Historiese Nederlandse Taalkunde

Geskryf deur Anton Raath | Geskiedenis, Lage Lande, Taalkunde | Donderdag 29 Oktober 2009 11:24 am

‘n Fees vir filoloë, leksikograwe en ander woordvreters: drie historiese Nederlandse woordeboeke is nou online beskikbaar, met ‘n vierde wat binnekort volg. Die drie wat reeds danksy die Instituut voor Nederlandse Lexicologie beskikbaar is, is:

  • * Oudnederlands Woordenboek
  • * Vroegmiddelnederlands Woordenboek
  • * Woordenboek der Nederlandsche Taal

Die Middelnederlands Woordenboek word volgens die INL in 2009 nog bygevoeg.

Op Google Books is daar ook ‘n paar interessante boeke vir liefhebbers van historiese Nederlands:

Schatkamer der Nederlandsche Oudheden, deur Ludolf Smids (1774)

Ernstighe Teghen-spraeck Aen de Maeght van Hollandt, Vincent van Drielenburch (1617)

Verhandeling over de vlaemsche spelkunst, Pieter Behaegel (1837)

Al drie boeke is ook as PDF beskikbaar.

Nuwe Spelling In Nederlands

Geskryf deur Anton Raath | Lage Lande, Taalkunde | Donderdag 3 Augustus 2006 8:45 am

Op 1 Augustus 2006 het die mees onlangse veranderinge in Nederlandse spelling amptelik geword. Die “Groene Boekje“, soos die Woordenlijst Nederlandse Taal informeel bekend staan, is die bybel van Nederlandse spelling en taalreëls.

Die nuwe spelreëls is nie oral ewe gewild nie, en ‘n aantal Nederlandse koerante, tydskrifte en minstens een publieke omroep het beloof om die nuwe reëls nie te gebruik nie. Die praktiese probleme met so ‘n aanpassing van die spelling van algemene woorde is duidelik: alle taalwerkers (joernaliste, redakteurs, kopieskrywers) moet om klokslag middernag oorskakel, en wat gister nog op die skoolbanke as heilig verkondig is word vandag kettery.

‘n Taal sonder vasgelegde taal- en spelreëls is nie meer ‘n regte taal nie, maar die proses sou andersom as dié van die Nederlandse Taalunie moet werk. Mense praat ‘n taal, en dis die taak van die akademici en taalkundiges om die werklik vas te lê, te standardiseer en te omskryf. ‘n Proses waarby die minderheid van akademici en taalkundiges die taal domineer en aan die sprekers voorskryf kan net sleg afloop.

 

Vir die beste Nederlandse verwysing, skaf die Van Dale Concise English to Dutch Dictionary / Van Dale Handwoordenboek Engels / Nederlands aan.

Jan van Riebeeck en Rip van Winkle, Taalgenote

Geskryf deur Anton Raath | Taalkunde | Dinsdag 25 April 2006 4:16 pm

Deur Jeremy Bergerson, University of Minnesota-Twin Cities

Die Burger het, in sy Taalskatkis seksie, op die vyftiende Oktober 2002 ‘n artikeltjie laat verskyn wat op moontlike raakpunte tussen Afrikaans en Amerikaans probeer wys het. Ek wil die konneksie tussen Amerikaans en Afrikaans kortliks bespreek, sowel as ‘n omvattende bibliografie van werke daaroor verskaf. Die skrywer van bogenoemde artikel het die aandag op sekere Afrikaanse en Amerikaanse woorde gevestig en daarvoor afleidings geopper. Sommige van hulle is foutief; byvoorbeeld die kamma-verband tussen dié twee sinnetjies: Jy lieg, man en You’re lying, man. As ‘n mens net ‘n Deen hoor praat, of iemand uit Berlyn, dan word jy getref deur daardie oorgehaalde woordjie man, wat hulle so liefhet. Wil ons dan probeer betuig dat daar ‘n verband bestaan tussen Deens en Afrikaans, of Amerikaans en Berlyns? Seker nie. Dis wel interessant dat Afrikaans en Amerikaans die woord man so dikwels gebruik, maar die feit dat die woord gedeel word onder die twee tale sê niks oor die moontlike oordrag van die een na die ander nie.
(meer…)

‘n Historiese Woordeboek van Afrikaans

Geskryf deur Anton Raath | Taalkunde | Woensdag 8 Maart 2006 3:42 pm

Deur Jeremy Bergerson, University of Minnesota-Twin Cities

Al vanaf die laat neëntiende en die vroeë twintigste eeu al beskik ons oor bronne vir die bestudering van die Afrikaanse woordeskat in historiese verband. J.L.M. Franken, deeglike navorser van Suid-Afrikaanse geskiedenis en gedeë taalkundige, se Gentse proefskrif “Over de Oorsprong van het Afrikaans” (1914) staan bekend as een van die eerste versamelings boustowwe vir ‘n historiese woordeboek van Afrikaans1. Alleen staan hy seker nie; verdere geleerdes wat ons kan noem is G.S. Nienaber, S.P.E. Boshoff, F.J. Snijman, L.C. Eksteen, en boonal J. du P. Scholtz, wat alombekend is vir sy talle waardevolle leksikologiese aantekeninge2. Van hom het ook twee boeke oor die herkoms van Afrikaanse plant- en diername3 verskyn. Hulle dien as onontbeerlik vir die leksikoloog. Scholtz was een van die gesaghebbendste voorstaanders van ‘n historiese woordeboek van Afrikaans, dog laat hy hom só uit (1972:107): “Die tyd het nog nie gekom dat ons ‘n woordeboek van Afrikaans op historiese grondslag kan aanpak nie. Daar sal nog enorm baie materiaal versamel en voorstudies geskrywe moet word.” Dit was in 1972, en dit lyk my daar het sedertdien nie baie verandering aan die beskrewe situasie aangekom nie.
(meer…)