Afrikaanse taal en letteren: een inleidend overzicht
Luc Renders van die Universiteit Hasselt oor Afrikaans as kultuurtaal.
(meer…)
Luc Renders van die Universiteit Hasselt oor Afrikaans as kultuurtaal.
(meer…)
Luc Renders bespreek Joseph Marble se boek Ek, Joseph Daniel Marble.
(meer…)
‘n Essay deur Godelieve Van Geertruyen.
Die wintertuin het hulle dit genoem. Die min mense wat somtyds daar oor die naweke gaan piekniek hou het. Somtyds, want die plek lê baie ver van waar hulle woon, en daar is nie ‘n regte pad wat daarnatoe lei nie.
As jy ver is, dan lyk die plek soos ‘n klompie op mekaar gestapelde groterige klippe, ‘n smal, hoë koppie in die middel van die groot, oop grassavanne. In die reënseisoen skiet die gras meters hoog op en dan moet jy mooi kyk om die koppie nog raak te sien bo die wye, groen vlakte waar die geil olifantsgras waai in die wind. Dis net ‘n klein hoogtetjie wat effens grysgroenerig bo die eindelose grassee uitsteek.
In die droë seisoen verloor die gras stadig-stadig sy mooi groen kleur om groenbruin te word, bruingeel, en dan liggeel tot amper wit. Die lang stengels val plat en skielik lyk die vlakte nog meer verlate, nog wyer, en die wolke wat deur die lug jaag, gooi hulle skaduwees op die gras, donker kolle wat deurentyd hardloop oor die vlakte. In die middel van die verlatenheid, ver van die pad af, staan nou duidelik die donkergrys kliphoop. Nou sien jy pas dat kleinerige boompies op die top staan, soos ‘n kroontjie wat altyd groen bly.
So lyk die plek.
Daar is niks wat die naam wintertuin regverdig nie, nie eers die boompieskroon nie, want dis darem maar ‘n skrale groen kruintjie, geen geil tuin nie.
Daar loop nie ‘n pad na die wintertuin toe nie, net ‘n klomp vae karspore wys vir jou waarlangs vroeëre besoekers gery het. Dis waar jy die pad moet verlaat. Die spore kronkel deur die savannelandskap.
Hoekom hulle nie reguit ry nie bly ‘n raaisel. Dalk is dit omdat hulle die rit langer wil maak, dan is die verrassing groter.
As die motor stilhou langs die koppie sien jy net steil, donkergryse rante. Dis groter, hoër as wat jy gedink het. Dit lyk nou heeltemal na ‘n reuseklip. Maar as jy daar om loop, sien jy die gate. Plek-plek is daar deurgange. Hier is ‘n spleet waar net ‘n maer kind kan probeer om homself deur te wring, daar is ‘n breë, lae skeur waar jy dalk handeviervoet kan deurkruip, maar êrens is daar ook ‘n regte deurgang, ‘n donker tonnel wat effens draai sodat jy die einde nie kan raaksien nie.
Dis waar jy moet wees. Jy loop in die vogtige ruimte in en verby die bog wag die verrassing: die wintertuin.
Lang takke en blare hang voor die uitgang nes ‘n groen gordyn wat jy opsy moet stoot om deur te kan loop. En dan sien jy iets wonderliks: ‘n klein paradys. Dis ‘n sirkelvormige oopte in die hart van die koppie. Alkant rys die klipmure hoog op, maar orals is daar groen, groen, groen… Groen grasse en struike op die grond, klein groen boompies wat uit splete in die klippe groei, plante met breë groen blare en varings wat orals op die rante ‘n plekkie gevind het, en heeltemal bo is die groen kroon. Daar is hang- en kruipplante waar jy ook al kyk, met plek-plek klein blommetjies, wit, blou, en rooi.
Eenkant hang ‘n gordyn van liane af, van bo tot op die grond. Op die grond, tussen die gras en die varings, lê gladde klippe, heerlike sitplekke vir ‘n naweek se piekniek.
Dis altyd groen op daardie plek, ook in die droë seisoen, die tropiese wintertyd. Hoe dit so groei, weet ek nie, maar dalk is dit die hoë klipkring wat vog en warmte vashou en die wind keer, wat skaduwee gee en koelte in die hete reënseisoen, warmte in die koeler, droë seisoen.
Daar het ‘n aparte ekologiese sisteem ontstaan, vasgevang in ‘n klipskoorsteen. Die sonlig val in die skoorsteen en gooi kolle van lig en skaduwee op die grond en op die rante, dit speel-speel tussen die blare wat deurentyd saggies waai en fluister. Dis al wat jy daar hoor, dit, en soms ‘n voël wat opvlieg en skreeu, of ‘n geitjie wat tussen die blare en die klippe wegflits.
