wat binnekort volg. Die drie wat reeds danksy die Instituut voor Nederlandse Lexicologie beskikbaar is, is:

  • * Oudnederlands Woordenboek
  • * Vroegmiddelnederlands Woordenboek
  • * Woordenboek der Nederlandsche Taal

Die Middelnederlands Woordenboek word volgens die INL in 2009 nog bygevoeg.

Op Google Books is daar ook ‘n paar interessante boeke vir liefhebbers van historiese Nederlands:

Schatkamer der Nederlandsche Oudheden, deur Ludolf Smids (1774)

Ernstighe Teghen-spraeck Aen de Maeght van Hollandt, Vincent van Drielenburch (1617)

Verhandeling over de vlaemsche spelkunst, Pieter Behaegel (1837)

Al drie boeke is ook as PDF beskikbaar.

Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel in Nederland

Geskryf deur Anton Raath | Kultuur, Lage Lande, Literatuur, Musiek, Poësie | Dinsdag 2 Junie 2009 12:12 pm

Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel sal op 17 Junie 2009 optree by Raakruimtes in Hengelo, Nederland. Meer inligting hieroor is onder “Programma” op die Raakruimtes website.

Koos Kombuis in Lommel, België

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande, Musiek | Woensdag 21 Mei 2008 3:19 pm

Vir dié wat naby genoeg bly, Koos Kombuis tree op Vrydag 23 Mei 2008 om 20:00 in die Zuidpool Kaffee in Lommel, België op (halfpad tussen Antwerpen en Eindhoven, naby die Nederlandse grens). Om seker te wees van plek, kontak die vriendelike mense van die Zuidpool by dezuidpool@hotmail.com of (+32) 0477/765477. Kaartjies kos €8.00.

Babelse Verwarring in Europa

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande, Politiek | Dinsdag 30 Januarie 2007 10:50 am

Baarle-Nassau in Nederland en Baarle-Hertog in België is twee voorbeelde van die komplekse verhouding tussen Vlaandere en Nederland. Of miskien één voorbeeld. So kompleks is dit. Baarle-Hertog bestaan uit 26 verskillende dele, met 22 Belgiese eksklawes in Nederland. (En nee, ek weet ook nie seker of “eksklawe” ‘n regte woord is nie, maar dit sou die teenoorgestelde van ‘n enklawe wees.) Aan die ander kant van die grens is daar sewe Nederlandse eksklawes in België. Die kleinste deel, H22, is maar 2.6km² groot. Die hele geografiese gemors is die gevolg van ‘n reeks middeleeuse verdraë, ooreenkomste en ruiltransaksies tussen die Hertoë van Brabant en die Here van Breda.

Miskien is dit ‘n aanduiding van hoe ouderwets die konsep van ‘n nasiestaat in Europa is. Is die mense van hierdie streek werklik so verskillend dat hulle verskillende regerings nodig het? Of maak dit meer sin om ‘n plaaslike verteenwoordiger op ‘n Europese vlak te hê? ‘n Europese Parlement met demokraties verkose verteenwoordigers maak sekerlik meer sin as die Babelse verwarring en vriendjespolitiek waaruit die Europese Parlement vandag bestaan.

 

Understanding the European Union: A Concise Introduction, Third Edition (European Union) The European Union: Readings on the Theory and Practice of European Integration The European Union: How Does It Work? (The New European Union Series)

Wikipedia in Wes-Vlaams

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Woensdag 15 November 2006 6:20 pm

Die oop ensiklopedie Wikipedia bestaan alreeds vanaf 2001 in Afrikaans, en het op die oomblik byna 6,000 artikels. Maar nou is daar ook ‘n Wes-Vlaamse uitgawe van die Wikipedia, met iets meer as 700 artikels. Alles wat jy ooit wou weet oor “Eule” (“es een dêelgemêente van Kortrik”), Zeeuws-Vlaandere (“is nu e stik van Olland”) of, almal se gunsteling, “Friet’n”:

Frietn zien in stoafkes gesneen patattn die in frietvet gebakk’n zien. Frietn zien vree populair en typisch voe Belgje. Ip stroate kuj doa vele frietkoten vien.

