Ek kry vanoggend in my e-mail een van Casper de Vries se snaakse (maar insiggewende) stukke uit sy blog. Op pad om Madonna in Amsterdam te sien vlieg hy via Londen, net mooi toe — soos hy dit stel — ‘n “paar vaak taap individue [...] beplan om vliegtuie in die lug op te blaas met ‘n potjie vaseline, Colgate en ‘n mp3 player”. Hy som die plesier van ure in die ry by sekuriteit op:
Vir my vlug Amsterdam toe begin die tou vir die sekuriteit al in die parkade. Die ure tik verby. Tick tick tock it’s a quarter to two, I don’t know what to do. Hoe nader ons aan die X-ray masjiene skuifel, hoe meer begin ons klere uittrek, want almal is teen die tyd laat vir hulle vlugte. Terselfdertyd weet ons die beamptes wil alles aan ons fynkam. Met die uittrekkery van baadjies, belde en skoene het ‘n paar mense vir mekaar geloer en telefoonnommers uitgeruil, maar ek was nie so gelukkig nie.
Soos skape by ‘n diphek drom almal saam en druk, want almal is haastig.
Ek vererg my vir die situasie waarin ons almal op die lughawe gedompel is deur ‘n klomp walgworse wat ‘n verwronge issue met die wêreld het. Dink enige iemand werklik dat ‘n ou tannie van 94 in ‘n rolstoel ‘n moontlike suicide bomber kan wees? Hoekom moet sy dan gestripsearch word? Hoekom moet elke liewe kind, man en vrou nou skielik van hoek tot koek ondersoek word? Kom ons wees eerlik en kyk na die feite; die klomp wat die afgelope paar jaar vir die terreurdade in die lug verantwoordelik was, was nog elke keer ektremisties Islamitiese mans. Nog elke liewe keer. En hulle het ‘n spesifieke “look” waarvoor die lughawepersoneel uitkyk. Hulle het daai “X-faktor” , soos Simon Cowell altyd bitch. Of “X-ray” faktor, as mens in lughawelingo wil praat. Hulle lyk beslis nie soos ‘n middeljarige blanke huisvrou uit Essex met boeksakboude en hangtette nie. Maar nee, nou moet ons almal een vir een deur hierdie ritueel gaan sodat dit “PC” lyk. Vir wie show ons af?
Maar as die gevaar eg is, is dit reg dat almal deursoek word. Ook Ouma in haar rolstoel, want as ek dreig om Oupa se Viagra weg te steek sal Ouma enigiets in haar handbagasie dra. Selfs ‘n botteltjie water. Of as Antie Doris ‘n kompetisie wen vir ‘n trip New York toe, hoe gaan sy weet daar is ‘n vals bodem in die oulike geel tas wat sy saamgekry het?
Die realiteit van regte terroriste is dat hulle altyd ‘n ander manier sal vind. Vir elke deur wat jy toemaak, is daar tien deure oop. As jy nie ‘n geweer op ‘n vliegtuig kan kry nie, vat jy plofstof. As jy nie plofstof op ‘n vliegtuig kan kry nie, vat jy ‘n garotte. En as jy absoluut niks op ‘n vliegtuig kan kry nie, blaas jy ‘n trein op. Of ‘n bus. Of ‘n donkiekar in ‘n mark. Maak nie regtig saak wat nie, want donkiekareienaars word net so bang as treinreisigers, en die enigste doel van terrorisme is om mense bang te maak.
Die vraag is of dit reg is dat mense bang is. Is die gevaar eg? Kort antwoord: nee, die gevaar van terrorisme is byna nooit eg nie, want selfs in Bagdad is jou kanse om opgeblaas te word bitter min. ‘n Kans is ‘n kans, natuurlik, maar ek het nog steeds nie die lotery gewen nie, so ek weet kans is nie dieselfde as gebeur nie.
Mense is in elk geval nie bang vir terroriste en hul kanse nie. Mense is bang omdat die regering en die media sê hulle behoort bang te wees. Ek is nie bang vir terroriste nie. Ek is nie bang wanneer ek ‘n jong moslim sien nie. Maar ek is bang wanneer ek by die lughawe is, wanneer klein mensies met groot magte my privaat eiendom en persoonlike lewe mag deurgrawe met latex handskoene. Wanneer ek nie kan onthou of ek daai laaste slukkie water uitgedrink het nie, of ek my naelvyl mooi netjies in my tas toegesluit het nie, of ek die Swiss Army sakmes wat ek al van Standerd 5 af het by die huis gelos het. Dit maak my bang, dit maak my senuagtig, en dit laat my sleg slaap elke keer voor ek moet vlieg.
So wie is die terroriste hier? Die absolute minderheid moslems wat bereid is om te moor vir hul geloof (meestal sonder veel impak of sukses), of die mense wat ‘n werklike impak op my en die algemene publiek het, die regeringsmense met hul donkerbrille en geheime en totale aanslag?
Want veel verskil tussen hierdie mense se gevare en dreigemente en PW se totale aanslag van die jare 80 is daar nie. ‘n Bang bevolking is ‘n gehoorsame bevolking. PW en sy mense het dit nie alles self opgemaak nie, maar hulle het dit definitief aangedik. Want solank ons leef asof daar ‘n totale aanslag bestaan, leef ons onder die reëls van so ‘n totale aanslag. ‘n Absurde aanslag waar botteltjies water en kinders se bababottels die belangrikste wapens is.
Eintlik is dit tyd dat ons, in ware PW styl, ‘n beskuldigende vinger uitsteek en die regte skuldiges agter hierdie terreur uitwys: die regeringsamptenare wat skielik regte mag bo hul eie verwagtings het, die staatsdepartemente wie se begrotings oornag vertienvoudig, en die media wat meer koerante verkoop met elke einde-van-die-wêreld storie. Dis die regte terroriste. As ons die terrorisme hier by sy wortel afsny los dit ‘n handjievol van Casper se “vaak taap individue” wat die wêreld wil opblaas, en ‘n network van polisie- en intelligensiedienste met die vermoë om hierdie mense dop te hou en te keer. Almal doen waarmee hulle goed is, en ek kan weer ‘n bottel water saamvlieg om my lugsiekpille mee te sluk.