Dit lyk soos die Paradys, die groen, die vredige rus, die stilte…
Jy durf skaars praat by daardie plek, jy voel soos ‘n indringer in die Tuin van Eden.
Maar die wintertuin verberg ook geheime. Eenkant in die klipkring is daar ‘n opening, ‘n donker grot wat jou nuuskierig maak, wat jou aantrek. In die grot is daar links ‘n gat, laag en nie baie diep nie.
Daarbo is ‘n breër gat met ‘n plat vloer, nes ‘n balkonnetjie. Regs is daar ‘n steil opdraande paadjie wat na die balkonnetjie toe lei. Bo, in die middel, het ‘n stuk uit die plafon losgekom en dit lê nou met ‘n punt op die balkon. As jou oë ‘n bietjie gewoond raak aan die skemerlig in die grot sien jy wit kolle daarbo, en ‘n kort wit lyn wat van die stukkende plafon afhang. As jy nader kom, glo jy eers nie wat jy sien nie. Die wit lyn is ‘n been, ‘n menslike skeenbeen wat vasgeklem sit tussen die vloer van die balkon en die plafonklip. As jy met die paadjie opklim tot jou kop bo die vloer uitkom, sien jy wat by die skeenbeen hoort: die volledige skelet van ‘n mens. Hy lê op sy rug met sy arms links en regs van sy lyf. Die linkerbeen lê reguit, die regterbeen verdwyn by die knie onder die stuk wat uit die plafon uitgeval het. Dis die onderbeen van die skelet wat anderkant die klip sigbaar is.
Is dit grillerig? Nie heeltemal nie, maar dit maak jou stil. Hoe lank lê die skelet al in daardie grot? Vyftig jaar? Honderd jaar? Honderde jare? Was dit ‘n man of ‘n vrou, ‘n jongmens of ‘n oumens ? Dit weet jy nie, maar wat jy weet is dat hier ooit ‘n drama afgespeel het, lank gelede.
Wat het die mens hier kom soek? Daar was nooit ‘n dorpie in die omgewing nie. Was dit ‘n jagter wat heeltemal alleen gaan jag het? ‘n Misdadiger wat sy dorp ontvlug het? ‘n Vrou wat haar familie in ‘n verafgeleë dorp wou besoek? Het hy of sy die plek geken of net toevallig gevind? Het hy ook die paradyslike omgewing geniet? Hoekom het hy in die grot ingegaan en op die balkon geklim? Was dit om skuiling te soek teen die reën of ‘n warm slaapplek vir die nag?
Een ding is seker: skielik is die paradys omgekeer in ‘n hel toe die klip uit die plafon losgekom en op sy knie geval het.
Daar het hy gelê, vasgeklem onder die klip, alleen, met geen mens om hom te help nie. Hy sou weet dat daar geen redding vir hom was nie, maar hy het seker geworstel om vry te kom. Hy het geswaai met sy arms, geskop met sy een been, die klip probeer wegstoot… En hy het geskreeu, geskreeu, maar die klipkring het sy skreeue vasgevang. Dae lank het sy hel geduur. Stadig-stadig het sy skreeue minder geword, en toe het hy heeltemaal stil gelê.
Dis nie die son wat die beendere gebleik het nie. Dis die tyd en die gogga’s wat die vleis weggevreet het. Toe het die vredige rus weer- gekeer in die paradysie.
Die hel langsaan die paradys.
Dis soos die lewe, nè?
‘n Kalahari reisbeskrywing deur antropoloog Dr Godelieve Van Geertruyen van Gent:
Al eeue lank is die Kalahari die blyplek van die Boesmans. In die droë woestyn waar ons sekerlik binne ‘n paar dae van die dors en die honger sou vergaan, oorleef hulle met groot tevredenheid. Hulle swerf in klein groepies van bron na bron en hulle weet presies waar hulle eetbare wortels, bessies en blare sal kry of waar hulle kan jag.
(meer…)
Die volgende stuk word herdruk met vriendelike toestemming van Fanie Olivier.
Oor ‘n eiland waar ons Westerse beskawing se klipwieg in die see tussen Europa en Afrika gestaan het, het hy in Afrikaans vertel. En lank voor Robbeneiland hoogmode geword het, het hy die wortels van hierdie eiland voor Afrika oopgeskryf.
(meer…)
Die Vlaamse letterkundige Luc Renders skryf: “Met Rabie breek ‘n tematiese en strukturele revolusie aan wat die Afrikaanse literêre wêreld tot op sy fondamente sal skud”. Rabie se debuutbundel 21 was ‘n waterskeiding in Afrikaans, iets wat in die woorde van sy tydgenoot, vriend en mede-Sestiger André Brink “die loop van die Afrikaanse letterkunde verlê” het.
(meer…)