“Friet’n” is veral gewild in België, “e parlementaire, costitutionele monarchie an de Nôordzêe. ‘t Grênst te zuden an Frankrik, ten ôosten an Duutsland en Luxemburg, en ten noorden an Olland. In’t Westen is er nie echt e gebeur, mo wel de Noordzee. Achter ‘t woater ligt Iengeland.” En daar het jy dit.

 

Sien ook Die Lae Lande in perspektief: ‘n beknopte beeld van tien eeue Nederland en Vlaandere.

Kasteel van Horst

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Woensdag 11 Oktober 2006 4:56 pm

Miskien die mooiste kasteel van België, was die Kasteel van Horst (digby Leuven) vroeër veral bekend as die tuiste van die stripheld De Rode Ridder. Onlangs is die kasteel “herontdek” en opgeknap, en die resultaat is skitterend.

Vir meer foto’s van die kasteel, sien my versameling op Flickr.

 

Helmut Lotti: from Belgium's Cleydael Castle Jacques Brel Is Alive and Well and Living in Paris Walking in the Ardennes

Nuwe Spelling In Nederlands

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande, Taalkunde | Donderdag 3 Augustus 2006 8:45 am

Op 1 Augustus 2006 het die mees onlangse veranderinge in Nederlandse spelling amptelik geword. Die “Groene Boekje“, soos die Woordenlijst Nederlandse Taal informeel bekend staan, is die bybel van Nederlandse spelling en taalreëls.

Die nuwe spelreëls is nie oral ewe gewild nie, en ‘n aantal Nederlandse koerante, tydskrifte en minstens een publieke omroep het beloof om die nuwe reëls nie te gebruik nie. Die praktiese probleme met so ‘n aanpassing van die spelling van algemene woorde is duidelik: alle taalwerkers (joernaliste, redakteurs, kopieskrywers) moet om klokslag middernag oorskakel, en wat gister nog op die skoolbanke as heilig verkondig is word vandag kettery.

‘n Taal sonder vasgelegde taal- en spelreëls is nie meer ‘n regte taal nie, maar die proses sou andersom as dié van die Nederlandse Taalunie moet werk. Mense praat ‘n taal, en dis die taak van die akademici en taalkundiges om die werklik vas te lê, te standardiseer en te omskryf. ‘n Proses waarby die minderheid van akademici en taalkundiges die taal domineer en aan die sprekers voorskryf kan net sleg afloop.

 

Vir die beste Nederlandse verwysing, skaf die Van Dale Concise English to Dutch Dictionary / Van Dale Handwoordenboek Engels / Nederlands aan.

Woordenboek van de Brabantse Dialecten

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Vrydag 2 Desember 2005 1:15 pm

Na meer as 40 jaar werk is die Woordenboek van de Brabantse Dialecten uiteindelik klaar. Professor Toon Weijnen van die Nijmeegs Centrum voor Dialect- en Naamkunde het in 1961 begin met hierdie projek om die streekstaal van Vlaams-Brabant en Antwerpen in Vlaanderen en Noord-Brabant in Nederland behoorlik op te teken.

 

Ansichten Vom Niederrhein, von Brabant, Flandern, Holland, England und Frankreich, in Aptil, Mai und Junius 1790

Nederlands Bly Gewild

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Woensdag 21 September 2005 12:45 pm

Volgens ‘n ondersoek uitgevoer deur die Nederlandse Taalunie is nege uit elke tien Nederlanders en Vlaminge trots op Nederlands, en glo die meerderheid dat Engels nie ‘n direkte bedreiging vorm vir hul taal nie. Meertalige Nederlanders kies wel oorwegend (60%) vir Engels as tweede taal, teenoor ‘n minderheid (43%) Vlaminge.

Windows XP in Fries

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande | Woensdag 24 Augustus 2005 12:44 pm

Microsoft het aangekondig dat hul Windows XP bedryfstelsel nou ook in Fries beskikbaar is. Natuurlik weet ingewydes dat die Linux werkblad-omgewing KDE al lankal nie net in Fries beskikbaar is nie, maar ook Afrikaans. Asof sekuriteit en stabiliteit nie genoeg rede was om na Linux oor te skakel nie, kan jy nou die eg Suid-Afrikaanse Ubuntu Linux gebruik, met jou werksomgewing in Afrikaans. Of Fries, as jy regtig wil.

Volgende Bladsy »